Geen vergoeding ‘kan nie verstekposisie wees’
’N KLOUSULE dat geen vergoeding betaalbaar is by die onteiening van grond nie, sal nie deug nie, want daar sál eiendom wees wat vergoeding verdien, meen adv. Tembeka Ngcukaitobi, grondkenner en -aktivis.
Die parlement se ad hoc-komitee wat ’n wysigingswetsontwerp moet opstel om onteiening sonder vergoeding eksplisiet in die Grondwet aan te dui, het kenners se mening ingeroep oor hoe die wysiging daar moet uitsien.
Ngcukaitobi reken ’n grondwetwysiging is nie nodig om onteiening sonder vergoeding toe te pas nie.
Die regskenner adv. Wim Trengove, wat ook ’n voorlegging aan die komitee gedoen het, sê omdat die parlement onderneem het om die wysiging wel deur te voer, het hy hom aan die debat onttrek. Hy meen ’n grondwetwysiging is nie nodig vir die staat om sy grondhervormingsdoelwitte te bereik nie.
BUIGSAAMHEID NODIG
Die kantoor van die grondwaardeerder-generaal het egter uitgewys dat die wysiging oor onteiening sonder vergoeding sy werk makliker sal maak.
Hy het voorgestel dat eiendom wat só onteien moet word, dui-
delik aangedui moet word.
Volgens Ngcukaitobi moet daar wyer gekyk word as net na onteiening sonder vergoeding om grondhervorming suksesvol deur te voer. Hy stel dit duidelik dat die parlement in gebreke gebly het oor die vereiste in artikel 25 (5) en (6) van die Grondwet, dat wetgewing ontwikkel moet word om die herverdeling van grond moontlik te maak.
“Ek glo nie ons kan ’n klousule opstel wat geen vergoeding die verstekposisie maak nie. Ons het steeds buigsaamheid rondom billike en regverdige vergoeding nodig, want daar sal baie plekke wees wat vergoeding verdien.”
Hy reken die besluit of geen vergoeding betaalbaar is nie, moet
aan regters oorgelaat word.
Die grondaktivis het dit ook prontuit gestel dat die staat geld op grondhervorming vermors het.
“Ons het R54 miljard bestee en wat het ons in ruil daarvoor? Net 7% van kommersiële landbougrond.”
VOORSTELLE
Ngcukaitobi het ook ’n voorstel vir ’n wysiging van artikel 25 by die komitee ingedien.
By artikel 25 (2)(b), wat lui: “Onderworpe aan vergoeding waarvan die bedrag en die tyd en wyse van betaling óf deur diegene wat geraak word aanvaar is, óf deur ’n hof bepaal of goedgekeur is”, voeg hy by: “of ’n ander onafhanklike en onpartydige tribunaal of forum wat deur ’n wet van die parlement in die lewe geroep word. Gegewe dat ’n hof of so ’n tribunaal of forum mag bepaal dat geen vergoeding betaalbaar is aan die eienaar van die grond nie, in die geval van onteiening van grond in openbare belang vir die doeleindes van subafdeling (4)(a).”
Subafdeling (4)(a) verwys na die land se verbintenisse tot grondhervorming, en hervorming om billike toegang tot die land se natuurlike hulpbronne te bewerkstellig.
By subafdeling (3), wat die oorwegings van die bepaling van vergoeding uiteensit, stel Ngcukaitobi voor die klousule begin met die woorde “waar vergoeding betaalbaar is”.
Hy voeg ’n sin aan die einde van subafdeling (5) by (sy byvoeging in kursief): “Die staat moet redelike wetgewende en ander maatreëls tref om, binne sy beskikbare middele, toestande te skep wat burgers in staat stel om op ’n billike grondslag toegang tot grond te verkry, met inagneming van die ekonomies ee n maatskaplike omstandighede van die beoogde begunstigdes.”
VERSLAG VOLG
Ngcukaitobi stel voor dat subafdeling (8) as volg verander: “Geen bepaling van hierdie artikel, waaronder die betaling van vergoeding, verhinder die staat om wetgewende en ander maatreëls te tref om grond-, water- en verbandhoudende hervorming te bewerkstellig ten einde die gevolge van rassediskriminasie van die verlede reg te stel nie, op voorwaarde dat enige afwyking van die bepalings van hierdie artikel in ooreenstemming met die bepalings van artikel 36 (1) is.”
Die ad hoc-komitee sal nou ’n tussentydse verslag opstel rakende die voorstelle wat die kenners gemaak het.
‘Daar sal baie plekke wees wat vergoeding verdien.’