Hoender-tsoenami tref SA
HOENDERVLEISINVOER het verlede jaar ’n nuwe rekordvlak bereik. Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) sê 538 434 ton hoendervleis is verlede jaar ingevoer, wat meer is as die vorige rekord van 528 108 ton in 2016.
Die vereniging se ontleding, gegrond op syfers van die SuidAfrikaanse Inkomstediens, toon dat 19% meer hoendervleis in 2018 ingevoer is as die gemiddelde hoeveelheid wat in die vyf jaar van 2013 tot 2017 ingevoer is.
Verder was die 287 071 ton bevrore stukke aan die been wat verlede jaar ingevoer is, 23,2% meer as dié vyfjaargemiddelde, sê die SAPV in ’n verklaring.
Die invoer van dié snitte berokken die plaaslike bedryf die meeste skade en vernietig Suid-Afrikaanse werkgeleenthede, sê die SAPV.
BRASILIË
Hoendervleisinvoer het in 2017 effens gedaal weens uitbrekings van voëlgriep in die Europese Unie, wat volgens die SAPV ’n groot bron van gestorte hoendervleis is. Invoer uit Brasilië het egter vinnig dié gaping gevul sodat die land die grootste bron van bevrore hoenderporsies én meganies ontbeende vleis geword het. Invoer uit Brasilië het van 241 180 ton in 2015 tot 348 155 ton verlede jaar gestyg, wat 60,5% van die totale hoendervleisinvoer verteenwoordig het.
Die waarde van ál die pluimveeprodukte wat in 2018 ingevoer is, meganies ontbeende vleis ingesluit, was R6 miljard.
“Die voortgesette hoë volumes invoer wys dat die krisis wat die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf in die gesig staar, werklik is, en erger raak. Elke ton invoer verteenwoordig Suid-Afrikaanse werkgeleenthede wat verlore is of nie geskep is nie,” sê mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die SAPV se braaihoenderorganisasie.
“Die SAPV het bereken dat die bedryf 30 000 werkgeleenthede kon geskep het deur hoenderinvoer (met plaaslike produksie) te vervang,” sê Breitenbach.
“Die meedoënlose styging in invoer wys dit is nodig dat die Regering intree en die plaaslike bedryf en die duisende betrokke werkgeleenthede beskerm.
“Ons is ’n doeltreffende bedryf, maar ons kan nie met ingevoerde produkte meeding wat teen laer as produksiekoste gestort word nie of kom van lande met ’n lang geskiedenis van landbousubsidies,” sê Breitenbach.