DIE ANDE RSÊ
DIE bygewerkte konsep van die geïntegreerde hulpbronprogram (GHP) vir 2019, die land se strategiese plan vir kragverbruik in die komende dekades, toon duidelike tekens van politieke beleidsinmenging en die paai van verskeie belangegroepe deur amptenare van die departement van energie. Die energiekenner mnr. Chris Yelland skryf dié konsepdokumente behoort apolitiese, tegniesekonomiese studies te wees. Beleidsbesluite behoort aan Nedlac en politici oorgelaat te word.
Die dwingendste en belangrikste vraagstuk, om die kritieke ingrype aan die voorsienings- en vraagkant van elektrisiteit vir die komende vyf jaar te identifiseer, word nie in die bygewerkte 2019-konsep-GHP aangeroer nie. Soos die 2018-konsep-GHP, wat vir openbare kommentaar uitgereik is, is daar geen kosteberamings by enige van die voorspelde elektrisiteitsvoorraad-scenario’s nie. Dus kan nóg Nedlac, nóg die kabinet, of inderwaarheid enigiemand, enige van die scenario’s wat uiteengesit word, behoorlik evalueer.
Die jongste dokument se voorspelling van elektrisiteitsaanvraag lyk steeds beduidend te hoog. Aan die ander kant lyk die energiebeskikbaarheidsfaktor wat vir Eskom se stel steenkoolkragsentrales voorspel word, ooroptimisties. ’n Bykomende 750 MW se nuwe steenkoolkragopwekking word in dié dokument geskeduleer, buiten die 750 MW nuwe steenkoolkrag van die onafhanklike Thabametsi- en Khanyisa-kragsentrales wat vir 2023 geskeduleer is.