Lang pad lê voor in stryd teen bek-en-klouseer
SUID-AFRIKA is nog nie uit die moeilikheid wat die uitbreking van bek-en-klouseer betref nie.
Baie moet nog gedoen word voordat die land sy bek-en-klouseervrye status sal kan terugkry, sê dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale dieregesondbloedlyne heidsforum.
Hy meen die hele proses om die uitbreking van vroeër vanjaar hok te slaan, verloop tot dusver vlot, en hy hoop dit sal so aanhou. “Op die oomblik kan ek sê ons het die ding onder beheer.”
Vee in die beheersone word
nog daagliks geïnspekteer en ingeënt. Hierdie diere moet bestuur word vir drie maande nadat hulle ingeënt is. “Dit is nie ’n maklike proses nie. Ons moet verskeie faktore in ag neem in hierdie bestuursproses,” sê Vervoort.
Die siektebeheergebied is aansienlik groter as die gebied waarin die uitbreking begin het. Die diere wat in hierdie gebied ingeënt is, moet só bestuur word dat daar geen verdere risiko vir die verspreiding van die siekte is
nie. Daarna kan ’n sone van inperking verklaar word. As daar nie nog diere positief toets in die groter beheergebied nie, kan Suid-Afrika aansoek doen om weer vry van bek-en-klouseer verklaar te word.
Vervoort waarsku egter dat dit eers heelwat later in die jaar ’n moontlikheid sal word. “Intussen maak ons seker dat ons elke dag die regte dinge doen om by hierdie einddoel uit te kom.”
—