Landbouweekblad

Beskerm só jou kernkudde

- AMELIA GENIS

NÁ vele droë jare voer die meeste boere in die Karoo ’n kernkudde van sowat ’n helfte of ’n derde van hul gewone getal teelooie, sê mnr. Gawie van Wyk, produksie-adviseur van die Nasionale Wolkwekers­vereniging op Carnarvon.

“Boere kan ver kom deur hul kernkudde in stand te hou. Teen dié tyd is net die helfte van hul produksie- of teelooie in die kudde oor. Alle ou en sieklike ooie is weggemaak en daar is ontslae geraak van dié wat uierproble­me het, of te klein is, en dié wat nie gelam het nie.

“Die kernkudde is die produseren­de ooie. As die reën kom, moet jy met hierdie ooie binne drie jaar weer jou getal kan bereik.”

Van Wyk sê dis nie onmoontlik om jou kernkudde te behou nie.

“As jy ’n bietjie veld het en nie ruvoer hoef te koop nie, sal jy hulle aan die lewe kan hou, maar jy gaan nie ’n groot wins maak nie. Daar is altyd die koste om hulle te voer.”

Hy sê die diere sal oorleef. As die veld opraak, kan die diere vir ’n “hele rukkie” onderhou word as hulle in kampe by die huis gevoer word. “Dis onderhoud van 150 g voer per ooi per dag. As vir produksie gevoer word, voer jy meer en dan kan dit duur raak.”

Hy sê waar boere reg beplan, voer hulle dragtige ooie 350 g per dag en ’n ooi met ’n lam tot 500 g per dag.

“Jy kan ’n geldjie verdien met ’n ooi of ’n lam in ’n voerkraal. Jy kan ’n ooi onderhou, maar as sy dragtig is of ’n lam het, moet jy meer voer.

“Daar was nog nooit ’n krisis van só ’n groot omvang hier dat boere nie hul kernkudde in stand kon hou nie,” sê Van Wyk.

Volgens sy ondervindi­ng kan boere ver kom met hul kernkudde op bossieveld wat ’n bietjie reën kry.

RUVOERSKEN­KINGS

Van Wyk sê die skenkings wat boere in die droogteget­eisterde gebiede van ander boere of instelling­s kry, is dikwels ruvoer. Boere benut dit deur die voer met ’n hamermeul fyn te maal en melasse by te voeg.

“Die boere kom ver met sjokoladem­ielies. Die skape soek mos eintlik energie.”

As die droogte krisisafme­tings aanneem en boere het nie meer veld nie, hou hulle ’n kernkudde wat net ’n derde van hul oorspronkl­ike kudde is. “Dan voer jy die skape om die huis en moet daar goeie jare ná die reën wees vir veegetalle om te herstel.”

Van Wyk sê ’n mens sal nie sommer ’n boer kry wat nou van al sy vee ontslae raak nie. “Dis nou ons reëntyd. Dit kan môre kom reën.”

As dit egter teen Mei nog nie gereën het nie, sal boere dalk ander planne beraam. Hulle sal nietemin alles in hul vermoë doen om hul kernkudde van goeie diere te behou.

“Dis ’n kudde wat met verloop van tyd opgebou is. As dit eers verkoop is, gaan dit moeilik wees om dieselfde gehalte terug te koop.

“Die skape wat op die mark is, is skape wat ’n ander ou nie wil hê nie.”

Van Wyk sê dit gaan in dié stadium oor produksie.

“As die ooi nog produseer, as sy nog wol groei, of dragtig is, of ’n lam gespeen het, voer die boere nog. Van die boere wat voer, sit ramme by, want die voer is ’n prikkel, maar dis strategies.

“Die boere byt vas. Almal wag, dalk reën dit môre.”

 ?? FOTO: AMELIA GENIS ?? Die Beaufort-Wes-omgewing gaan tans onder kritieke water- en weidingste­korte gebuk.
FOTO: AMELIA GENIS Die Beaufort-Wes-omgewing gaan tans onder kritieke water- en weidingste­korte gebuk.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa