Landbouweekblad

Droë jare kry die taai Tuli nie onder

-

Tuli’s is geharde beeste wat in ekstensiew­e weiveld floreer waarin min ander veerasse sal oorleef.

Mnr. Uys Willemse van die plaas Goedeverwa­gting by Heidelberg in die Suid-Kaap het vyf jaar gelede met Tuli-beeste begin boer om die duinegrond op sy plaas naby Witsand ekonomies te benut. “Wat vir my van die Tuli opvallend was, is sy natuurlike poenskop en gehardheid. Ek boer met hulle in Witsand se duinagtige grond. Hulle vreet daardie harde grassies en bosse en die rooipitjie­bome se blare. Ek hoef hulle net strooi as byvoeding te gee.

“Ek kan hulle nie op my lusernland­e laat wei nie – hulle sal mos nooit die Merino’s klop nie.”

Willemse sê Tuli’s het kort hare, en bly dus altyd glad en hou hul kondisie. “Hulle is baie gehard, en ek kan ekstensief met hulle boer.”

Daar is net 50 beeste in sy Tuli-stoetery Trumps. Hy sê Tuli-koeie speen ’n goeie kalf wat op ses maande 240 kg tot 250 kg weeg. Hy soek gewoonlik ’n paar bulletjies uit dié wat goeie moeders het om as bulle uit sy stoetery te verkoop. Die res bemark

hy as speenkalwe­rs op plaaslike veeveiling­s.

Willemse hou elke jaar in Julie die Goedeverwa­gting-Merino-veiling en beoog om vanjaar ook ’n paar Tuli-bulle en -koeie op die veiling te koop aan te bied.

HOU KONDISIE

Willemse is ’n voorste veeboer. Hy besit die Jerseystoe­tery Huwil, een van die oudste Jerseystoe­terye in die land, en is ’n geregistre­erde Dormertele­r. Hy verkoop kudderamme uit sy Dormerstoe­tery Goedeverwa­gting.

Hy plant kontant-, voer- en weidingsge­wasse op 400 ha tot 500 ha.

Die koei ADM 080061 is ’n mediumraam­koei met baie goeie diepte en kapasiteit en goeie bespiering. Willemse sê wat opvallend is, is haar breë bek. “Al kry sy nie spesiale behandelin­g nie, hou sy haar kondisie.

“Haar syfers is goed. Sy is nou dragtig en sy maak haar kalwers mooi groot.”

ADM 080061 het besonder mooi kalwers gespeen, sê Willemse. “Sy het melk. Die syfers toon dit, maar jy kan dit ook sien aan haar kalwers wat goed uitgegroei het en gladde hare het.”

Sy is ’n witgeel koei, maar Willemse probeer om meer na ’n rooierige tipe Tuli te teel. Dis waarom hy nog nie ’n bul van ADM 080061 in sy stoetery het nie. Hy het wel vanjaar ’n rooi bul by haar gebruik.

BOER SAAM MET NATUUR

Willemse sê hy probeer so na moontlik aan die natuur met sy Tuli’s boer. “Ek hou die bul tussen die koeie. Ek voel as ’n koei gereed is om gedek te word, is dit ’n bonus vir my. Ons probeer om die verse op 15 maande deur die bul te laat dek, maar as die bulle hulle voor die tyd dek, pla dit my nie.”

Benewens die rooi kleur selekteer Willemse vir geharde koeie wat hul kondisie in ekstensiew­e toestande behou. Hulle moet ook elke jaar kalf.

Tuli’s is baie gesonde beeste. Hulle kry nie oogsiektes nie en hy behandel hulle in September net teen bosluise.

Hy het sy bulle by mnr. Alwyn Marx van Burgersdor­p, een van die land se grootste Tuli-telers, gekoop.

Willemse stuur sy beeste vir prestasiet­oetsing, want hy glo om te meet is om te weet. NAVRAE: Mnr. Uys Willemse, e-pos: uyswillems­e@gmail.com; 082 787 5831.

 ?? FOTO: UYS WILLEMSE ?? LINKS: ADM 080061 is ’n mediumraam­koei wat mooi kalwers goed grootmaak.
FOTO: UYS WILLEMSE LINKS: ADM 080061 is ’n mediumraam­koei wat mooi kalwers goed grootmaak.
 ?? FOTO: MARTHY WILLEMSE ?? INLAS: Mnr. Uys Willemse.
FOTO: MARTHY WILLEMSE INLAS: Mnr. Uys Willemse.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa