John Devonport: Só bou jy topkudde
Die geoktrooieerde rekenmeester mnr. John Devonport het aanvanklik foute gemaak wat hom baie geld gekos het. Die keerpunt het gekom toe hy hom deur teeldoelwitte laat lei het. Vandag is Devlan Limousins een van die beste beesstoeterye in Suid-Afrika.
Die dag toe die Johannesburgse geoktrooieerde rekenmeester mnr. John Devonport ’n plaas op die oewer van die Vaaldam koop, het hy niks van boerdery geweet nie. Hy wou eintlik die plaas hê sodat hy op die dam kon roei. Eintlik was Devonport gelukkig dat hy die plaas kon koop, want hy het effe laat by die veiling opgedaag. Die bieëry het al begin, maar die afslaer het hom kans gegee om ’n vraag te vra: “Droog hierdie deel van die dam ooit op?” Toe die antwoord nee was, het hy saam begin bie en die plaas gekoop.
“Ek wóú die plaas hê, want ek roei graag. Die Vaaldam sou die regte plek wees en ek kon die lieflike natuur daar geniet,” vertel Devonport van dié gebeurtenis wat hom en sy vrou, Tracey, die eienaars van Water’s Edge gemaak het.
Destyds, in 1988, was R250 000 baie vir 205 ha wat nie behoorlik ontwikkel was nie. Die prys het darem pompe en besproeiingstoerusting van sowat R25 000 ingesluit.
Een van die eerste dinge wat Devonport gedoen het, was om die hele plaas af te brand om van al die gemors ontslae te raak, want dit was eers ’n hengeloord.
Die volgende stap was om die bankbestuurder te gaan sien oor die betaling. Ná ’n koppie tee is hy en sy vrou daar weg met ’n oortrokke gerief van R150 000 op hul tjekrekening. Die res het hulle by Devonport se pa, Norman, geleen.
Devonport het destyds by ’n versekeraar in Johannesburg gewerk en Tracey, ’n onderwyseres wat ’n BA-graad in die regte verwerf het, het hom in sy beroep as finansiële raadgewer bygestaan. Vandag besit hulle hul eie besigheid wat klante van finansiële inligting voorsien, raad gee en beleggings bestuur.
LEER UIT FOUTE
Die onderhoud met Devonport vind plaas in hul huis neffens die Vaaldam, ’n klipgooi van die water waar Limousinbeeste en mak takbokke op die groen gras wei.
Hy het eers met ’n klein Brahmankudde geboer. In 1993 het hy ’n Limousinbul gekoop om die Brahmankoeie te dek om Limbras te teel. Die speenkalwers is as osse grootgemaak en gevoer.
Met sy tweede probeerslag op ’n slagoskompetisie op Vereeniging het hy die eerste plek behaal vir die beste os en groep van vier osse. Hy het die prestasie die volgende jaar herhaal. Die osse is daar vir slagting verkoop.
“Ek was hartseer om al my mooi beeste te laat slag. Toe besluit ek om eerder met stoetteling te begin, maar ek het nie geweet hoe om dit reg te doen nie. Ek het niemand gehad wat my raad kon gee nie. Dus het ek van die begin af foute gemaak, maar só het ek geleer.”
Een van sy foute was toe hy ’n nasionale kampioenbul gekoop het wat onvrugbaar was. Die bul kon nie een van die tien verse wat Devonport saam met hom gekoop het, dragtig maak nie. In 1993 het hy drie Limousinverse gekoop en Devlan Limousins geregistreer. In 1997 het hy die boerdery heeltemal na Limousins oorgeskakel.
STEL DOELWITTE
“Ek het aanvanklik geld verloor en was gereed om handdoek in te gooi,” vertel hy van dié dae toe hy heeltyds in Johannesburg gewerk en deeltyds geboer het.
Toe ontmoet hy mnr. Chris Marais van die Landboukollege Potchefstroom wat hom gehelp het om te leer boer en stoetteling te verstaan. “Só het ek doelwitte begin stel om na te streef.”
Van die lesse wat Devonport geleer het, was hoe om te werk met beeste van gemiddelde raamgrootte op speenouderdom (200 dae), 400 dae, 600 dae en volwasse koeigewig en te selekteer en teel. Die kernboodskap was: As jy vir rasgemiddeldes mik, sal jy sukses behaal. Vergeet van die uitskieters (buitengewoon swaar, groot beeste).
Marais het hom ook van funksionele doeltreffendheid geleer. ’n Bul moet goeie manlikheid, bespiering (die Limousin se sterk punt), bouvorm, teelorgane, skede en loopvermoë hê. Probeer altyd om ’n bul met
goeie breedte, lang spiere, uitstekende diepte en goeie bouvorm te teel. By ’n vroulike dier is vroulikheid, vrugbaarheid, bouvorm, melk, uier en loopvermoë belangrik.
Devonport het dié beginsels begin toepas en merkbaar begin vorder. Sy agtergrond as geoktrooieerde rekenmeester help baie, want teling gaan oor syfers en statistieke. Hy mik deurgaans vir die verbetering van die kudde se vrugbaarheid en genetiese eienskappe.
Hy beskou vrugbaarheid steeds as die belangrikste eienskap. In die laaste winterteelseisoen het 129 van die 130 koeie in dié teelseisoen dragtig geraak. Goeie voeding het ook ’n belangrike rol gespeel. Die Devlankudde spog tans met ’n tussenkalfperiode (TKP) van 372 dae vir die meer as 200 teelkoeie.
Die Limousin is bekend om sy langlewendheid en produksievermoë. Een van die koeie, Devlan Gigolo 0151, is 18 jaar oud en het al 17 keer gekalf. Haar TPK is 367 dae. Nóg ’n stoetkoei, Devlan Highlight 12127, het ná vyf kalwers ’n uiters lae TKP van 320 dae.
AKKURATE BOEKHOUDING
Devonport sê hy probeer om teling so eenvoudig moontlik te hou omdat hy in Johannesburg woon en dus nie altyd op die plaas is nie. “Aan die begin was ek 80% van die tyd in die stad en net 20% op die plaas. Dan het ons van sesuur soggens tot sesuur saans op die plaas gewerk. Ek en Tracey het die lang werkdae geniet omdat ons lief is vir boerdery. Deesdae is ek méér op die plaas omdat Tracey die besigheid so goed bestuur.”
Wanneer hy nie op die plaas kan wees nie, vertrou hy op sy 20 ervare werkers. Hulle behartig alle take; van voeding tot boekhouding. Sy praktiese bestuursrekordhoustelsel stel hulle in staat om met aantekeninge voort te gaan en akkuraat boek te hou van alle aspekte, soos geboortes, voeding en algemene gesondheidsbestuur. Hulle doen ook kunsmatige inseminasie.
Die basis van dié bestuurstelsel is ’n koeikalender wat help met besluite oor dekkings en kalftye. Daarop kan almal sien wanneer elke koei gaan kalf. Hy het ook ’n stelsel van notaboeke waarin twee bestuurders die geboortes, dekkings, wegings, inentings en verkope aanteken.
BOER SAAM MET NATUUR
Devonport werk saam met die natuur. Die teelseisoene wat die plaas die beste pas, is 1 Desember tot einde Februarie wanneer daar baie groen weiding is en die meeste koeie begin Januarie dragtig word, en ’n winterteelseisoen van 1 Junie en tot einde Augustus wanneer die natuurlike weiding met 80 ha aangeplante hawer onder besproeiing aangevul kan word.
Die dragtige koeie word volgens kalfdatum in groepe van 25 ingedeel. Dit vorm dan ook ’n kontemporêre groep kalwers met dieselfde ouderdom.
Dit is soms nodig om ’n koei na ’n ander groep te verskuif omdat sy té na verwant is aan die bul wat in haar groep geplaas word (wat gelukkig min gebeur omdat daar baie groot genetiese variasie in die Devlankudde is), of sy dalk baie rankerig van bou is en eerder saam met ’n bonkige bul moet loop.
Elke koeigroep kry hul eie kamp waar hulle ook ’n lek kry. Die koeie kry ’n vitamienaanvulling en inwendige en uitwendige parasietbehandeling voor en ná hulle kalf.
Nog ’n belangrike bestuursaspek is om die regte teelbulle te selekteer. “Ons doen dit deur hulle sesmaandeliks vir funksionele doeltreffendheid te evalueer, op voorkoms en Breedplanteelwaardes te moniteer en te bestuur en vir geslagsiektes te toets.”
In die somer teel Devonport met ses tot sewe bulgroepe en in die winter met vyf bulgroepe.
