Op dié skaal maak organiese hoenders wins
Al is die finansiële risiko’s groot om ’n organiese hoenderboerdery aan te pak, boer mnr. Eddie Ferreira met die grootste gemoedsrus in die Sondagsriviervallei. Hy het die regte skaal ontdek, geskikte voer wat aan die hoogste standaarde voldoen, en kan ge
Om organies te boer kom teen ’n prys, maar as jy dit reg aanpak, hoef jou winsmarge nie ten koste van jouself of die verbruiker te wees nie.
Toe mnr. Eddie Ferreira, eierboer op die plaas Moedskepvlakte naby Kirkwoord in die Oos-Kaap, se broer Johnny hom vra om nog ’n organiese vertakking op sy plaas te ontwikkel, het hy nie slaap verloor nie.
Dit was ’n logiese uitbreiding van een van vier internasionaal gesertifiseerde organiese sitrusplase van Soga Organic in die Sondagsriviervallei. Soga Organic se organiese boerderye en verwerkingsaanleg produseer jaarliks nagenoeg 2 000 ton suiwer sap, nie van konsentraat nie, wat uitgevoer word en 6 ton sitrusolie wat aan plaaslike markte verskaf word.
Die 5 000 Lohman Brown-lêhenne wat tussen die lang gras en onkruid tussen die sitrusbome skrop, is ’n belangrike skakel om die organiese boerderysiklus te bevorder.
Oor die besigheid wat hy 18 maande gelede begin het, sê hy: “Dit het vinnig gegroei, en ek leer elke dag iets. Ek moes die kos soek, bemarking en verspreiding behartig . . . Ek moes alles self doen.”
Eddie’s Eggs word tans in die kusgebied tussen Port Elizabeth en Knysna, asook in Johannesburg en Kaapstad verkoop. Afsetpunte is onder meer gesogte restaurante in Port Elizabeth, Humansdorp, Jeffreysbaai, Knysna, Port Alfred en Plettenbergbaai.
Die produksiekoste is hoog en die winsgrens klein, daarom moet jy op groot skaal boer om hierdie soort eierboerdery te laat werk. “Met 1 000 henne gaan jy dit nie maak nie. Op my skaal van 5 000 henne is dit ’n besigheid, maar dit is ook ’n sielerus-leefstyl.”
Tans lewer die boerdery gemiddeld 100 000 eiers per maand, wat Eddie teen dubbeld die prys van dié van batteryhoenders verkoop. “Ek sit nooit met eiers wat nie verkoop nie. Ek wil die henne vermeerder tot 10 000, want daar is nog plek op die plaas.”
’N GOEIE FOUT
’n Toevallige “wiskundefout” wat tot gevolg gehad het dat 30 meter in ’n boord nie deur lêhenne bewei is nie, het gewys hoe belangrik hoenderbemesting vir sitrusboomgesondheid is.
“My pluimveenette is 50 meter lank – twee word aan weerskante van ’n boord, dus
100 meter altesaam – opgeslaan. Dié boord was 130 meter lank en gevolglik het die hoenders nie in die 30 meter in die middel geskrop nie.
“Ses weke later roep Johnny my en wys die hemelsbreë verskil. Daar waar die hoenders nie geloop het nie, was die gras en die bome geel, terwyl die res groen was. Hoewel die sitrusbome natuurlike aanvullings kry, kon jy steeds die verskil in daardie 30 meter sien. Hoendermis bevat baie stikstof, en dis natuurlik stikstof wat ’n plant laat groen raak en groei!”
Benewens die roterende eierkampstelsels in die boorde, word daar van tyd tot tyd kamp in die weiveld opgeslaan.
“Dit gebeur in pluktyd. Een van die vereistes om internasionaal organies gesertifiseerd te wees, is dat daar in die drie maande voor pluktyd nie diere of pluimvee in die sitrusboorde moet wees nie; die hoenders moet dus uit.”
Naby ons sien ’n mens stof trek soos ’n hen haar stofbad geniet. “Hulle is lief daarvoor,” sê Ferreira. “Is dit nie mooi nie? As jy hier rondstap, voel jy goed. Jy hoef nie ’n miljoenêr te wees om goed te voel nie. Ek was ’n miljoenêr, ek het ’n suksesvolle in-en-uitvoeronderneming in Mpumalanga gehad, maar ek was ongelukkig en eensaam.
“Nou is ek gelukkig, en wat my gelukkiger maak, is kliënte se gunstige terugvoering oor die eiers, en oor hoe my hoenders leef.”
100% REKORDHOUDING
Elk van die 16 verskuifbare hoenderhuise het ’n kamp van 1800 m² in die boord en/of weiveld waarin 300 Lohman Browns rondskrop. Elke kamp is met geëlektrifiseerde pluimveenette omhein om roofdiere uit te hou, en sonpanele op elke hoenderhuis se dak voorsien die krag daarvoor.
Valke is ’n probleem, maar Ferreira se beleid is dat die valke ook nou en dan iets moet kry om te eet. “Dit bly darem net sowat een of twee per week.”
Die hoenders lê hul eiers in die huise en oornag daarin. Sononder beweeg die henne na die huise en wanneer die laastes in is, word die deure toegemaak. Sonop word die deure weer oopgemaak.
Om die rekordhouding 100% te help hou, en tussen die henne van die verskillende huise te onderskei, kry elkeen die kleurbandjie van haar huis om ’n poot.
“’n Hoender kan maklik agter ’n kriek of insek aanvlieg en anderkant die pluimveenet beland, dan wys die kleurbandjie in watter kamp sy hoort.”
Vlak by ons pik ’n hoender aan ’n kakiebos. “Die meeste mense haat ’n kakiebos en haal dit uit. Dié hoenders eet dit, en kakiebos is goed vir hul immuunstelsel.”
’n Basterhond staan nader. “Drie honde pas die hoenders op. Ek het hulle by die Port Elizabethse Dierebeskermingsvereniging gekoop nadat ek gevra het vir drie waghonde wat nie hoenders sal pla nie.”
Buiten die honde bly drie personeellede in hul eie woonwaens by die hoenders en help hulle oppas. Hul ander take is versorging, voeding, eiers uithaal en rekordhouding.
OORSKAKELING NA ORGANIES
Eddie het in Augustus 2017 sy GM-vrye eierboerdery met twee hoenderhuise op Johnny se plaas begin.
“Ek het die kans aangegryp. Johnny wou dit nog altyd doen, maar is te besig. Dit het hom tien jaar gekos om van konvensionele kommersiële sitrusboerdery na organies oor te skakel. Ons pa is dood aan kanker, daarna ons suster. Toe Johnny siek raak en amper dood is, het hy besluit hy is klaar met gif en chemikalieë. Die oorskakeling na organies het hom amper sy plaas gekos, maar hy is
daardeur en nou is hy een van vier organies gesertifiseerde sitrusboere in die Sondagsriviervallei.”
Op sy beurt moes hy die “universiteit van hoenderboerdery” betree, sê Eddie laggend. As kind op die familieplaas Wicklow naby Mookgophong (voorheen Naboomspruit) in Limpopo het hy hoenders as stokperdjie aangehou.
Een van sy grootste probleme was om ’n doeltreffende hoenderhuis te ontwerp en te bou. “Ek het na idees gekyk, dit ontwerp en baie boufoute gemaak wat ek moes regstel. Dit kos sowat R100 000 om ’n ordentlike, doeltreffende hoenderhuis te bou.”
In die hoenderhuise is lêneste, ’n groot hoenderstellasie en drupkraantjies, wat deur swaartekrag van die watertenks buite die huis na die rooi kraantjies binne-in herlei word.
“Hoenders hou van ’n rooi of blink ding, hulle is nuuskierig, pik daaraan en dan kom water uit,” verduidelik Ferreira.
Om GM-vrye mielies en soja, asook organies gesertifiseerde mielies in die hande te kry, was nie maklik nie. Wye soekspore deur Afrika, onder meer Malawi en Zambië, waar die verbouing van GM-gewasse verbied word, het hom na die regte produsente gelei.
Hy het ook ’n kontrak gesluit met die Prieska-boer mnr. Bertie Coetzee. “Hy boer in ’n afgeleë gebied. GM-besmetting kan nie gebeur nie en die plaas is organies gesertifiseerd. Bertie het ’n mark vir sy organies geproduseerde mielies en ek het ’n plek waar ek my mielies kan kry.”
Ferreira onthou goed hoe die eerste handelaars gereageer het toe hy die eiers teen ’n veel hoër prys as die deursnee-eier gaan bemark het. “Van die mense het verbaas gevra of die eiers van goud gemaak is.”
Nadat hy aan hulle verduidelik het die hoenders skrop op organiese weiding en kry 100%-gewaarborgde GM-vrye byvoeding, het hulle begin luister. “En as hulle eers die video’s van my hoenders in die boorde of op weilande gesien het, sê hulle sit dit maar op die rak, en dan verkoop dit goed.”
Tog beteken ’n goeie mark nie dat Ferreira kan terugsit en ontspan nie. “Elke jaar is dit ’n groot kapitaaluitleg, want ek moet vooruitbetaal vir al die voer, ook die koopsom
vir die plant van die voer.” Ferreira voer sy hoenders 600 kg per dag.
“Die GM-vrye sojakoek word teen ’n baie hoë prys van Zambië ingevoer – byna dubbeld meer as GM-sojakoek. Organies gesertifiseerde mielies is sowat 200% duurder as konvensionele mielies, en GM-vrye mielies 60% duurder as konvensionele mielies.”
Buiten die aankoop van voer, streef Eddie’s Eggs daarna om plaaslike dienste en produkte te ondersteun. ’n Deel van die padvervoer van die eiers is aan Baaise vervoerdienste uitgekontrakteer, ’n Karooboer lewer die Lohman Browns, en ’n Baaise maatskappy doen die verpakking. “Al die verpakking is van 100% herwonne materiaal.”
DIE BYVOEDING
Die henne se byvoeding is volgens ’n formule van ’n voedingskundige saamgestel uit kalk, lusern, mielies, vitamiene, sonneblom, soja en hawer. Die soja, van Zambië of Malawi, is GM-vry. Die mielies in die rantsoen bestaan uit ’n derde gesertifiseerde organiese mielies en twee derdes is GM-vry.
Die Universiteit van die Vrystaat toets dat die mielies en soja wel GM-vry is voor dit by die rantsoen gevoeg word.
Die voedselrantsoen in sy geheel bevat geen hormone, insek- of onkruiddoders nie.
“Ons skuif elke dag die voerhouers ’n entjie verder in die kamp in sodat die henne oral kan mis. Hoe verder die voerhouers van die hoenderhuise weg is, hoe verder gaan die henne uit en hoe ewerediger word die kamp bemes.”
Die hoenders skrop twee weke op ’n plek, en dan word die huise en kampe na ’n ander boord geskuif.
“Ons het hulle gister van die ander plaas, sowat 5 km hiervandaan, geskuif. Die skuiwery is ’n gedoente, en sowat tien werkers is daarvoor nodig. Teen 06:00 moet die hoenderhuise al by die nuwe staanplek wees sodat die pluimveenette vir die onderskeie kampe opgeslaan kan word. Ons probeer teen 09:00 klaar wees sodat ons die deure kan oopmaak.”
Die voordeel van die skuiwery is dat die hoenders se skropaarde nooit kliphard of kaalgevreet raak nie. Dié rotering hou ook groot voordeel vir die boorde in, want die hoenders pas plaagbeheer organies toe en versprei hul stikstofryke mis eweredig.
SLAGHOENDERS
Op Moedskepvlakte sien jy ook ’n blou, draagbare hoenderhok met sowat 70 hoenders daarin, staangemaak in ’n sitrusboord.
“Dit is ’n eksperiment met vleishoenders. Ons trek dié draagbare hok elke dag ’n entjie verder, sodat die hoenders vars gras, onkruid en goggas kan losskrop.”
Die hok se raamwerk is van PVC-pype en dus lig genoeg vir een mens om te skuif. Reg rondom die hok is versterkte plastiekogiesdraad sowat 30 cm plat op die grond om te keer dat klein roofdiere onderdeur grawe. Die “plastiekflappe” word opgevou voor die hok vorentoe getrek word en afgevou wanneer die hok op sy nuwe plek staan. ’n Dubbelnet is oor die raamwerk gespan om te help keer dat voëls of roofdiere kan inkom.
Die vleishoenders is ses tot agt weke oud. As hulle batteryhoenders was, was hulle al geslag, sê Ferreira.
“Dié hoenders groei stadiger, sonder hormone en antibiotika. Ek wil vasstel wat dit kos om hulle groot te maak en as dit werk, wil ek meer draagbare hokke bou en meer vleishoenders aanskaf.”
GELUKKIGE HOENDERS
Ferreira sê sy hoenders sal nooit die 92%- lêkoers van batteryhoenders haal nie.
“Batteryhoenders leef in ’n konstante temperatuur van ongeveer 21 °C. My henne word elke dag blootgestel aan natuurlike elemente soos hitte, koue, reën, selfs valke. Dit alles raak die hoender se energie en beinvloed dus die eierproduksie.
“My henne se lêkoers wissel van 65% tot 85%, en dit is heeltemal in die haak vir my, want hulle is gelukkige hoenders.”
Wanneer sal hy van die henne ontslae moet begin raak?
“Wanneer die lêkoers van 66% tot 55% begin draai. Omdat rekord gehou word van elke hoenderhuis se lêkoers, sal ek presies weet watter een se henne moet gaan.”
Dit was tot dusver nog nie nodig om van henne ontslae te raak nie, maar as die dag aanbreek, sal hy hulle te koop adverteer sodat hulle hopelik in ’n tuin kan aftree, lag Ferreira. “Ek moet ietsie terugkry vir die lêhenne, dit is deel van my begroting.”
NAVRAE: Mnr. Eddie Ferreira, sel 082 7717434, webblad: farmereddie.co.za; Facebook: Eddie’s Eggs.