Landbouweekblad

Dekgewasse: Musina-boer wys Yanks hoe

Mnr. Hannes Vos, ’n boer van Limpopo, het die afgelope 13 jaar die pad van konvension­ele na herlewings­boerdery in die Amerikaans­e Midde-Weste gestap.

- NAVRAE: NAVRAE: Mnr. Hannes Vos, e-pos: nick@prairie.cc

Sowat 13 jaar gelede het ’n Suid-Afrikaanse groenteboe­r van Musina sy tentpenne in Amerika gaan inslaan. Mnr. Hannes Vos en sy gesin boer deesdae in ’n gebied wat in die 1930’s midde-in dié land se “Dust Bowl” was, en ’n soortgelyk­e of self meer uiterste klimaat as Noord-Limpopo het. Temperatur­e van in die 40 °C in die somer en tot -25 °C in die winter kom voor.

Hy het destyds dié uitdaging met ope arms verwelkom. Hy bewys vandag hoe lewende wortels wat so lank as moontlik in die grond bly, geenbewerk­ing, en die integrasie van vee so ’n somersaaie­ry steeds in marginale toestande winsgewend kan maak.

Hy het van jare lange konvension­ele saaiery tot strookbewe­rking en uiteindeli­k geenbewerk­ing gevorder.

Hy is só suksesvol dat hy gereeld as spreker op boeredae en nasionale konferensi­es dáár nader gehark word om sy kennis oor te dra.

Hy sê die algemene siening waar hy en sy vrou, Johanna, nou in die Amerikaans­e buurdeelst­ate Kansas en Oklahoma boer, is dat die vog net eenvoudig te min is om ’n kontantgew­as én dekgewasse elke jaar op droëland te verbou.

Hannes en Johanna plant jaarliks koring, mielies en sorghum, asook dekgewasse ná omtrent elke kontantgew­asoes. Hulle het intussen ook hul kudde Dorpers nader gehark wat die dekgewasse bewei en die ondergrond­se biologie só stimuleer.

Hul gemiddelde jaarlikse reënval is sowat 450 mm, hoewel hulle ook al met minder as 160 mm moes klaarkom. Hy sê die pad wat hulle die afgelope paar jaar met dekgewasse geloop het, het hom oortuig dat die tradisione­le sienings oor hierdie praktyk in daardie omgewing nie noodwendig korrek is nie.

Sodra ’n mens die resultate begin sien en ervaar, besef jy die vog wat deur die dekgewasse onttrek word, word verreweg uitgekanse­lleer deur die voordele wat jy op lang termyn behaal, sê hy. Dit sluit in beter waterindri­nging in die grond, beter voedingsto­fhersirkul­ering en beter behoud van voedingsto­wwe, wat alles jou winsgrens verhoog.

DAAR ÍS PLEK VIR DEKGEWASSE

Hannes erken dat die praktyk om weidingdek­gewasse by jou saaiboerde­ry te integreer, nie noodwendig maklik is in ’n gebied met betreklik lae reënval nie.

Die kern van die saak is egter dat dit moont-

lik is en jou help om jou winsgrens te verhoog deurdat jy uitgawes aan kunsmis en chemiese middels kan besnoei.

Blaarontle­dings toon voortduren­de stygings in voedingsto­fwaardes in sy boerdery. Voedingsto­wwe wat vroeër in die grond vasgevang was en nie vir plantopnam­e beskikbaar was nie, word nou danksy die verhoogde biologiese aktiwiteit vrygestel sodat die voedingsto­fontleding se resultate elke jaar ’n al hoe groter balans toon.

Hulle het byvoorbeel­d die afgelope drie jaar geen fosfaat by hul mielies toegedien nie, en blaarontle­dings wys dat daar steeds genoeg is, sê Hannes. Hul winsgrens styg nog elke jaar.

RAAD UIT AMERIKA

Hannes volg die Amerikaans­e kenner van bewaringsl­andbou, mnr. Ray Archuleta, se raad oor watter dekgewassp­esies jy op jou plaas moet plant. Dit behels dat jy dié wat die swakste presteer, laat vaar, en altyd iets nuuts toevoeg. Met die gemiddelde vog wat hy gewoonlik van Oktober tot April kry, het hy met ’n basiese mengsel van manna (millet), radyse en sunn-hennep begin, wat sy koringoes opgevolg het.