Die ses of sewe bulle wat op ’n keer gedurende ’n dekseisoen gebruik word, word spesifiek vir elke koeigroep geselekteer op grond van hoe elkeen by die groep inpas. Dit word volgens verwantskap, teelwaardes en fenotipiese eienskappe gedoen.
Die kalwers word op ongeveer sewe maande gespeen en geweeg. Die koeie word dan ook geweeg. Die verskillende kontemporêre groepe word saam op die veld gehou om genetiese evaluering te doen en vir winsgewende eienskappe te selekteer.
WETENSKAPLIKE METING
“’n Teler moet winsgewende eienskappe meet en sy teeldoelwit daarvolgens ontwerp, byvoorbeeld 50% vir vrugbaarheid, 30% vir groeieienskappe, 15% vir doeltreffendheid en 5% vir gehalte. Dié balans werk vir my en die Limousinras,” sê Devonport.
Die wetenskaplike meting vir vrugbaarheid is daetotkalf (DTK); dus vandat die bul by ’n koei geplaas word totdat sy kalf. Die koeie wat gedurende die eerste paar weke van die dekseisoen dragtig word, is die vrugbaarste. Daarenteen meet tussenkalfperiode (TKP) die dae tussen geboortes en die getal kalwers. As ’n bestuursmeganisme gebruik hy TKP, dae sedert laaste kalf en ouderdom met eerste kalf.
Groeieienskappe word gemeet deur die kalwers met geboorte en op speen (200 dae) en daarna op 400 dae en 600 dae te weeg en die koei vir melk te evalueer.
Doeltreffendheid word gemeet aan die koeie se volwasse gewig en die bulle se netto voerinname. Devonport stuur elke jaar tien bulle na die Landbounavorsingsraad (LNR) se Irenebultoetsstasie om die voerdoeltreffendheid te meet.
Gehalte word op die plaas deur die LNR met skanderings gemeet (vleisopbrengs, tussenspierse vet of marmering, oogspieroppervlakte, rib en dyspiervetdikte en karkasgewig).
Devonport doen ook ’n temperamenttoets. As ’n kalf wild is of uitspring, het hy ’n swak temperament en word uitgeskot.
“Danksy die meet van al hierdie aspekte het ek ’n vyfstertoekenning vir volledige prestasieaantekening van Breedplan verwerf.” Min beesboere in SuiderAfrika behaal vyf sterre.
EMBRIO’S EN KI
Devonport bevorder sy kudde se genetiese waarde met kunsmatige inseminasie (KI) en embriooordraging. Daarvoor gebruik hy die
‘’n Teler moet winsgewende eienskappe meet en sy teeldoelwit daarvolgens ontwerp, byvoorbeeld 50% vir vrugbaarheid, 30% vir groei-eienskappe, 15% vir doeltreffendheid en 5% vir gehalte.’
beste bulle en koeie in sy kudde. Hy koop ook semen van ander toptelers om koppeling tussen kuddes te bewerkstellig, wat ’n belangrikste doelwit van die Suider-Afrikaanse Beesgenomikaprogram is. Dit is die gebruik van voortreflike bulle in kuddes oor die land om teelwaardes met ’n hoër akkuraatheid te bekom.
Die koei Devlan Depth 06-123 het in een jaar die heel eerste prys as die opperste kampioenkoei op die Alfa-interraskomeptisie gewen, asook drie goue bekers op verskillende skoue, en was die nasionale grootkampioenLimousinkoei.
Een van die bulle, La Rhone Hitman LR 0810, wat in 2013 ’n nasionale kampioen was, se semen word gebruik om gespoelde eierselle te bevrug. “Die embrio’s word in ontvangerkoeie oorgeplant. Sodoende word die genetiese vordering van die stoetery versnel.”
Die embriowerk word gedoen deur drr. Neil van Zyl en Johan Coetzer van In Vitro Africa, Parys. Hulle het gedurende die laaste teelseisoen 13 eierselle van Depth met Hitman se semen bevrug en by ontvangerkoeie ingeplant. Agt koeie het dragtig geword, wat as ’n goeie persentasie bestempel word.
Wat KI betref, het Devonport semen van die bul La Rhone Legacy, wat met die hoogste prys van R540 000 vir ’n Limousinbul spog, gebruik om ’n hoë vlak van koppeling tussen Limousintelers in Suid-Afrika te bewerkstellig.
STELSEL VIR VOERVLOEI
Devonport verbou mielies vir graan en kuilvoer en hawer vir drukbeweiding onder spilpunte. Die gewasse word uit die Vaaldam besproei.
