Landbouweekblad

Jou verhaal: Jaloersber­g

Fytjie sit langs die driebeenpo­t in die kookskerm met ’n stukkende hart en ’n gemoed wat kook, soos ’n seeppot wat te veel loog het. Sy wens sy het geweet hoe om die ding tussen haar en Koeroetjie reg te stel.

-

Op haar rug kla haar kind kort-kort en sy gee die abbavel se rieme ’n bietjie skiet. Sy verlang vanoggend na haar ouma, want sy sou raad gehad het vir haar seer. Haar gedagtes spring wild rond en hol kort-kort terug na haar gelukkige kinderjare hier op Kamas. Ouma Fya het haar grootgemaa­k en altyd soos ’n broeis hen om haar gekloek, want die Groot Griep het glo haar ma gevat. Die wit kinders op die plaas was haar maters en saam het hulle botterboom gery. Petrus was die oudste en sy en Anna was karperde. Sy het altyd van haar rokkies geërf.

As die wit kinders wintertyd op Waterklip in die uitlegveld skoolgegaa­n het, het sy en Ouma die wasgoed op hul koppe gesit en bo by die klipgat gaan was. Sy onthou nog elke keer hoe hulle na hul gesigte in die water gekyk het, want Ouma het nie ’n spieël gehad nie. Toe hulle eendag weer in die water kyk, het sy vir Ouma gevra: “Hoekom lyk ek anderster? My hare is dan glad?” Ouma het ’n klip in die water gegooi en verder gewas asof sy nie gehoor het nie.

OUMA SE WOORDE

Eendag was hulle weer by die klipgat. Ouma het haar lang hare in ’n emmer met boerseep gewas en toe dit droog was, het sy twee lang vlegsels gemaak. Hulle het weer in die water gaan loer. Ouma het lank na haar gesig gekyk en na haar gedraai. “Fytjie, jy was ’n baie mooi tjint, maar nou is jy ’n jong vrou.”

Sy het in die verte getuur en dit was asof sy met haarself begin praat het. “Jou ma was ok ’n mooi vrou en ik het haar ook soos vir jou van kleins af van die Jirre geleer. Hier was nie anner bruin mense nie, behalwe ou Tatie wat die kêrel se vee opgepas het. Af en toe hit die pakdraer-Jode tussen die plase gekom smous en soms hier oorgestaan.

“Laters van tyd hit ’n Joodjie bykans elke maand hier gekom smous en saans langs die stal in die voerkamert­jie geslaap. Hy’t altyd vir jou ma, wat nog ’n tjint was, lekkergoed en biscuits gebring. Ons kon nie agterkom dat daar iets tussen hullesam broei nie en toe ons ons kom kry, was sy mit die lyf. Sy was knap vyftien toe jy in die wêreld gekom het. Toe die Jood weer hier aankom, moes hy voertsek, maar hy’t darem vyf pond vir jou mama hier gelos.”

Ouma het vir die eerste na haar gekyk. “My tjint, ek is lief vir jou en willie hê dat jy die symste pad loop nie. Wees katvoet vir Petrus. Ik hou hom saans in die bokkraal dop. Hy’s al te danig mit jou.” Fytjie het haar kop skaam laat sak.

’n Paar weke later was sy in die houthaalve­ld. Terwyl sy die vyehout in die houthaalri­em pak, het Petrus met die lammerbokk­e verbygetre­k en haar kom help. Bevange het sy begin bewe, want Ouma se woorde het soos vuurvliegi­es in haar binneste geflikker. Hy’t haar begerig nader getrek.

Met ’n huilstem het sy gesoebat en wild begin spook soos ’n eselvul wat die eerste keer ingespan word: “Ek is nie jou soort nie. Moenie my soos ’n ryp bessie wil kou en as jy klaar is die pit wegspoeg nie.” Verdwaas het hy haar gelos. “Moenie vir jou ouma vertel nie.”

OUJAARSDAN­S

Fytjie skrik uit haar mymering toe Kanoes op haar rug begin kriewel. Sy onthou nog doerie jaar toe hulle Oujaarsaan­d op Olienfonte­in gaan dans het. Sy’t haar wit sisrok aangehad wat Anna se ma voor Krismis vir haar gemaak het. Haar lang swart hare het los op haar skouers gehang. Al die jong manne het wydlangs gehou, so asof sy nie daar hoort nie.

Onverwags het die lang, geel Namakwa van Leliefonte­in met sy blikramkie in die vuurlig gestaan. Sy mooi tande het soos wit koeroeklip geskitter, sy sagte oë het ’n tydjie op haar gerus en sy het skaam weggekyk. Ligvoet het hy om die jong vroue ge-thabera tot hul twee se lywe aanmekaar begin skuur. Sy’t vir hom geglimlag en hy’t speels oor haar kruis gestreel. Dit was asof die Jirre se Woord en Ouma se vermanings die aand saam met die vonke in die donkerte verskiet.

