Waterslim draakvrug: Hoekom groot boere dit nou begin plant
Suid-Afrika kan die draakvrugmark oorheers, sê mnr. Max van Heerden, ’n kweker wat glo in dié droogtebestande gewas wat teen die vyfde jaar ’n inkomste van R460 000 per hektaar kan lewer. Hy voer uit na van Egipte tot Europa – sonder beperkende kontrakte.
Onortodoks. Dít is waarskynlik die beste manier om mnr. Max van Heerden van Dragonfruit SA se sakebenadering tot sy draakvrugkwekery te beskryf. Hy bemark sy plantmateriaal op snuffelgidsplatvorms, soos Gumtree en OLX, en verkoop dan plantmateriaal oor die wêreld heen sonder enige beperkende kontrakte wat verdere vermeerdering van sy draakvrugplante betref. En dit werk!
Van sy klante is megaboerderye, soos die Al3 Boerdery in Limpopo wat vanjaar sy eerste kommersiële draakvrugte op varsproduktemarkte in SuidAfrika gelewer het, en mnr. Louw de Wet van Robertson in die WesKaap.
Van Heerden verkoop ál sy kultivars onder die oorspronklike kultivarname. Dit staan kopers van sy plantmateriaal vry om hul plante self te bevorder soos hulle wil. Daar is ander kwekerye wat dieselfde kultivars onder handelsmerke geregistreer het, en wat kwekers met streng kontrakte verbied om plantmateriaal te herplant.
Hy gee nie om as boere hul eie plantmateriaal vermeerder om hul boerderye uit te brei nie. Hy versoek egter dat hulle dit nie kweek en verkoop nie. “Boere loop reeds ’n risiko wanneer hulle draakvrugte aanplant. Dit is ’n betreklik nuwe gewas en hulle weet nie regtig wat om te verwag nie. Daarom dink ek ons moet dit eerder in ’n vertrouensverhouding aanpak.”
Van Heerden verkies om by die kultivars se oorspronklike name te hou, want daar is groot volumes data en navorsingsresultate wat reeds vir spesifieke kultivars beskikbaar is in ander wêrelddele. Deur die oorspronk
like kultivarbenoemings te hou, weet kopers waarvoor om te soek as hulle inligting nodig het.
SKOOLGELD BETAAL
Van Heerden moes self baie soek voordat hy die regte kultivars vir Suid-Afrika kon opspoor. Dit was juis met ’n internetsoektog na plantmateriaal dat hy by mnr. Stephen Korpacz van Florida in Amerika uitgekom het. Dié het vir hom ’n paar kultivars gestuur.
“Ek het in 2013 met 30 blare van tien kultivars begin wat Stephen vir my gestuur het.”
Van Heerden het hulle noukeurig vermeerder en deesdae spog hy met 43 kultivars, hoewel nie almal ewe goed in Suid-Afrikaanse toestande presteer nie.
Hy sê baie van die basterkultivars het mooi vrugte, maar hulle is geneig om met bestuiwing te sukkel. Draakvrugblomme het kruisbestuiwing nodig. In die Laeveld van Mpumalanga begin die plante al in Oktober blom en hou aan tot in Mei. By Hartbeespoort, waar die plante heel goed aard, begin hulle egter eers in November blom.
Dit is lesse soos dié wat hy aan die begin van sy proefnemings met draakvrugte geleer het. “Ek het gou gesien hoe ’n klein verandering in verbouingspraktyke ’n groot impak op produksie kan hê. Dinge soos hoe diep ’n mens plant, hoeveel water jy gee en die verskillende plae wat in verskillende provinsies voorkom, maak ’n verskil.”
Van Heerden het begin om ’n verwysingsraamwerk op te bou. Hy het nou saamgewerk met die boere wat op klein skaal plantmateriaal by hom gekoop het. Saam het hulle ’n databasis van probleme en oplossings vir die verskillende kultivars in verskillende streke van Suid-Afrika opgebou. Dit is boere soos die Al3 Boerdery, wat intussen uitgebrei het om kommersiële aanplantings te vestig met boorde wat reeds in produksie is.
Hy het ook sommer vroeg in die proses Dragonfruit South Africa gestig, ’n handelsmerk met ’n webwerf en ’n aktiewe Facebookforum waarop mense inligting kan uitruil. Dit is só suksesvol dat selfs buitelandse kwekers nou al op die Suid-Afrikaanse forum kuier en saamgesels.
Van Heerden het ’n goeie werkverhouding met die Universiteit van Pretoria, wat hom bystaan met toetse wanneer nuwe siektes of plae in van sy kopers se boorde opduik. “Ons kan dus vinnig reageer op enigiets waarvoor ons nog nie antwoorde het nie.”
