Bestuur van veld en kudde ewe belangrik
Plaaslike veeboere wat vanaf natuurlike weiding vleis produseer, verkies die Drakensberger. Die veld het egter net soveel liefde en bestuur nodig as jou kudde.
Drakensbergers is bekend om hul uitstekende weidingsvermoë en aanpasbaarheid in verskeie veldtoestande. Die rol van vee om natuurlike veld te bestuur en verbeter, is ’n bestuursfaktor wat boere
met groot vrug kan gebruik.
Prof. Klaus Kellner, ’n veldkenner verbonde aan die skool vir biologiese wetenskappe en die eenheid van omgewings wetenskappe en bestuur aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, deel in hierdie artikel ’n paar insigte wat hy oor jare opgedoen het, veral in die droër savanne-gedeeltes van Suid-Afrika.
Danksy sy navorsing en ervaring rakende die beste benutting van grond het hy ’n unieke perspektief op weidingsbestuur, grondverbetering en hoe om grasveld en natuurlike weiding te bestuur en te verbeter.
BESTE PRAKTYKE
“Bepaal watter tipe veld op jou plaas voorkom. As jy nie self die kennis het om grasspesies of onkruide te identifiseer nie, kan jy hulp inroep. Nader ’n kenner of raadpleeg die internet. Skakel in by studiegroepe of gaan kyk op webtuistes wat verskeie wenke, nuus en projekte bevat wat klem lê op veld rehabilitasie en -bestuur,” sê Kellner.
Stel prakties ondersoek in om vas te stel wat die status van die veld en weiding in ’n sekere kamp of gedeelte van jou plaas is.
“Meet ’n stuk van sowat tien meter af waarlangs jy in die veld in loop en merk dit. Identifiseer dan die verskillende plantspesies wat op daardie lyn voorkom en vra jouself af wat jy sien: Is daar baie smaaklike en een- of meerjarige grasspesies of nie? Is daar baie indringerspesies of houtagtige struike? Is daar tekens van erosie? Kan jy minstens vyf verskillende grassoorte op jou plaas uitken?”
Herhaal hierdie stappe ’n paar keer om die toestand van die veld te bepaal.
“Ken jou plaas en teken aan wat jy gemeet het. Meet ook die kort-en langtermyn reënval. As jy nie die grondtipes kan identifiseer nie, laat grondontledings doen en maak aantekeninge oor die gras- en plantspesies wat op verskillende plekke op verskillende grond of landskappe voorkom.
“Herhaal dié opname van gegewens ’n paar keer en noteer die verskille oor ’n tydperk, veral as jy sekere weidingspraktyke toepas. Die verandering in die toestand van die hulpbron met verloop van tyd kan so bepaal word.
“Wanneer jy ’n goeie idee het van wat op die plaas aangaan, kan jy ’n plan van aksie saamstel. Daar is nie één oplossing vir almal nie, maar vir elke plaas is daar ’n oplossing.”
Kellner beveel ook aan dat boere hulself met inligting moet
bemagtig deur inligtingsessies, boeredae en konferensies by te woon wat op weiding- en veldbestuur toegespits is.
Wanneer weiding wanbestuur word, kan jy binne een seisoen baie skade aanrig aan jou grond en veld, sê Kellner. Veeboere moet altyd hul grasveld vooropstel e na s’ n bestuur s prioriteit ag.
“As ’n veeboer jou tydens ’n plaasbesoek vertel van die gras en sy weiding op sy plaas, is hy op die regte pad. As hy jou egter net na sy beeste of wild toe vat, moet hy nog leer. Gras is die hulpbron wat die vee en wild voer. Daarsonder kan daar nie diere wees nie.”
BEWEIDING
Weiding verbetering is moontlik met behulp van grasvreters, soos beeste. “Waak daarteen om jou g rondte beroof. Hoë druk beweiding stelsels werk as jy dit reg bestuur. Volg die riglyne streng, want anders vernietig jy net jou veld weens oorbeweiding. Kry die beginsels van dié stelsel onder die knie voordat jy dit toepas.
“Ek en my span doen baie navorsing en werk rakende veldverbetering (rehabilitasie). Dit behels verskillende metodes, na gelang van die gebied, tipe plantegroei en reënval.
“’n Groot bekommernis, veral in Noordwes, is die toename in die voorkoms van slangbos (bankrotbos). Dit is ’n gesukkel om dit uit te roei, en om dit te brand of die bos te probeer afkap maak die slangbos net kwaad. Hy groei dikwels met mening terug.”
Hierdie tipe uitroeipogings is arbeidsintensief en nie altyd geslaagd nie. Slangbos kan met verantwoordelike chemiese bestuur uitgeroei word.
“Moenie oorboord gaan met die chemiese toedienings nie. Volg die aanwysings en dien net die regte hoeveelheid toe. Ek het al in afgryse aanskou hoe ’n boer slangbos met ’n brandslang in strome van ’n chemiese oplossing verdrink, terwyl net ’n baie klein hoeveelheid nodig is. Op daardie behandelde kolle is die veld en biologiese lewe saam met die slangbos vernietig.”
