Chinese wolverbod ‘nog nie rede vir paniek’
ALLE uitvoer van Suid-Afrikaanse wol na China is gestaak weens die onlangse uitbreking van beken-klouseer in Limpopo.
China is Suid-Afrika se grootste koper en koop ongeveer 70% van alle Suid-Afrikaanse wol.
Volgens mnr. Leon de Beer, bestuurder by die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), word die situasie tans op die hoogste vlak hanteer en is dit reeds aanhangig gemaak by die direktoraat van dieregesondheid en die handelstaakspan wat vroeër deur die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye saamgestel is.
Die veiling wat op 20 Februarie in Port Elizabeth sou plaasvind, is reeds gekanselleer, maar uitvoer na Europa gaan steeds voort. De Beer is vol vertroue dat Suid-Afrika weer die situasie sal kan beredder soos in 2011, toe daar ’n uitbreking in KwaZulu-Natal was.
Mnr. Guillau du Toit, nasionale voorsitter van die NWKV, maan boere om nie paniekerig te raak nie.
“Die omvang is kleiner as wat in 2011 in KwaZulu-Natal die geval was, aangesien dié uitbreking nóg verder van die wolproduserende gebiede gediagnoseer is as destyds,” sê Du Toit in ’n verklaring. Hy voeg by dat daar nie tans ’n oormaat wol is nie en dat die aanvraag steeds goed is.
Volgens mnr. Cobus de Klerk, voorsitter van die Sybokhaarkwekersvereniging, raak dié verbod nie bokhaaruitvoer nie aangesien 90% van bokhaar in Suid-Afrika self verwerk word.
Onsekerheid heers oor die finansiering van die huidige wolproduksie en die opberging van wol op plase wat nog verhandel moet word.
FINANSIERING
Dr. Cobus Oberholster, hoofbestuurder van vee, eiendomme en afslaers by BKB, sê die belanghebbends in die wolbedryf moet nou proaktief optree om oorbruggingsfinansiering vir produsente te reël indien die woluitvoerverbod voortduur.
“Die uitvoerverbod kan ’n week duur, of so lank as ses maande, wat tot groot kontantvloeiprobleme vir die produsente kan lei,” sê hy.
Aangesien wolverhandelings nog tot voor die gekanselleerde veiling voortgegaan het, is die oordragvoorraad in Port Elizabeth onder beheer, volgens hom. “Maar dit kan gebeur dat dié voorraadvlakke nou sal styg.”
Wolprodusente gebruik die inkomste uit hul skeersel om hul finansiële verpligtinge na te kom. “In die afwesigheid daarvan moet hulle bykomende finansiering bekom, óf by handelsbanke, óf as ’n voorskot by landboumaatskappye soos BKB en OVK,” sê Oberholster.
“Ons hanteer die wol as kommoditeit, én die gehaltevlakke daarvan. Dié inligting kan aan banke deurgegee word vir oorbruggingsfinansiering.”