NUWE VERBOUINGSPRAKTYKE
Draakvrugte is vir ’n lang tyd met ’n sentrale paal en ’n sirkelvormige of vierkantige raam aan die bokant opgelei sodat die blare oor die raam drapeer. Van Heerden sê deesdae word die plante in ’n plantlyn opgelei wat basies soos ’n kraalmuur lyk. Daar is regop paaltjies met drade of latte aan weerskante, waardeur die sentrale stam groei voordat die blare dan oor die draad of latte hang. Deur plante in hierdie rye 500 mm uitmekaar te plant, kan ’n mens meer plante per hektaar plant as
op die ou manier. Hy vertel van ’n Chinese maatskappy wat draakvrugte baie suksesvol op dié manier verbou. Dit laat hom toe om die planthoogte tot sowat 60 cm te beperk, met drie tot vier blare of takke wat uit ’n sentrale stam groei.
Die sambreelagtige plant dra net op die buitenste blare. Die onderste blare beteken dus niks vir produksie nie. Deur nie energie op vegetatiewe groei te mors nie, kan ’n mens groter vrugte kweek, sê Van Heerden.
Hoewel hy op Hartbeespoort woon, het hy ’n blok draakvrugte by Hibberdene waar hy in vennootskap met me. Avril Goldstone plantmateriaal vir Suid-Afrika en die buiteland kweek. In Suid-Afrika verdien Van Heerden sowat R60 per plant, maar in Amerika en Europa verdien hy dubbeld soveel vir elke draakvrugplantjie. Hy voer ook plantmateriaal na Egipte, Slowenië en Turkye uit.
Kopers in hierdie lande verkies om van sy plantmateriaal te koop, omdat hulle al in die verlede bloutjies geloop het met siektes by plantmateriaal uit tropiese lande. “Omdat Suid-Afrika minder reën kry, het ons draakvrugte minder probleme.”
Van Heerden glo daarin om volwasse plantmateriaal wat reeds vruggereed is, aan kopers te verskaf. “Ek glo as jy by my plante koop, moet hulle reeds die volgende jaar vir jou vrugte begin dra.”
Hy sê boere kan reken op vyf vrugte per plant in die eerste jaar. Dan verdriedubbel dit jaarliks tot die plant sy optimale drag in die vyfde jaar bereik. Die draakvrugplant het ’n produksieleeftyd van 25 jaar.
PERFEK VIR KLEINBOERE
Van Heerden meen die draakvrug is die perfekte gewas vir nuwe boere wat met min kapitaal op klein stukkies grond wil begin boer. Die vestigingskoste is die plantmateriaal, wat taamlik goedkoop is, en die opleistelsel, wat nie duur hoef te wees nie.
In Zambië werk hy nou saam met mnr. Geoff Ngangawa, ’n voormalige minister van onderwys. Ngangawa glo draakvrugte kan ’n groot rol as landbougewas in Afrika speel, want dit verg nie groot finansiële insette nie, duur besproeiingstelsels en toerusting is nie nodig nie, daar is min bemestingsbehoeftes, en die plant sien na homself om. Ngangawa beoog om die jeug op te lei om draakvrugte te plant, sodat hulle self die vrugte wat hulle oes en die neweprodukte kan bemark.
“Draakvrugte is uiters geskik vir klein boerderye, soos tipies op die Zambiese platteland. Dit kan winsgewend op selfs minder as 1 hektaar verbou word,” sê Van Heerden.
Daarom wil hy mense in Suid-Afrika met landelike beginnerpakkette aanmoedig om te benut wat hulle in hul omgewing het.
SÓ LYK DIE SOMME
Die plantmateriaal vir opkomende boere kos volgens Van Heerden sowat R30 000 per hektaar en die drupbesproeiing R150 000. Hy beveel drup- eerder as mikrobesproeiing aan, want mikrosproeiers is geneig om roes by plante te veroorsaak, veral in die eerste twee jaar terwyl die plante jonk is.
Met die gewone plantmetode verdien ’n mens sowat R115 000 per hektaar teen die tweede tot derde jaar, en teen die vyfde jaar sowat R460 000 per hektaar per jaar.
Van Heerden meen die groeipotensiaal vir die draakvrugmark is feitlik onbeperk. Die Italiaanse mark wag byvoorbeeld vir Suid-Afrika om genoeg vrugte te produseer vir draakvrugwyn – dit maak glo ’n fantastiese rosé. Daar is egter nog nie genoeg boere wat vrugte kan voorsien sodat Italië dit kommersieel kan bemark nie. Die produksiegebied in Italië is te klein, die vrug kan nie koue verdra nie, en boere sal die mark dus nie maklik kan oorvoorsien van vrugte nie.
Daar is nog nie draakvrugwynmakers in Suid-Afrika nie, maar wel in Maleisië en Mexiko. “Ons kan die mark oorheers as ons wil.”
Van Heerden verskaf vrugte reeds plaaslik aan vervaardigers wat gereedstaan om draakvrugsap te vervaardig. Dit is reeds in sapvorm beskikbaar by groot Checkers-winkels se Diner & Juice Bar-afdeling. Hulle koop die vrug, in blokkies gesny, in 5 kg-sakke aan.
Hy verwys ál die navrae wat hy vir sulke produkte kry, na die boere wat plantmateriaal by hom aangekoop het.