Drakensbergers: Karooboer se poenskopsukses
Die poenskopeienskap in die Drakensbergerbees is nog seldsaam, maar mnr. Van Zyl Naudé van Richmond het ver gevorder om ’n bees met dié kenmerk aan Karooboere te lewer.
Poenskop-Drakensbergers is maklik om te hanteer, hulle benut bergweiding uitstekend en is een van die mees ideale beesrasse om Karooveld te benut. In dieselfde asem is hulle so skaars soos hoendertande in die Karoo . . . Die Merinoboer mnr. Van Zyl Naudé stuit egter nie vir die skaarste nie en is ver gevorder om dié beeste tweede natuur in die Karoo te maak. “Die een ‘nadeel’ van die Drakensberger is dat poenskoppe baie skaars is en in die Karoo soek boere veral poenskoppe as hulle met beeste wil boer,” sê Naudé van die plaas Haaskraal naby Richmond in die Noord-Kaap.
“Beesboerdery is ’n nuttige ekstra vertakking vir die meeste Karooboere. Omdat die meeste nie die nodige geriewe het om met beeste te werk nie, verkies hulle poenskoppe wat aansienlik makliker hanteer.”
Nadat hy reeds in 2014 begin het om vir
dié kenmerk in sy kudde te teel, hoop hy om oor twee jaar sy eerste poenskopbulle aan die mark te kan lewer.
Naudé, oorspronklik ’n Merinoboer wat deel vorm van die Geelbekgroep, het besluit om beeste by sy kudde in te bring, onder meer vir veldverbetering en omdat die diere nie met die skape meeding om kos nie. “Ek het jare lank met verskeie beesrasse geëksperimenteer, en het uiteindelik Drakensbergers gekies omdat hulle veral bergweiding goed benut.”
SUKSESVOLLE STAP
In Desember 2014 het hy die eerste stap gedoen om die kenmerk tot sy kudde toe te voeg. Hy het ’n poenskopbul by ’n vriend, mnr. Chatty Lindsay van Hanover, geleen en vir een siklus by sy verse gesit.
“Drie poenskopbulletjies van Lindsay se bul en ’n poenskopbulletjie van een van my bulle is gebore.” Naudé het hulle in 2017 vir keuring voorgelê by die Drakensbergertelers
genootskap en al vier het keuring gekry het.
Naudé het in Maart 2015 ’n keuringstoer saam met die Drakensbergertelersgenootskap deur die Vrystaat meegemaak. Tydens die toer het hulle besoek afgelê by wyle mnr. Hermaans Potgieter van Bethlehem, wat toe twee dragtige poenskopverse op die nasionale veiling aangebied het.
Naudé het dié verse op die veiling gekoop en ook ’n aantal strooitjies semen van ’n poenskopbul by Potgieter gekry. Die twee verse het in Desember 2015 poenskopkalwers gehad. Naudé het die strooitjies gebruik om sy stoetkoeie kunsmatig te insemineer.
Toe dr. Johann Fourie van die Drakensbergertelersgenootskap sy poenskoppe kom besigtig, het hy voorgestel Naudé moet al die poenskoppe se sterthare vir toetse instuur om vas te stel of hulle die poenskopgeen dra. Vyf bulle en ’n paar jong verse van die KIkalwers het die geen gedra.
Tydens sy stoetparing in Desember 2017 het Naudé weer van sy koeie met die poenskopstrootjies geïnsemineer en hy het twee poenskopbulle as opvolgbulle gebruik. “Danksy die teelmateriaal en die seleksieproses was 78% van die kalwers verlede Oktober en November poenskoppe.”
Hy het verlede Desember weer van sy poenskopbulle in sy stoetery en sy kommersiële kudde gebruik. Die volgende kalwers word in Oktober en November vanjaar verwag. “Ek wil volgende jaar ’n paar mooi poenskopkalwers vir keuring voorlê. As dit die Vader se wil is, sal ek oor twee jaar poenskopbulle in die Karoo begin verkoop om die ‘nadeel’ uit te wis.”
GEHARD IN DIE KAROO
Volgens Naudé het hy ’n groot deel bergveld op sy plaas. Die Drakensberger se uitstekende loopvermoë is een van die redes waarom hy dié ras vir sy plaas gekies het.
“Dit is ’n inheemse ras met ’n baie rustige temperament. Die beeste is gemaklik in die bergveld en kan tot heel bo klim en daar wei.
“Hulle het goed aangepas by ons uiterste temperature: In die winter is die minimum temperatuur tot 15 °C en in die somer kan die maksimum temperatuur maklik tot 39 °C word.”
Naudé boer oos van Richmond en sy veldsamestelling is 65% bossieveld en 35% grasveld.
“Beeste is dus ’n belangrike deel van die veesamestelling om die grasse te benut. Hulle is nie so selektief soos skape nie en maak skoon wat die skape nie vreet nie.”
Naudé boer hoofsaaklik met Merino’s en die beeste en skape wei saam. Die beeste vreet ook groter bosse en die gras wat al ryp is. Sodoende versprei hulle die grassade en dra by tot die verbetering van die veld.
“Die beeste is dus aanvullend tot die skape, en jy hoef nie die skape te verminder nie.”
UITSTEKENDE VERMOË
Volgens Naude weeg sy koeie gemiddeld 469 kg as hy die kalwers ná 205 dae speen. Die kalwers weeg dan gemiddeld 231 kg, wat beteken die speengewig tot koeigewig verhouding is 49,2%. “Dit bewys die uitstekende vermoë van die koeie om die veld in vleis om te sit, asook die kalwers se groeivermoë.”
Hy sê sy koeie is baie vrugbaar en hy het ’n tussenkalfperiode van 383 dae. Die besetting wissel van 91% tot 95%, na gelang van die veldtoestand.
Hy selekteer streng vir vrugbaarheid en koeie moet jaarliks geld inbring. ’n Koei wat nie ’n kalf lewer nie, word geslag.
VELD KOM EERSTE
Sy veldbestuursbenadering het met verloop van jare verander. “Vroeër het jy na jou vee gekyk, maar deesdae is dit belangrik om eerder na jou veld te kyk.”
Hy het ’n driekampbeweidingstelsel waarmee hy sy veld spaar. Met die veranderende klimaat met onvoldoende reën in die winter vir lenteweiding probeer hy om altyd genoeg kampe beskikbaar te hê.
Hy het ’n kombinasie van goeie en swak kampe, en probeer om die swak kampe tydens die goeie tye te bewei sodat sy beste kampe gespaar kan word.
Die hele plaas is in die drie groepe verdeel. Elke groep het dieselfde hoeveelheid bergveld, vleie, rante en vlaktes. Elke jaar is in vyf siklusse opgedeel, wat bestaan uit twee siklusse van drie maande elk en drie siklusse van twee maande elk. Daar is altyd twee derdes van die kampe wat nie bewei word nie.
Naudé het geen aangeplante weidings nie, en voer sy diere slegs op strategiese tye, soos net voor paring.