Wissel middels reg af teen weerstand
In ’n nuwe reeks oor groter veerkragtigheid van gewasse kom beginsels wat groter weerstand takel, onder die vergrootglas. Wissel plaagdoders af, en moet nooit dieselfde middel herhaaldelik gebruik nie.
Die ontwikkeling van weerstandigheid by onkruid en insekplae spruit uit die beginsel van natuurlike seleksie, min of meer soos Charles Darwin dit in 1858 beskryf het. Die titel van Darwin se groot werk, On the origin of species by means of natural selection, or the preservation of favoured races in the struggle for life, is lywig, maar dit beskryf presies wat gebeur by die ontwikkeling van weerstand teen middels vir onkruid-, insek- en selfs siektebestryding op landerye of plase.
Die tweede helfte van die titel, die “bewaring van bevoordeelde rasse in die stryd om lewe”, verwys na rasse van ’n spesie, oftewel groepe individue van ’n bevolking wat ’n unieke eienskap het wat hulle onderskei van die res van die individue in die bevolking. Hierdie groep individue kom tot stand omdat seleksiedruk op hulle toegepas word.
In die natuur kan seleksiedruk enigiets wees wat die voortbestaan van individue strem. Individue wie se genetiese samestelling hulle byvoorbeeld in staat stel om vinnig te hardloop, gaan roofdiere ontwyk, terwyl individue wat stadig hardloop, geëet gaan word.
Só neem die aantal vinnige hardlopers in die bevolking toe, en die moontlikheid dat vinnig hardlopende individue gaan paar, raak ook groter. Dit lei daartoe dat die hele bevolking met verloop van tyd vinniger hardloop as voorheen.
VLAKKE VAN VERDRAAGSAAMHEID
In die geval van onkruid en insekplae is onderskeidelik onkruid- en plaagdoders die seleksiedruk wat die meeste toegepas word.
As ’n boer heeltyd dieselfde plaagdoder gebruik, selekteer hy of sy uiteraard vir individue wat mettertyd die chemiese middel kan weerstaan.
Dié weerstandigheid is nie ’n ding wat by ’n individu gebeur nie; dit is eerder iets wat in ’n bevolking gebeur vanweë seleksiedruk, en dit gebeur mettertyd.
Teen die tyd dat die boer of landboukundige agterkom dat die plaagdoder nie meer so goed werk nie, was die proses (die toepassing van die seleksiedruk) al ’n hele paar produksiejare aan die gang.
Dit is belangrik om te verstaan dat enige bevolking uit ’n reeks individue bestaan wat ’n verskillende mate van verdraagsaamheid teenoor die seleksiedruk (plaagdoder) het.
Na gelang van die intensiteit van die seleksiedruk wat toegepas word, sal verskillende hoeveelhede individue dit oorleef. Dít is as gevolg van die vlak van verdraagsaamheid by die individue.
Dit is ook interessant dat die verspreiding van hierdie verdraagsaamheidsvlakke in ’n bevolking meestal ’n normale verspreidingspatroon volg, dit wil sê daar is min individue wat baie verdraagsaam is, en min wat baie vatbaar is. Die verdraagsaamheidsvlakke van die meeste individue is dus gemiddeld, en nie een van die uiterstes nie.
Dit beteken dat as navorsing oor die regte dosis vir ’n plaagdoder gedoen word, daar gestreef moet word om sowat 95-99% van die bevolking dood te maak. Daar is altyd individue wat sal oorleef, en dit is hierdie individue wat die kern van die nuwe, weerstandige bevolking vorm.
AFWISSELIN GBE LANGRIK
Hoekom word alle bevolkings dan nie weerstandig nie? Die antwoord lê by een basiese beginsel wat op baie maniere uitgedruk kan word. Die basiese beginsel is dat die seleksiedruk op die een of ander manier afgewissel word. In die meeste gevalle waar weerstand opbou, kom dit teen ’n koste – dit word beskryf as ’n “fiksheidskoste” – want daar is bykomende energie nodig om die weerstandstelsel te laat werk.
Ter illustrasie, die dier wat vinniger
kan hardloop, het meer energie nodig om dit te doen. Hy of sy moet dus meer eet.
Die oomblik dat die seleksiedruk beëindig word, is die individue wat nie die aanpassing het nie, energiedoeltreffender in hul daaglikse bedrywighede, met ’n groter kans om te groei en voort te plant – teen ’n laer energiekoste. Op hierdie manier verander die bevolking se eienskappe weer terug na die gemiddelde.
In die geval van ’n insekplaag wat vinnig voortplant, soos plantluise, is die eienskap wat ’n insek die bespuiting met ’n spesifieke insekdoder laat oorleef, gewoonlik energieveeleisend, want daar is bykomende biochemiese prosesse betrokke om die gif te neutraliseer. Dit beteken gewoonlik dat die individue wat die bespuiting kan oorleef, stadiger voortplant as dié wat sonder die bespuitingsdruk voortplant.
Die oomblik as die gebruik van die spesifieke middel gestaak word, vermeerder die “nie-weerstandige” individue weer in die bevolking omdat hulle vinniger kan voortplant.
BETER BEKAMPING
Hoe kan boere hierdie beginsel gebruik om weerstandigheid te takel en selfs te voor- kom? Die antwoord is om plaagdoders af te wissel en nooit dieselfde middel oor en oor te gebruik nie. Dit geld alle middels, van onkruid- tot insek- en swamdoders. Plaagdoders word gegroepeer volgens hul meganisme van werking. Dit is belangrik om te weet watter middels saam gegroepeer word omdat hulle op dieselfde manier werk.
Om ’n middel van een groep af te wissel met ’n ander middel van dieselfde groep en met dieselfde meganisme van werking, gaan nie help om weerstand te voorkom nie. Dié middel moet eerder afgewissel word met ’n ander middel wat ’n ander meganisme van werking het.
Dan sal die natuur se prosesse intree en weerstandigheid voorkom word. En, soos Darwin gemeld het, sal die “bevoordeelde rasse in die stryd om lewe” bewaar word!
Mnr. Andrew Bennett is ’n entomoloog en het die afgelope 20 jaar omvangryke werk op GM-gewasse gedoen. Hy het ’n besondere belangstelling in biotegnologie en ander nuwe tegnologieë wat produktiwiteit en volhoubaarheid ondersteun. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid, en die menings in hierdie artikel is sy eie. Raadpleeg ’n gekwalifiseerde landboukundige vir u persoonlike behoeftes.