Gelukkig is daar ’n oplossing om selfs bínne kampe “eilande” te skep waar diere nie kan wei nie sodat die veld kan rus, hergroei en saad maak. Deur eenvoudig takke van bome en struike af te sny (sommer daar waar jy ontbossing doen) en die takke in “eilande” te pak, skep jy veilige hawens vir gras om te hergroei. Die beeste kan nie daar wei nie en die takke sal mettertyd verweer en afbreek. Intussen sou hulle saad vorm en help om die natuurlike grasveld te hervestig.
BOSVERDIGTING
Kellner sê bosverdigting is nog ’n kwessie waarmee talle veeboere sukkel, veral in Suid-Afrika se savanne-gedeeltes.
“Bosverdigting kom veral voor op plase waar die veld nie gereeld genoeg gebrand word nie én oorbenut is, veral tydens ’n droogte. Dié kombinasie lei tipies tot bosverdigting.”
Meer bosse kan egter voordelig wees vir blaarvreters, wat belangrik is vir die wildbedryf, mits dit reg bestuur word.
Wees gewaarsku oor die voorkoms van Prosopis-spesies (Suidwesdoring), wat weiding kan binnedring en tot bosverdigting lei, veral in die rivierlope in die droër gedeeltes van die land.
RUS EN BESTUUR
Genoeg rustyd vir weidingskampe is ’n móét, sê Kellner, en is seker een van die belangrikste stappe om jou hulpbron te bewaar. Deel jou plaas in weikampe op en laat een kamp vir nege maande tot ’n jaar lank rus, na gelang van die reënval en grondtipe. Dié ruskamp kan jaarliks aanskuif sodat elke weikamp ’n goeie ruskans elke paar jaar geniet.
“Ek ken ’n boer wat met minder as 3 000 hektaar ál vyf sy seuns deur universiteit gekry het omdat hy goeie weidingsbestuur toepas. Hy boer in die duineveld aan die westekant van die land, ’n gebied waar lae reënval voorkom, maar gebruik ’n kamp
stelsel waarvolgens geen kamp oorbewei word nie. Hy pas sy veegetalle aan en skep ’n lang genoeg rusperiode vir hergroei. Dié boer is ’n uitstekende voorbeeld van iemand wat nie sy hulpbronne beroof nie, en hy pluk die vrugte daarvan.”
’n Eenvoudige voorbeeld wat die boer vir sy plaas kan aanpas, is om die beskikbare weiding in vier dele te verdeel, met verskillende kampe op elke deel. Laat rus een deel van Augustus/September tot April/Mei. Op die ander drie gedeeltes kan jy die kuddes byvoorbeeld elke week tussen kampe verskuif. Verdeel die beskikbare weiding in dieselfde veld- en grondtipe.
GRONDSKADE
Vermy oorbelading van die beskikbare weiding, sê Kellner. As dit nie genoeg gereën het nie, moet jy jou kuddegetalle aanpas en nie gulsig wees nie.
Hier kom jou vaardighede as veeboer en beesteler na vore. As jou rekordhouding van beeste se produksie en van die hulpbron op peil is, kan jy akkurate besluite neem oor veldbestuur, byvoorbeeld watter diere om uit te skot indien kuddes verklein moet word.
“As jy in so ’n geval nie betyds begin om jou kudde uit te dun nie, gaan die voerrekening jou inhaal én het jy waarskynlik jou veld reeds so beskadig dat die nagevolge vir jare daarna nog sal voortduur.”
EKONOMIESE BESLUIT
Met relatief min moeite en ’n sinvolle bestuurstelsel kan jy meer uit jou plaas kry. Dit is ’n ekonomiese besluit om te weet wat die beste praktyk vir jou plaas is.
“Onthou, as jy jou veld oorbewei met 5% of 10%, kry ál die beeste daarna swaar, nie net 5% of 10% van jou kudde nie. Só skep jy ’n mensgemaakte droogte.”
Tref voorsorg in jou plaas se begroting, wat jou sal help om gou tot aksie oor te gaan indien veldrehabilitasie nodig is. Beplan vooruit en moet nie probeer optree as dit reeds te laat is nie.
Dit kan ’n droogte, brand, vloed of ’n plaag miere wees wat dele van jou veld beskadig, nie net oorbeweiding nie.
“Diversiteit van plant- en grondlewe versprei jou risiko, maar al lyk jou veld hóé goed, moet jy altyd begroot vir veldrehabilitasie, en die toestand van die hulpbron bepaal.”
As jy grassaad koop of self geoes het, moet jy die kiemkragtigheid eers toets. Kellner beveel aan dat jy “vars” saad eers bêre in ’n droë, koel plek vir ’n jaar. Toets dan of die saad maklik ontkiem voordat jy dit saai, veral vir veldverbetering.
Verskillende grassade word ook anders hanteer as dit hersaai word. Wollerige sade soos dié van borseltjiegras moet byvoorbeeld eers met sand of kalk gemeng word om dit makliker te saai.
WAARSKUWING
Ken die geskiedenis van jou plaas of ’n stuk grond wat vir weiding geoormerk is, veral as dit ’n nuwe plaas of huurgrond is en jy nie weet watter bestuurspraktyke voorheen toegepas is nie. Dit sal bepaal hoeveel insette benodig word om die veld in ’n goeie toestand vir weiding te kry.