Landbouweekblad

Mieliediew­e: ‘Maak nou al planne’

- — ALANI JANEKE

MET talle gevalle van groenmieli­ediefstal wat die afgelope tyd in die Vrystaat begin kop uitsteek het, maan Vrystaat Landbou boere om betyds voorsorg te tref om die diefstal van vragte mielies gedurende strooptyd te probeer voorkom.

Dr. Jane Buys, veiligheid­srisiko-ontleder by Vrystaat Landbou (VL), maan boere om nie vragmotors, stropers of ander werktuie wat nog gestroopte mielies in het, oornag op landerye te los nie, want hulle word gereeld leeggestee­l.

Sy moedig boere ook aan om indien moontlik hul vragte te weeg sodat hulle kan weet as ’n kleiner vrag by die silo afgelaai word as wat die plaas verlaat het.

Soms sal vragmotorb­estuurders op pad na die silo waar die vrag gelewer moet word, by ’n ander silo aanry en ’n deel van die vrag teen ’n laer prys by dié silo aanbied. Boere wat vervoerkon­trakteurs gebruik, moet dus die dokumentas­ie van alle vragmotorb­estuurders nagaan en bevestig.

RUGSAKKE

Intussen het die diefstal van groenmieli­es op plase naby dorpe die afgelope tyd in talle distrikte kop uitgesteek.

“Ons het al gevind dat mielies op plase tot 25 km buite die dorp gesteel word,” sê mnr. Ben Greyling, veiligheid­sverteenwo­ordiger van die distriksla­ndbou-unie Warden.

In die meeste gevalle gaan voetganger­s met rugsakke in landerye in en pluk groenmieli­es wat hulle huis toe neem of verkoop.

In ander gevalle, veral snags, gaan verdagtes met groot sakke in landerye in en pluk die sakke vol. Die sakke word dan by spesifieke laaipunte opgelaai, van waar dit na afsetpunte vervoer word.

“Die mielies is nou gelukkig besig om droog te word. Die diefstal van groenmieli­es het daarom begin afneem,” sê Greyling.

Enkele verdagtes is die afgelope jaar vervolg nadat hulle op heter daad betrap is.

KAPMES

Mnr. Conray Bothma, veiligheid­sverteenwo­ordiger vir die distriksla­ndbou-unie Bothaville, sê hulle het al talle verdagtes gevang wat helder oordag in landerye inbeweeg en mielies pluk.

Hy sê dié diefstal beteken nie net skade en ’n verlies aan inkomste vir die boer nie, maar hou ook veiligheid­sgevare in. Op een plaas, sowat 10 km buite die dorp, is ’n kapmes in die landerye gevind.

“In nog ’n voorval het ’n verdagte met ’n selfgemaak­te wapen op ’n boer afgestorm toe die boer hom betrap het,” sê Bothma.

“Ons moet optree en dié verdagtes laat vervolg, anders sal die situasie net vererger.”

Greyling en Bothma sê hulle vermoed die situasie word vererger deur toenemende armoede op die platteland.

Buys sê dié diefstalle het sedert verlede maand begin toeneem. Die dorpe waar dit aangemeld is, sluit Allanridge, Bethlehem, Bothaville, Bultfontei­n, Clocolan, Hobhouse, Ficksburg, Odendaalsr­us, Virginia, Fouriesbur­g en Warden in.

VEILIGHEID­SWAGTE

Buys sê volgens ’n opname wat boere van Allanridge en Odendaalsr­us onder hulself gedoen het, kan dié situasie vir ’n boer ’n bykomende koste van tot R80 000 per jaar op die hals haal omdat hy private veiligheid­wagte in diens moet neem om landerye op te pas.

“Nie net een wag kan in diens geneem word nie omdat die landerye dag en nag bewaak moet word. Verder moet die boer in baie gevalle ook die wagte se verblyf en vervoer verskaf, wat bykomende koste teweegbrin­g.”

Buys sê verskeie boere het elektriese heinings om hul landerye opgerig, wat groot bykomende uitgawes tot gevolg gehad het.

DREIGEMENT­E

Naby myne word landerye deur zama-zamas (onwettige myners) geplunder. Dit het al daartoe gelei dat veiligheid­swagte aangeval en van onder meer selfone, klere, flitse en radio’s beroof is.

Verdagtes wat plase teen die Suid-Afrikaanse grens met Lesotho besteel, het al aangedui dat hulle veiligheid­swagte en boere leed sal aandoen of plase sal afbrand.

Buys sê meer patrollies deur die polisie en veiligheid­strukture vind in sommige gebiede plaas. Boere word gevra om paraat te wees teen dié diefstal.

Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se veiligheid­skomitee, sê diefstal vanaf plase vind landwyd plaas.

Hy sê dit is belangrik dat veiligheid­strukture en boereveren­igings druk op die plaaslike munisipale owerhede uitoefen om onwettige smouse in dorpe vas te vat sodat die mark wat vir sulke gesteelde goedere geskep word, in die kiem gesmoor kan word.

 ?? FOTO: VERSKAF ?? Gesteelde groenmieli­es wat van diewe in die distrik Warden gekonfiske­er is. Dié voorvalle neem af namate die mielies in die distrik begin droog word.
FOTO: VERSKAF Gesteelde groenmieli­es wat van diewe in die distrik Warden gekonfiske­er is. Dié voorvalle neem af namate die mielies in die distrik begin droog word.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa