’N WYATT EARP VIR ONS ‘WILDE WESTE’?
As sub A-seuntjie begin ek gereeld op my beste vriend, Leon Coetzer, se familieplaas in die Bonthoeke kuier. Dis koue wêreld, afgeleë en wild — dié plaas van oom Saai en tannie Rina wat ons oor naweke met ons windbuks platloop. Tannie Rina ken bederf. Vrydagaande is dit snoesig voor die TV onder ’n dik duvet, warm melktee en ’n pak Zoo-koekies. Dit kan nie veel beter nie.
Een aand lê en kyk ons John Sturgess se 1957-fliek Gunfight at the O.K. Corall met Burt Lancaster in die hoofrol. Dit vertel die storie van die befaamde sheriff Wyatt Earp en hoe hy, sy twee broers en ’n sieklike Doc Halliday op ’n dag die boelies en skurke van die Wilde Weste eens en vir altyd op hul plek gesit het. Hul six shooters het daardie dag die praatwerk gedoen, en daarna was daar nie weer enige moeilikheid nie!
Vir die Andersons-familie van Donnybrook was daar nie ’n Wyatt Earp nie. Dáár het die kleindorpse gangsters en boelies geseëvier. In die proses is ’n ordentlike boerefamilie wat werk aan 300 mense verskaf en belasting betaal, erg getraumatiseer. Beeste se hakskene is afgekap en werkershuise is afgebrand. Die rede? Voormalige werkers is ontevrede oor Zimbabwiërs wat bestuurposisies beklee. Die polisie se optrede was traag en onvoldoende.
Elders moet mense ook sonder wet en orde klaarkom. Nick Serfontein vergelyk die wetteloosheid van Ace Magashule en Supra Mahumapelo se bestuur van onderskeidelik die Vrystaat en Noordwes met die plundertogte van die Kakies gedurende die Anglo-Boereoorlog. Wie kan ooit die onluste op Coligny vergeet? En Supra se aandeel daarin. Of hoe boere by Delareyville moes inspring om te help voorkom dat dieselfde met húl dorp gebeur.
In die Vrystaat duur die probleme op die Lesothogrens voort. Boere is nou al jare lank uitgelewer aan mense wat doen net wat hulle wil. En hulle sal aanhou daarmee tot ’n Wyatt Earp die wet kom neerlê — en dit kan nie die boere wees nie.
Die stelsel trap ook elders op gewone, hardwerkende mense se regte. Daar is die gewetenlose, kleindorpse burokrate wat tariewe ver bo markwaarde op plase hef om meer belasting in te vorder, net sodat hulle dit weer kan vermors. Of Dennis Seemela, hoof van elektrisiteit en lisensiëring by Nersa, wat op televisie heel gemaklik is om ’n bisarre verduideliking te gee oor hoekom, ná jare se gesloer deur Ners a, boere steeds nie son krag aan die nasionale verspreidings netwerk kan verskaf nie. Di som van moedeloos te raak.
Maar dan is daardie betreklik jong polisie bevelvoerder op Queenstown in die Oos-Kaap. Eerlik, doeltreffend en buitengewoon gesaghebbend. Soveel so dat plaaslike boere eenvoudig na hom verwys as “ons” kolonel (Loyiso) Ngalo. Dis moeilike wêreld dié. Die geskiedenis loop diep. ’n Gemeenskap wat destyds grond deur die Nasionaliste belowe is, soek ’n plaas. ’n Plaaslike boer stel grond beskikbaar, maar die staat doen nie eens die moeite om ’n aanbod te maak nie. Uiteindelik jaag die gemeenskap hul beeste op ’n kommersiële boer se grond. Dit is wetteloosheid wat kol. Ngalo nie sal duld nie. Hy verduidelik eers aan die gemeenskap hoekom hulle verkeerd is, voor hy almal in hegtenis neem en hul beeste skut.
Die gevolge is interessant: Boere het steeds simpatie vir die gemeenskap se griewe en daar word steeds na ’n oplossing gesoek.
Want hier is ’n Wyatt Earp in beheer.