‘Bitter’ begroting gaan afhang van beleid:
En waar’s die droogtehulp?
DIE klem op die ontwikkeling van kleinboere en verbetering van infrastruktuur in mnr. Tito Mboweni se begrotingsrede is welkom, maar die groot vraag is of dit behoorlik uitgevoer kan word.
Wat staatsuitgawes op die landbou betref, is R1,8 miljard toegewys vir die deurvoer van 262 voorkeurgrondhervormingsprojekte oor die volgende drie jaar. Altesaam R3,7 miljard is begroot om opkomende boere te ondersteun wat grond wil bekom om op te boer.
Die Land Bank sal kleinboere ondersteun en vennootskappe met ander finansiële instellings bewerkstellig. Die bank beoog om R3 miljard in die volgende boekjaar beskikbaar te stel.
Dr. Tinashe Kapuya, handelsekonoom, se reaksie hierop was om te wonder hoe dié geld bestee gaan word. Alles hang van die uitvoering af. Mnr. Paul Makube, landbou-ekonoom by FNB, het hom gelyk gegee.
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het sy bedenkinge oor die klem op swart bemagtiging in die landbou. “Tot nou toe het almal gesien dit bring nie sukses nie. Gaan daar nou ’n ander uitkoms wees?”
INFRASTRUKTUUR
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se begroting vir die komende boekjaar beloop R7,6 miljard.
Dié departement beoog infrastruktuurprojekte van R768 miljoen oor die volgende drie jaar, met R400 miljoen wat aan die Landbounavorsingsraad (LNR) toegewys is vir die bou van ’n laboratorium waar gekonsentreer sal word op die produksie van ’n entstof teen bek-en-klouseer.
Die laboratorium sal ook gebruik word vir kliniese eksperimente vir die ontwikkeling van ’n breëspektrumentstof teen hartwater, knopvelsiekte, bokpokkies en bokpes.
Die LNR beoog ook om minstens 1 240 boere te ondersteun met diereproduksie, -gesondheid en -verbeteringskemas.
Om die verspreiding van beken-klouseer in die Krugerwildtuin te voorkom, sal R73,4 miljoen toegestaan word vir die oprig van grensheinings.
Oor die komende drie jaar is altesaam R456 miljoen begroot vir die ontplooiing van gekwalifiseerde veeartse en registrasie by die Suid-Afrikaanse Veeartsenyraad onder die program vir landbouproduksie, gesondheid en voedselveiligheid.
Makube en dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by Agri SA, verwelkom die toekenning vir die verbetering van laboratoriums en die ontwikkeling van entstowwe teen die agtergrond van die onlangse bek-en-klouseeruitbreking.
Makube sê die indiensneming van pas gegradueerde veeartse in plattelandse gebiede as deel van hul verpligte gemeenskapsdiens, is ’n gunstige stap. Volgens Wait is dit belangrik dat die staat genoeg hulpbronne en gekwalifiseerde amptenare vir die uitvoering van maatreëls teen die siekte het.
KOSPRODUKSIE
Oor die komende drie jaar word R1,9 miljard bewillig om 145 000 bestaans- en kleinboere te ondersteun, sodat ’n miljoen hektaar grond teen 2030 vir boerdery gebruik word. Verder word beoog om die boereregister teen ’n koste van R51 miljoen te voltooi. Dit geskied onder die Fetsa Tlala-kosproduksie-inisiatief, waarvoor die begroting vir die Ilima/Letsema-program gebruik word.
Een van die oogmerke van Operasie Phakisa is om ondersteuning te bied aan 435 000 bestaansboere oor die driejaarbegro-
‘Tot nou toe het almal gesien dit bring nie sukses nie. Gaan daar nou ’n ander uitkoms wees?’
tingsperiode. Dit sluit in marktoegang vir kleinboere, die herstel van infrastruktuur wat deur vloede beskadig is, droogteverligting, en die herlewing van provinsiale landboukolleges. Altesaam R5 miljard sal deur die omvattende steunprogram vir die landbou hiervoor toegestaan word.
Van die geld moet ook aangewend word vir die werwing en opleiding van voorligtingsbeamptes en die plasing van 1 000 werklose landbou-gegradueerdes op kommersiële plase.
Die departement verwag dat akwakultuur se produksie van 4 000 ton vis vir die huidige boekjaar oor die volgende drie jaar sal styg tot 20 000 ton, en altesaam R137,9 miljoen is hiervoor bewillig.
ESKOM
Die Regering sal jaarliks R23 miljard aan die sukkelende Eskom toestaan, onderhewig aan die aanstel van ’n onafhanklike herorganisasiehoof met die uitdruklike mandaat om die aanbevelings van die presidensiële taakspan oor Eskom in werking te stel. Wait verwelkom dit dat Mboweni die geld nie “as ’n oop tjek” aan Eskom gee nie, maar dit koppel aan sekere vereistes.
DROOGTEHULP
Makube en Wait was teleurgesteld dat droogtehulp nie spesifiek aandag gekry het in Mboweni se toespraak nie.
In die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se begroting is daar egter R65,6 miljoen deur die omvattende steunprogram vir die landbou bewillig om infrastruktuur in die Wes-Kaap, Limpopo en Mpumalanga te herstel wat deur vloede beskadig is.
Vir die sink en oprig van boorgate in verskeie provinsies word R33,6 miljoen bewillig. Die Landbou-ontwikkelingsinstituut Grootfontein in die Oos-Kaap kry R15 miljoen vir die opknapping van infrastruktuur en R10 miljoen vir die bou van waterreservoirs.
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, wys daarop dat die algehele staatsbesteding op landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming ondanks al dié planne steeds marginaal is teen minder as 2% van die algehele begroting.
“Met inbegrip van die huidige ekonomiese beperkinge is daar ’n behoefte aan hoër toewysings in dié sektor om sistemiese kwessies soos biosekerheid, asook navorsing en ontwikkeling aan te pak as ons wil voortgaan om dit te beskou as deurslaggewend vir werkskepping en inklusiewe groei in die Suid-Afrikaanse ekonomie,” sê hy.