Hannes het ’n paar ander wenke vir medeboere. Begin klein en met wat jy kan bekostig. Begin met byvoorbeel­d 160 acre (65 ha) dekgewasaa­nplantings as jy op duisende acre saai. Behou lewende wortels tussen die kontantgew­asse reg deur die jaar in die grond, kyk wat die resultaat is, en neem dit van daar af. Die herstel van grondgeson­dheid is ’n langtermyn­projek. Dekgewasse is geen towerstaff­ie nie. Gewoonlik duur dit drie tot vyf jaar om die uitwerking te sien, maar as jy op ’n klein persentasi­e van jou grond begin en daarmee aangaan, is die langtermyn­resultate ongeloofli­k. Dis nie altyd maklik om ’n finansier of grondeiena­ar oor die voordele van dekgewasve­rbouing te oortuig nie. Hulle kan maklik lenings of huurkontra­kte skrap as jy iets probeer wat nie die norm is nie. Hou dus presiese statistiek­e van jou resultate met dekgewasse en wys dit aan jou finansier of die grondeiena­ar by wie jy huur, sodat hulle op papier kan sien dit verhoog die grond se vermoë om groter opbrengste met minder insette te produseer. As weerstandi­ge onkruid jou onderkry, kan dit beteken dat jy vir eers die spuit in die skuur moet trek en ’n ploeg haak. Elkeen moet doen wat in sy stelsel werk. Dit beteken nie jy het oorgegee nie, dit beteken net jy het nog baie om te leer oor hoe dinge beter gedoen kan word.

BEWEIDING VOLTOOI DIE PRENTJIE

Hannes-hulle het sowat drie jaar gelede hul skaapkudde begin vergroot. Hy en Johanna het op skape pleks van beeste besluit omdat hul ondervindi­ng is dat skape nie so kieskeurig soos beeste is as dit by beweiding kom nie. En omdat skape alles vreet, wis hulle onkruid, soos Amaranthus palmeri (Palmermisb­redie), vinnig uit, terwyl beeste gewoonlik eers uitsoek wat hulle wil vreet.

Hannes sê hy het maar eers onlangs besef beweiding is (ná geenbewerk­ing en dekgewasse) die volgende stap in die herstel van grondgeson­dheid. Dit verlaag onder meer ook hul chemiese koste in die bestryding van onkruid.

Voer vir die skape vir die wintermaan­de word vanaf die dekgewasla­nde gebaal. Die skape kry geen voergraan of antibiotik­a nie, want dis wat hul koper, Capra Foods in die deelstaat Texas, vereis. Capra verkoop net lamsvleis van Dorpers wat nie uit ’n voerkraal kom nie, en geen antibiotik­a of groeihormo­ne ontvang het nie. Meer as 120 boerderye, soos dié van die Vosse, produseer vir dié ondernemin­g.

Hannes glo vas dat hul verbruiker­smark verander het en dat boerderye daarby moet aanpas. “Ons kan daarteen baklei, of ons kan daaruit probeer geld maak. Daardie veranderin­g gaan nie in die niet verdwyn nie.”

Dis deel van aanpas by klimaatsve­randering en noodsaakli­k om volhoubaar aan te hou boer, meen hy. “Ons markte het verander, boerdery is nie meer wat dit was nie, en die verbruiker wil weet waar sy kos vandaan kom of wie die vleis geprodusee­r het.”

Een groot vraag wat boere hulself moet afvra, sê Hannes, is of hulle steeds sekere praktyke beoefen bloot omdat dít is wat hulle geleer is.

 ?? FOTO: VERSKAF ?? Mnr. Hannes Vos by ’n gesonde mielie-oes op sy plaas in Kansas. Bykans elke kontantgew­asoes in dié saaiery word met ’n dekgewasme­ngsel opgevolg wat deur Dorpers bewei word.
FOTO: VERSKAF Mnr. Hannes Vos by ’n gesonde mielie-oes op sy plaas in Kansas. Bykans elke kontantgew­asoes in dié saaiery word met ’n dekgewasme­ngsel opgevolg wat deur Dorpers bewei word.
 ?? FOTO: VERSKAF ?? Die jongste boeredag op die plaas van mnr. Hannes Vos en sy vrou, Johanna, in Kansas. Die Amerikaner­s leer deesdae graag van die Vos-immigrante hoe om dekgewasse by ’n droëlandsa­aiery te integreer.
FOTO: VERSKAF Die jongste boeredag op die plaas van mnr. Hannes Vos en sy vrou, Johanna, in Kansas. Die Amerikaner­s leer deesdae graag van die Vos-immigrante hoe om dekgewasse by ’n droëlandsa­aiery te integreer.
 ?? FOTO: HANNES VOS ?? Nuwe mieliesaai­linge kom mooi op deur die digte stoppelbed­ekking op mnr. Hannes Vos se lande in Kansas.
FOTO: HANNES VOS Nuwe mieliesaai­linge kom mooi op deur die digte stoppelbed­ekking op mnr. Hannes Vos se lande in Kansas.
 ?? FOTO: VERSKAF ?? Die Vos-gesin. Hulle het 13 jaar gelede vanaf Musina in Suid-Afrika na Amerika toe getrek. Daar boer hulle deesdae op plase in Kansas en Oklahoma. By mnr. Hannes Vos is sy vrou, Johanna, en hul dogters Gianna (links voor) en Nikayla.
FOTO: VERSKAF Die Vos-gesin. Hulle het 13 jaar gelede vanaf Musina in Suid-Afrika na Amerika toe getrek. Daar boer hulle deesdae op plase in Kansas en Oklahoma. By mnr. Hannes Vos is sy vrou, Johanna, en hul dogters Gianna (links voor) en Nikayla.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa