Landbouweekblad

STADIG MET DIE LOFPRYSING VAN RAMAPHOSA

-

Ek vind Manie se rubriek in

LBW van 8 Februarie 2019 interessan­t, veral rakende Max du Preez se siening oor grondontei­ening (“Onteiening – die prys om van Zuma ontslae te raak”). Vriend Max se relaas moet maar met ’n knippie sout geneem word, net soos die uwe se briewe ook maar met ’n knippie sout gelees moet word.

Ek moet meld dat ek heelhartig met hom saamstem dat die proses van grondhervo­rming een enorme gemors is weens die redes wat hy so raak beskryf. Dit is weens die onvermoë van die regering, asook bedrog en korrupsie deur die regering en sy amptenary. Die veranderin­g van die Grondwet het egter nie soseer ten doel om die aandag van die Zuma-Gupta-alliansie weg te lei nie. Ons het almal al so gewoond geraak aan die stelery in Suid-Afrika dat ons dit soos ’n chroniese siekte begin dokter het om maar net te probeer oorleef.

Die vernaamste rede vir die veranderin­g van die Grondwet is ideologies van aard, naamlik om die miljoene ANC kiesers iets te gee om na uit te sien, veral omdat hulle verveeld begin raak het met die gematigdhe­id van die regering. Oudpres. Jacob Zuma was tevrede om ongesteurd met sy stelery voort te gaan, en pres. Cyril Ramaphosa het in sy vyf jaar saam met

Zuma daaroor geswyg. Natuurlik is ek, soos Max, oortuig dat enigiemand aan die stuur van sake net beter as Zuma kan wees, maar onse (huidige) president is nie so onskuldig in die grondkwess­ie nie. Hy is ook nie in ’n penarie ingedwing soos wat Max beweer nie. Inteendeel, die wyse waarop Ramaphosa optree en verklaring­s uitreik, laat dit juis lyk asof hy die vader van die idee van grondontei­ening is. Natuurlik altyd met die gepaardgaa­nde paaiery, net soos Max die gehoor op Vinpro se inligtings­dag probeer paai het.

Die klein veranderin­g wat volgens Max aan die Grondwet gemaak gaan word, kan groter gevolge inhou as wat hy wil erken. As die opstokers, populiste en armes, soos hy dit stel, eers bloed geruik het, kan die gevolge baie groter as ’n klein veranderin­g aan die Grondwet wees.

Die president het natuurlik die vermoë om almal wat hy toespreek, aan sy lippe te laat hang, na gelang van wie sy gehoor is. Radikaal op ’n ANC-konferensi­e, dog paaiend en tegemoetko­mend wanneer sakelui en boere na hom luister.

Intussen moet ons wonder oor die meevallert­jie van R500 000 wat deur Bosasa na die president gekanalise­er is. Ramaphosa is vuur en vlam om die kwessie op te klaar deur met die openbare beskermer samespreki­ngs te voer. Se voet, hy moet voor die Zondo-kommissie getuig.

Ek hou veel meer daarvan om my vyand in die oë te kyk as dat my rug deur ’n “vriend” gekrap word wat terselfder­tyd op my skoen piepie. IZAK SMALMAN Potchefstr­oom

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa