AARDVERWARMING EN ROOIVLEIS: WAT IS DIE FEITE?
Wat sê die kenners oor aardverwarming en die rol wat rooivleis hierin speel? Baie van die syfers en statistieke wat in die internasionale stryd teen die rooivleisbedryf oor aardverwarming gebruik word, word verdraai of is bloot verkeerd, sê prof. Michiel Scholtz, spesialis-wetenskaplike van die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Dierevoeding en -produksie op Irene.
In ’n verslag van die Wêreld- Ekonomiese Forum word beweer 2,4% tot 5% van sterftes wat met diëte verband hou, kan voorkom word as mense ander vorme van proteïene, soos bone en ertjies, pleks van vleis benut. Daarby word gesê beesvleisproduksie is verantwoordelik vir ’n kwart van die kweekhuisgasvrystellings wat met voedsel verband hou, en dat die landbou vir 14% van die wêreld se skadelike gasse verantwoordelik is.
Scholtz sê persentasies maak nie altyd sin nie. In nywerheidslande is die landbou se bydrae tot kweekhuisgasse minder as 6%, bloot omdat die energiesektor se bydrae besonder hoog is. In nie-nywerheidslande kan die landbou se bydrae 40% tot 50% wees, maar die werklike kweekhuisgasse kan baie minder wees as die 6% van nywerheidslande.
“’n Vermindering van 10% in skadelike gasse kan in die energie- en mynbousektor baie meer beteken as ’n vermindering van 10% in die landbou se klein bydrae van net 5%. Iets soos ’n Vleislose Maandag gaan dus nie veel help nie, veral omdat ander proteïene dan verbruik word wat dalk ’n groter koolstofspoor het.”
BELANG VAN VEEBOERDERY
Scholtz meen die belangrikheid van veeboerdery moet nooit onderskat word nie. Die meeste van die wêreld se natuurlike weiding bevat baie vesel. Net herkouers kan hierdie vesel omskakel in proteïene van ’n hoë gehalte, soos melk en vleis. Lewende hawe is die grootste benutters van landbougrond. In Suid-Afrika is 84% van die totale oppervlakte vir die landbou beskikbaar, maar net 13% daarvan is bewerkbaar. Die res is net geskik vir veeboerdery.
Scholtz wys daarop dat die ontbinding van beesmis by ekstensiewe boerdery aërobies is en dat koolstofdioksied én water vrygestel word. ’n Deel van die koolstof word deur omliggende plante opgeneem, en net ’n deel word in die atmosfeer vrygestel.
By intensiewe boerderye in Europa en Noord-Amerika word mis vir lang tye opgeberg. Anaërobiese ontbinding vind plaas, wat metaangas vrystel. Scholtz meen die rol wat die vrystelling van metaangas deur lewende hawe speel, word grootliks oordryf. Die belangrikste kweekhuisgasse is koolstofdioksied (49%), metaangas (18%) en nitraatgas (6%).
“Herkouers dra 21% tot metaangasproduksie by. As ’n mens dus na 21% van 18% kyk, is lewende hawe se bydrae tot kweekhuisgasse minder as 4%.”
Hy meen ook die feit word geïgnoreer dat metaangas, hoewel dit skadeliker is, net 12 jaar in die atmosfeer bly, teenoor koolstofdioksied se 100-200 jaar.
“Die vraag moet ook gevra word wat van natuurlike weiding gaan word as dit nie vir produksie deur vee benut word nie. Dit gaan deur ander diere gevreet word, wat ook metaangas sal vrystel. Dit kan verbrand word, wat koolstofdioksied sal vrystel, of dit kan verrot, wat dan nitraatgas sal vrystel wat 300 keer skadeliker as koolstofdioksied is.”
SYFERS OOR WATERVERBRUIK
Scholtz meen die syfers wat aktiviste oor waterverbruik aanhaal, word ook oordryf. Hy verwys onder meer na ’n syfer van 15 500 liter water wat glo gebruik word om ’n kilogram vleis te produseer. Daar word aangeneem dat dit drie jaar duur om 200 kg ontbeende vleis te produseer. Die waterverbruik word bereken op grond van die besproeiing van aangeplante weiding en reën wat op die plaas val.
In meer realistiese berekeninge sonder ’n verskuilde agenda word die waterverbruik vir rooivleisproduksie geraam op 18 liter/kg tot 540 liter/kg na gelang van die produksiestelsel en bestuur.
Scholtz wys daarop dat natuurlike weiding en gewasproduksie op droëlande sogenoemde groen water benut. Dit is water wat in die grond opgeberg word nadat dit gereën het, en net die plante kan dit benut. Dit is dikwels ook in gebiede wat in elk geval net vir veeboerdery geskik is.
“Die metodes waarvolgens die koolstof- en waterspoor van rooivleisprodukte bereken word, word grootliks gegrond op generiese waardes van lande in die Noordelike Halfrond. Dit maak nie voorsiening vir verskillende produksiestelsels nie.”