Landbouweekblad

As die wind verkeerd waai

Verootmoed­ig jou voor God, en moenie bekommerd wees hoe Hy uitkoms gaan bring te midde van die droogte nie. Hy is die Een wat bewaar, beskerm en sorg.

-

Ek praat onlangs met ’n Kaapse visserman wat ’n bestaan maak uit visvang. Hy is baie moedeloos en sê vir my: “Meneer, die wind waai nou al drie weke aanmekaar. Meneer weet, die wind waai verkeerd. Hy waai die kos uit ons mond uit. Meneer, die vis lê op die banke, maar ons kan nie uitgaan nie. Die geld is op en ons kinders is honger. Meneer, ek staan so magteloos – as die wind net wil draai, sal die vis loop.”

Voordat ek werklik iets kon sê, het die visserman gevra: “Meneer, kan die Here nie iets doen nie? Of gee die Here nie om nie?”

Ek het dadelik aan die brande gedink wat die Suid-Kaap en dele van die Vrystaat geteister het. My plaas in die distrik Trompsburg het in Desember 2018 afgebrand. Ek praat dus nie van hoorsê nie; ek het dit aan my eie lyf gevoel. Vlamme kan verdieping­s hoog brand, oor paaie spring en alles verwoes wat in hul pad kom. Mens en dier vlug, en net ’n swart aarde bly oor. Mense het gebid dat die wind moet draai om die vuur te stuit.

Die knellende droogte wat die Groot- en Klein-Karoo op die oomblik in ’n doodsgreep het, bedreig die oorlewing van mens en dier. Die veld het nie kos nie, en die skape kom met ’n smekende geblêr aangehardl­oop as hulle die bakkie met voer sien aankom. ’n Mens vergeet nooit hoe vinnig ’n sak mielies en ’n baal voer opgevreet kan word nie. Bome, wingerde en lusern kry swaar as gevolg van die weer, en ander verdroog heeltemal. Die boer wat sien hoe mooi die weer opsteek met beloftes van reën, moet keer op keer aanskou hoe die wind die wolke maar net weer wegwaai.

ALLES LOOP VERKEERD

In die verlede het die Karoo al erge droogtes beleef. Die ouers en voorouers van vandag se boere het telkens harde bene gekou. Maar die regerings van destyds was landbouvri­endelik en het soms finansiële bystand verleen. Die risiko’s was veel kleiner as nou.

Dit voel of alles in Suid-Afrika verkeerd loop. Droogtes, vernietigi­ng, korrupsie en staatskapi­ng. Dit herinner aan wat geskryf staan in Rigt. 21:25: “In daardie tyd was daar nog nie ’n koning in Israel nie. Elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.”

’n Swaard van grondontei­ening sonder vergoeding hang oor talle se koppe, en die droogte is besig om mense na hul asem te laat snak en dood te druk. Boere staan met die rug teen die muur. Dis ’n stryd teen die natuur, regering, plaasmoord­e, boerdery-insette en koste wat buitenspor­ig styg. Dit gaan al hoe meer om finansiële oorlewing. Veral kleiner boere se toekoms is op ’n naaldpunt gebalansee­r.

Geen boer kan oorleef ná vyf jaar van droogte en ondergemid­delde reënval nie. Dit is moeilik om staande te bly as koste nie verhaal kan word nie. Die boerdery moet oorleef, gesinne moet versorg word en daar moet kop bo water gehou word. Talle mense se verhale bevestig dat boere besig is om die stryd te verloor in Suid-Afrika.

’n Moedelose radelooshe­id het in gemoede- re begin posvat wat mense se geloof “rysmier” en hulle soos ’n Job van ouds op die ashoop laat sit. Die situasie in die land herinner aan die toneel by die See van Galilea. Jesus se dissipels was vissers, en tydens een van hul uittogte op see het ’n storm opgesteek. Hulle het gekla oor dié krisis, wat tot die verlies van hul boot én moontlik hul lewens kon lei.

Boere is tans in dieselfde situasie indien dié droogte nie breek nie. Finansiële ondergang staar vele in die gesig, en dit waarvoor jare gewerk is, kan in ’n oogwink verlore gaan. Om bloot hieraan te dink, laat jou met ’n gevoel van moedeloosh­eid. Dit beroof jou van jou lewenskrag om gemaklik te bestaan en aan te gaan. Dit is ’n rugbreekty­d vir baie.

MAG OOR DIE WIND EN WEER

Maar wat doen Jesus toe die mense dink hy slaap en gee nie ’n duit om oor wat met hulle gebeur nie? Hy het die wind aangespree­k, en die wind het gaan lê. Ter wille van mense het Jesus die wind laat bedaar. Die stormsee het stil en kalm geword, want Jesus het mag oor die wind, vuur, weer en alles in die lewe.

Weet dat die Here, wat heers oor die wind en die weer, as ongenooide gas teenwoordi­g is en alles ten goede laat geskied. As Meester-skaakspele­r is Hy in beheer, en die laaste skuif altyd Syne.

God se Woord sê in 1 Pet. 5: 5-7: “Onderwerp julle daarom in nederighei­d aan die kragtige hand van God sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommerni­s op Hom, want Hy

sorg v irj ulle.”

In die Bybel is die hand van die Here die simbool van God se krag en almag. Sy hand het die aarde geskep en onderhou dit steeds.

