Boerekanmelkkudde só ‘herkalibreer’
Die SA Grootkudde-konferensie word van 3 tot 5 Junie in Port Elizabeth aangebied. Die doel is om boere met kennis toe te rus om mededingend te bly op ’n internasionale mark.
Australië kan nie by Suid-Afrika kers vashou wat melkproduksiestelsels en winsgewendheid betref nie, het mnr. Basil Doonan, ’n onafhanklike melkplaaskonsultant van Tasmanië, ’n paar jaar gelede op die negende SA Grootkudde-konferensie in Port Elizabeth gesê. Het die prentjie intussen verander?
Doonan gaan vanjaar weer ’n spreker wees op die elfde SA Grootkudde-konferensie. Dit word van 3 tot 5 Junie by The Boardwalk in Port Elizabeth aangebied. Die tema is “Stop, herkalibreer en herhaal!”
Die eerste konferensie van dié aard is 20 jaar gelede gehou omdat die Suid-Afrikaanse melkbedryf nie mededingend genoeg was nie. Om ’n groot melkkudde op ’n volhoubare koers winsgewend en doeltreffend te bestuur, verg deurlopende aanpassings, verstellings, kennis en die voordeel van ander boere en kundiges se ervaring en navorsing.
Tegniese onderwerpe en inge
wikkelde besprekings oor alles van die rumen se gesondheid tot robotte se winsgewendheid, word in besonderhede bespreek. Tydens wegbreeksessies kan boere verder by mekaar en die internasionale sprekers leer. Die konferensie word met die samewerking van die Melkprodusente-organisasie (MPO) aangebied.
SPREKERS
Verskeie onderwerpe wat spesifiek daarop gerig is om die bestuur van groot melkkuddes doeltreffender en winsgewender te maak, is op die program.
Die onderwerpe vir bespreking is gerig op vooruitstrewende melkprodusente met ’n wyer uitkyk as net sy plaasgrense. Sprekers delf nie net dieper in die tegniese en strategiese aspekte van kuddebestuur nie, maar kyk ook na die menslike en emosionele aspekte van wat dit verg om ’n topprodusent in moeilike omstandighede te wees.
Die onderwerpe sluit in: Die bestuur van stelsels. Strategieë vir verandering. Volhoubaarheid en veerkragtigheid in besigheid. Bedryfsbestuur. Markneigings. Omgewingsake en tegnologie. Finansiële bestuur en belasting.
Motivering en leefstyl. Menslike hulpbronnebestuur. Sessies word oor die drie dae gelei deur leierboere en kundiges in die melkbedryf, soos mnre. Simon Matthews, Mark Hauff, Doonan, Nigel Lok, Rob Stapylton-Smith, Joe Viviers en dr. Chris van Dijk (MPO).
Die hoofspreker is dr. Gerhard van Rensburg, direkteur van Future Leaders Africa, wat sal praat oor hoe boere die toekoms kan aanpak.
Mnr. David Richmond van Fonterra (Nieu-Seeland) gaan lig werp op hoe wêreldneigings die plaaslike mark beïnvloed en hoe dit eindelik die Suid-Afrikaanse melkprodusent raak.
Prof. Kevin Smith van Australië se aanbieding gaan klem lê op winsgewende melkproduksie vanaf weidings, terwyl dr. Christiaan Scherpenzeel van Nederland oor die tydige gebruik van antibiotika sal praat.
Mnr. Lior Yaron, direkteur vir internasionale projekondersteuning aan kliënte van Delaval, kom van Swede af om oor tegnologie en aanpassing by verandering te gesels.
In die namiddag is die sprekers dr. Richard Shephard van Australië en mnr. Aiden Bomford van die konsultasiemaatskappy Intelact (Australië).
Op Dinsdag 4 Junie raak die onderwerpe meer tegnies met sprekers soos dr. Callum Eastwood (Dairy NZ), dr. Steven Larmer (Semex), mnr. Pieter Oosthuizen (Cargill), prof. Dorian Garrick (Nieu-Seeland), mnr. Leon Louw (Vryemarkstigting), me. Juanita Vorster (Unique Speakers Bureau), mnr. Greg Mills (Nieu-Seeland) en prof. Kevin Smith (Australië).
Op die derde dag van die konferensie op Woensdag 5 Junie gaan dr. Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die MPO, die sessie lei.
Mills, ’n konsultant van NieuSeeland, gaan sy ervaring oor ’n doeltreffende aanslag teenoor eksterne besigheidsrisiko’s oordra.
Doonan gaan praat oor hoe boere die geharwar van die lewe en die bedryf kan uitsny, stil word en dit wat hulle doen, heroorweeg en herbedink.
Die laaste spreker van die dag dr. John Westwood, ’n konsultant, wat gaan praat oor geduld, klein begin en groot planne.
“Virtuele plaasbesoeke” word tydens die konferensie aangebied in die vorm van ’n video wat die kuddes, bestuurstruikelblokke, bedrywighede en geriewe op ’n paar plase gaan wys. Die gehoor sal ’n kykie kry oor wat op dié plase aangaan en hoe hulle groot kuddes bestuur.