DROOGTES 'KORT UNIEKE RAMPBELEID'
’N DROOGTEKOMMISSIE kan tot stand gebring word om in beheer van die land se beleid oor droogte te wees. Die voorstel daarvoor is reeds aan mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, voorgelê.
’n Jaar gelede is ’n komitee van die Nasionale Landboubemarkingsraad belas met die taak om ’n droogteverslag saam te stel wat kwessies rondom die voortslepende droogte moes naspoor én met duidelike voorstelle vorendag moes kom vir ’n slim droogte- en bestuursplan vir landbourampe.
HOLISTIES
Die komitee sê lesse wat ten opsigte van internasionale rampe en rampbestuur geleer is, moet op ’n holistiese manier benader word, en die klem moet eerder op voorkoming en versagting wees as op reaksie en herstel.
’n Organisatoriese struktuur, dus ’n droogtekommissie, is nodig wat samewerking binne en tussen regeringsvlakke en belanghebbendes kan bevorder.
Omdat daar ’n verskil tussen rampdroogtes en ander rampe is, word aanbeveel dat ’n beleid geformuleer word wat uitsluitlik op droogte toegespits is.
Die droogtekommissie moet aan die Regering ’n doeltreffende en stelselmatige benadering bied oor hoe om droogte-omstandighede te bepaal. Die kommissie moet ook ’n aksieplan en versagtingsprogram ontwikkel om droogterisiko’s vooraf aan te pak en opsies te ontwikkel wat ekonomiese stres, omgewingsverliese en maatskaplike pyn gedurende droogtes verminder.
KOMPONENTE
Daar word aanbeveel dat ’n droogte-en-rampfonds en multi-risiko-versekeringsdekking vir die landbou begin word, asook ’n vroeë waarskuwingstelsel om ramprisiko’s te verminder. Vennootskappe tussen die staat en die private sektor moet ook gesmee word.
Die voorstel is dat die Regering en die landbougemeenskap op ’n gelyke grondslag tot die droogte-en-rampfonds bydra. Belastin- gaansporings kan aan die private sektor gebied word vir sy deelname, en die belanghebbendes in die landbousektor sal self moet besluit oor wie die fonds bestuur.
Multirisiko-versekeringsdekking bestaan reeds op internasionale vlak en Suid-Afrika moet dié roete as ’n medium- tot langtermynmaatreël oorweeg. Die komitee meen dit kan aanvullend tot bestaande versekeringsopsies gebruik word, deurdat die Regering ’n bydrae kan lewer in die vorm van versekeringsubsidies.
Die subsidie kan dien as ’n meganisme om die koste van versekeringspremies te verlaag en die bybetaling vir ’n eis te dek. Dit kan ook opgestel word as dekking, deur regeringsteun, vir groot droogtes wat ’n impak het op besproeiingsproduksie, wat nie gedek is onder standaardversekeringsprodukte nie.
’n Vroeë waarskuwingstelsel om ramprisiko’s te verminder moet een van die komponente wees. Die elemente wat so ’n stelsel moet bied, is kennis van die risiko’s, monitering en waarskuwingsdienste, ontleding en kommunikasie van die inligting, en reaksievermoë.
FORUMS
Rakende die vennootskappe tussen die staat en die private sektor word voorgestel dat forums gestig word om die volgende aspekte te bevorder: Waterbesparing; Die ontwikkeling van droogtebestande kultivars tot voordeel van voedselsekerheid; Samewerking met die Regering waar staatsgrond gebruik kan word om hoëgehaltevoer te produseer wat in korrels omskep kan word vir ruvoer; en Die instel van ondersteunende finansieringsterme, insluitend gesubsideerde rentekoerse en verlengings ten opsigte van die kapitaaldelgingsperiode. Mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, sal die voortou neem om te verseker dat die droogteplan toegepas word.
—