PLAASVERKOPE ONDERHEWIG AAN DIÉ VERSKYNSELS
Die verskuiwing in plaasgroottes en die sikliese patroon van landboutoestande speel ’n groot rol in die manier waarop landbougrond verhandel word, sê mnr. Johann Bornman, voorsitter van Agri Development Solutions.
“Al die provinsies vaar nie ewe goed of ewe swak nie. Die weste van die land word weens die droogte swaarder getref as die ooste, en dit kom oor ’n langer termyn as net die afgelope jaar,” sê hy.
In 2018 was die totale aantal plaasverkope landwyd 6,7% laer as in 2017, maar vergeleke met die hoogtepunt van 2008 is dit 49,5% laer.
Die aantal hektare wat in 2018
verhandel is, is 11,2% laer as in 2017, maar vergeleke met die hoogtepunt van 2002 is dit 62% laer.
“Dit is veral die Vrystaat, die Noord-Kaap, Noordwes en die droër dele van die Wes-Kaap wat swakker presteer het weens die droogte,” sê Bornman.
“Dit beteken nie dat KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo nie deur droogte geraak is nie, maar dit is ’n ander drooogtepatroon. ’n Mens moet ook in gedagte hou dat dié provinsies se landbouproduksie in ’n groot mate uitvoergedrewe is,” sê Bornman.
Pryspatrone in dié provinsies is stabieler as die ander en vergelyk beter met die droër dele van die land.
Bornman verwag dat pryspatrone in die weste weer sal herstel namate die marksiklus draai. — VIDA BOOYSEN