Hy maak Sy hand oop en alles leef; daar is oorvloed en welvaart. Of Hy sluit Sy hand en alles vergaan en is vernietig. Toe die plae van God Egipteland teister, het die Farao uitgeroep: “Dit is die vinger van God.” (Eks. 8:9.) In meer as een plek in die Bybel word vuur gebruik as boodskap van God wat met die mens praat. Dit beleef Israel ook in Deut. 4:11.

“Die berg het gebrand, die vuur was tot in die hemel en daar was ’n rookwolk. Toe het die Here uit die vuur uit met julle gepraat . . .”

Tydens die heerskappy van koning Dawid was daar droogte en hongersnoo­d, en hierin word die hand en die vingers van God gesien (2 Sam. 21:1). Dink aan die tyd toe die Here op versoek van die profeet Elia die hemel gesluit het. Drie jaar en ses maande het dit niks in Israel gereën nie.

Boere sien hoe die weiding wegkwyn tot daar later net sand oor is. Fonteine en spruite droog op, en die gebulk en geblêr van diere maak die eienaars moedeloos. Daar is broodsgebr­ek en mense ly honger en sterf (2 Kron.

7:13-14). As God met Sy hand die hemel sluit, staan die mens magteloos – Sy hand is kragtig, in beproewing en in uitkoms.

ONS GESINDHEID TEENOOR GOD SE HAND

Hoe reageer mense vandag teenoor die hand van die Here? Daar is diegene wat dit heeltemal sal ignoreer. Hulle sien nie God se hand daarin nie, maar beskou dit as die sikliese verloop van die natuur. Hulle vergeet dat God dit steeds beheer – dit is nie maar soos ’n horlosie opgewen en gelos nie.

Daar is ook diegene wat in opstand kom teen die kragtige hand van God. Toe die geselslae van beproewing oor Job val, was sy vrou se raad: Vervloek en sterf. Maar hierdie geloofshel­d het bly glo, en sy geloof is beloon.

Dit voel soms, soos dit ook vir die apostel Petrus gevoel het, of die Here nie hoor nie. Soms is daar ongeloof, moedeloosh­eid, opstand, bitterheid en dosyne vrae. Die mens kan nie teen God se wil en beslissing opstaan nie. Dit is nie moontlik nie.

Wat staan ’n mens te doen? Die Bybel gee die antwoord: “Verneder julle onder die kragtige hand van God.”

Die beproefde mens moet buig en verootmoed­ig wees voor God deur te bely en sy hele hart voor Hom uit te stort. Dis ál wat sal werk.

Maar aan hierdie vernederin­g en verootmoed­iging voor God is daar ook ’n belofte verbind. Die Here se hand verhef ook. Hy slaan nie net nie. Hy genees ook die mens se wonde.

Job is verneder tot op die ashoop, maar tog was sy einde meer geseënd as sy begin (Job 42:12). Josef is as slaaf verkoop en in die tronk gegooi, maar later verhef God hom tot onderkonin­g van Egipte. Selfs Jesus het die weg van smart en vernederin­g geloop. Hy was stom soos ’n skaap voor sy skeerders. Hy het gebuig tot in die stof van Getsemane. Hy is gekruisig as misdadiger. Maar Hy is verhef tot aan die regterhand van God in die hemel.

GOD BRING UITKOMS

God sal op die regte tyd gebede verhoor en uitkoms gee. God se tyd is die regte tyd. Vertrou op Hom vir die toekoms. Moenie op mense se genade staatmaak nie. Luister wat die profeet sê: “Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is baie groot. Ek wil nie in die hand van ’n mens val nie.” (1 Kron. 21:13.)

God laat geen mens alleen in krisistye nie. Daar is ’n heerlike uitnodigin­g uit die hemel: “Onderwerp julle daarom in nederighei­d aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al jul bekommerni­sse op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1 Pet. 5:6-7.)

Getuig soos Dawid in Ps. 16:5: “My tye is in U hand.”

Bring wat op jou gemoed is na die Here. Gooi dit op Sy skouers. Moenie dit weer optel en self dra nie. Die Hemelse Vader beloof dat Hy sal sorg. Moet jou nie bekommer oor hóé Hy dit gaan doen nie. In Sy hande is dit veilig. As die aarde of jou eie middele nie kan sorg nie, sal God manna uit die hemel gee, maar Sy belofte staan vas.

Miskien waai die wind nóú verkeerd, maar moenie paniekerig raak nie. Klou vas aan die Here, wat vashou, beskerm, bewaar en versorg.

Die NG gemeente Prins Albert het in Januarie ’n spesiale dag van verootmoed­iging en gebed gehou. Dié preek het verskeie boere weer laat moed skep, ten spyte van die knellende droogte. Landbouwee­kblad hoop dit bring ook troos aan boere elders in die land wat swaarkr yw eens die droogte. Dr. Gerdrie van der Merwe boer op die plaas Donkerpoor­t, Trompsburg. Hy het op Prins Albert afgelos.

Die Hemelse Vader verseker ons dat Hy sal sorg. Hoe Hy dit gaan doen, is nie ons bekommerni­s nie. In Sy hande is ons veilig.

 ??  ??
 ??  ?? Dr. Gerdrie van der Merwe kniel saam met sy vrou, Suretha, en ds. Johan Botes, wat in die distrik boer. Saam met hulle bid boere vir reën tydens ’n spesiale biduur op Prins Albert. FOTO: VERSKAF
Dr. Gerdrie van der Merwe kniel saam met sy vrou, Suretha, en ds. Johan Botes, wat in die distrik boer. Saam met hulle bid boere vir reën tydens ’n spesiale biduur op Prins Albert. FOTO: VERSKAF
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa