Graan SA maak planne vir ’n deursigtiger mark
DIE aanbevelingsverslag wat prof. Matt Roberts, ’n graanmarkkenner van Amerika, oor die liggingsdifferensiaal saamstel, gaan nie al die antwoorde vir die probleme in die plaaslike graanmark bevat nie. Die verslag word teen middel April verwag.
’n Video met terugvoering van Roberts is vertoon op die werkgroepvergaderings tydens die jaarkongres van Graan SA op Nampopark buite Bothaville. Roberts het Suid-Afrika vroeër vanjaar op uitnodiging van die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSE) besoek om onder meer streekvergaderings van Graan SA by te woon en inligting van graanboere in verskillende streke van die land te kry.
Volgens Roberts is die fundamentele spanning rakende die JSE se graantermynmarkte die baie groot gebiede waarbinne verskillende kommoditeite van verskillende waardes gelewer word, en dat die koste by leweringspunte verskil. Hy sê een van die groot knelpunte wat aangepak moet word, is of die mark sal verkies dat enige silo ’n geregistreerde Safex-leweringsilo kan wees, en of daar net 10 of 15
leweringsilo’s moet wees, wat die differensiaalstelsel beperk.
Nog ’n kwessie waaraan Roberts in sy verslag aandag sal gee, is waar die verwysingspunt vir die differensiaal moet wees en hoe dit bepaal moet word. Hy sal ook uitbrei oor die stand van die kontantmark.
NIE GSA SE BESLUIT
Dr. Dirk Strydom, bestuurder van graanekonomie en bemarking by Graan SA, het gesê boere moet onthou Roberts se verslag sal deur Graan SA oorweeg en met al die belanghebbendes bespreek word voordat besluite geneem word. “Sy voorstelle is nie ’n besluit van Graan SA nie.”
Strydom het aan boere van die wintergraanwerkgroep gesê daar moet onder meer besluit word of hulle gemaklik is met minder Safex-leweringsilo’s. “En sal ons gemaklik wees met ’n differensiaal wat in beginsel anders bepaal word? Dit is die vrae wat ons moet beantwoord.
“Die kwessie ter sprake is dat
as ’n Safex-leweringsilo wegval, kan die fisiese mark se prys val, en dan kan jy nie teen Safexprys by dié silo lewer nie.”
Strydom het gesê as net spesifieke silo’s leweringsilo’s is, kan dit ook tot gevolg hê dat ’n boer verder moet ry om sy produk teen Safexprys te kan lewer.
BENUT TEGNOLOGIE
Strydom het die mandate wat vroeër aan Graan SA ten opsigte van die differensiaal gegee is, aan
lede herhaal sodat dit herbevestig kon word.
Die eerste mandaat van Graan SA se lede is dat die differensiaal moet wegval. Tweedens, indien dit nie kan wegval nie, moet gekyk word na ’n ander verwysingspunt as Randfontein vir die bepaling van die liggingsdifferensiaal. Derdens moet pogings aangewend word om die mark deursigtiger te maak.
In dié verband kyk Graan SA se ekonomiespan na ’n teoretiese model om die koste van lewering by alle silo’s saam te stel, sodat ’n boer kan besluit watter opsie vir hom die beste is. Toegang tot alle silo’s se inligting bied egter groot probleme, omdat nie alle silo’s hul inligting beskikbaar wil stel nie. “Ons sal egter deurlopend probeer om die mark deursigtig te kry sodat die kontantmark beter kan werk.”
Mnr. Andries Theron, voorsitter van die werkgroep, het gesê hy verwag nie wonderwerke van Roberts se verslag nie. “Om vorentoe te kan gaan, moet ons konsentreer op dit wat ons as boere kan beheer, soos om die beste tegnologie tot ons beskikking te gebruik en om teen die beste pryse te probeer produseer.”
Die terugvoering van die onderskeie werkgroepe oor sy video sal aan Roberts voorsien word sodat hy dit vir sy verslag in ag kan neem.
‘As ’n Safex-leweringsilo wegval, kan die fisiese mark se prys val.’