Hy plant elke tweede jaar 40 ha mielies aan en gebruik dan die helfte vir kuilvoer, wat genoeg vir twee jaar se gebruik is. Die jare tussenin plant hy net 20 ha mielies vir die graan. Met ’n opbrengs van 12 ton/ha oes hy 240 ton graan, wat hom baie minder kos as wanneer hy dit sou moes aankoop. Hy maal die graan en meng dit met ander bestanddele om op insetkoste te bespaar.
Vir winterbeweiding plant Devonport 80 ha hawer onder spilpunte. In die somer het hy meer as genoeg weiding, maar hy moet die natuurlike suurveldweiding in die winter aanvul. Die beeste kry ook ’n selfgemengde proteïenlek op die veld.
Omdat hy sy eie mielies gebruik en die ander bestanddele in groot maat koop en vermeng, kos die lek hom net R2 500/ton teenoor die gemiddelde prys van sowat R4 000/ton.
Die plaas het gewoonlik oorvloedige groen gras in die somer. Wanneer die Vaaldam se watervlak daal, is daar ekstra groen weiding onder die vrugbare hoogwatermerk wat ook bewei word. “Die plaas en die grond wat ek later bygekoop het, help my dus om weerstand teen droogtes te bied.” Sy grond grens vir 20 km aan die dam.
Die plant- en oeswerk word deur ’n kontrakteur, mnr. Pieter Abrahamse, gedoen. Dus hoef Devonport nie toerusting daarvoor te koop nie. “Ek hou altyd ’n wakende oog oor insetkoste. Hoewel ons ’n suksesvolle finansiële besigheid het, moet die plaas op sy eie bene staan. Ons doen nie kruissubsidiëring tussen die besigheid en die plaas nie.”
SUKSES IN DIE SKOURING
Die Devlanstoetery het in 2018 uitsonderlik presteer deur vier goue bekers en ’n reserwe-gouebekerwenner met vyf verskillende diere op groot skoue op te lewer. Op die 2018-Alfaskou is hy bekroon as die Suid-Afrikaanse vleisbeesskouman.
Die wenners van die goue bekers was Devlan Highlander DL 12-125 (Vryburg en Thabazimbi), Devlan Gabriella DL 11-4 (Letabaskou op Tzaneen), Devlan Effervescent DL 09-35 (Standerton) en Devlan Hearsay DL 12-66 (Bela-Bela), terwyl Devlan Influence DL 13-120 die naaswenner op die Letabaskou was.
In 2016 het Devlan Depth – “ons goue dame” – die goue beker ingepalm op die skoue op Lichtenburg en in Bloemfontein en Pietermaritzburg, asook die interrasprys op die Alfaskou op Parys.
LESSE UIT BEMAGTIGING
In 2014 het Devonport die Kopanang-trust (Together Trust) saam met vyf lojale plaaswerkers as bevoordeeldes gevorm. Twee van hulle is saam met Devonport die trustees.
Die vyf bevoordeeldes het ’n plaas van 171 ha langs die Devlanplase gekoop en dit in die trust geplaas. Die ooreenkoms was dat hulle Devonport se werktuie kon gebruik om hul plaas op te bou.
Ná twee jaar en baie vergaderings het hulle self nog net ’n 150 m-heining om die huis gespan. “Ek was teleurgesteld en het hulle uitgekoop. Die groot les wat ek geleer het, was om nie my waardestelsel op hulle af te dwing nie. Hulle het nietemin hul skuld met dié geld afbetaal of die geld belê, wat goeie besluite was. Een van hulle het ’n huis op Villiers gebou wat hy wil uitverhuur.”
Hy het intussen ’n sake-ooreenkoms aangegaan met een van sy werknemers, mnr. Aqeeb Amla (23), wat ’n gesamentlike bestuurder van die beesboerdery is, waarvolgens Amla 50% van die Kopanang-trust, asook 200 beeste besit. Hy het ’n diploma aan die Landboukollege Potchefstroom verwerf en studeer tans verder. Devonport besit die ander 50% aandele.
Hoewel die bemagtingingsprojek aanvanklik nie ’n sukses was nie, ondanks Devonport se goeie bedoelings, het hulle tóg daarby baat gevind. “Dit maak sin om jou werknemers wat lank vir jou werk en help om die plaas op te bou, te bemagtig.”