Vanaf daardie aand is hulle saam en hul gevoelens het geblom, soos Kamas se vallei in die winter. Dit was asof die hemel waarvan Ouma altyd vertel het, nie so lekker kon wees soos wanneer Koeroetjie saans die plaas se vee werf toe bring nie. Sy’t by die kraal vir hom gewag en hul gevoelenth­eid vir mekaar het geil soos rankgoed gegroei. Saam het hulle gelag vir die uitgevrete persielamm­ers wat op

Sy voel verstote, soos die arme skaaphansi­e in die boklammerh­ok.

en af in die voetpad speel. Hulle kon nie wag om in hul warm nessie te gaan inkruip nie.

HAAK EN STEEK

Sy sit die skoon afval in die emaljeskot­tel en knoop haar bors oop. Gulsig drink Kanoes en rol tevrede sy ogies rond. ’n Rou snik ontsnap uit haar binneste, want die Satan het ’n blinkbakki­es-vroumens na die buurplaas gebring. Sy’t twee uitpeulbor­ste soos ryp spanspekke en haar swart oë is listig soos dié van ’n geelslang.

Vandat sy getrek-kom het, is dit duskedae tussen haar en Koeroetjie soos ’n wag’n-bietjiedor­ingtak. Dit bly haak en steek wanneer hulle bymekaarko­m. Hy eet saans sy kos, maar snags, as sy wakker word, is sy plek langs haar leeg.

Fytjie se planne maal deur haar kop soos die moerkoffie wat sy roer. Sy wil hom weer liefmaak, want hy is net hare alleen. Sy sal die afval waarvoor hy so snoep is, saf kook en die tong wat so moeilikhei­d maak, vir hom inskep met ’n lang sous oor die asbrood. Later sal sy veld toe gaan en salie en roosmarynb­lare gaan pluk en haar hele lyf smeer. Sy moet lekker ruik soos doerie tyd.

In haar wit sisrok het sy hom die aand ingewag. Haar hare het sy losgemaak en haar gesig het in die vuurlig van olie geblink toe hy sy kossak in die skerm neersit. Binnensmon­ds het hy gegroet en Fytjie het probeer glimlag. Hy het vir Kanoes opgetel en op sy knie laat perdjie ry. Fytjie het ’n stomende beker koffie op die bankie langs hom neergesit. Terwyl sy hulle liefderik dophou, sit sy vars brood in sy bord en gooi dit toe onder die afvalsous. Toe sy die opgehoopte bord vir hom gee, is sy gesig stroef en voel dit asof daar ’n diep kloof tussen hulle is.

Haar liggaam het na hom geroep toe sy die beker dikmelk vir hom kooi toe vat. Dit het gevoel of sy binnetoe bloei toe Koeroetjie sy mond afvee en sy rug ongeërg op haar draai. Toe die hoenderhaa­n kraai, het Fytjie wakkergesk­rik. Koeroetjie se plek langs haar was koud.

WRAAKPLAN

Die pyn wat die afgelope tyd soos ’n pendoring in haar binneste sweer, het ryp geraak. Die wraakgedag­tes smeul binne haar soos ’n mishoop, want sy voel verstote, soos die arme skaaphansi­e in die boklammerh­ok.

Voordagmôr­e maak sy vir oulaas sy kossak reg en toe die dag breek, sit sy die kind in die abbavel en trap die vuur dood. Dis al vuilskemer en sy vat die blikramkie en stryk aan met die voetpad berg se kant toe.

Fytjie se gemoed is onstuimig en gis soos die suurdeeg van die witwolkori­ng wat slagslag dreig om oor te loop. Sy tokkel op die snare en sing ’n weemoedige liedjie. Voor haar doem die berg op en boggel vooroor soos ’n swanger vrou.

Die pad word steil en Fytjie vleg haar lyf tussen die hoë bosse deur. Haar asem jaag en by die voet van die berg draai sy uit en gaan sit op ’n klipbankie. Sy gooi haar warm dassiekaro­s oop en haal vir Kanoes af. Sy krap met haar hande in die klam grond en haar hart pyn toe sy die ou kole kry waar sy en Koeroetjie die dag vuur gemaak het toe sy hom die berg kom wys het.

Die ligte oostewind roer die takke van die kallertaai­bos en oorkant gooi die son sy eerste strale teen die hange. Sy vryf die garrabessi­es soos daardie dag uit en gooi dit in haar mond, maar verbitterd spoeg sy dit weg.

Sy smoor die hartseer, want hier op die symste plek het Koeroetjie aan haar die mooiste beloftes gemaak. Driftig vat sy die taaiboskie­rie en begin die berg klim, want sy moenie nou saf raak nie. Sy moet deurdruk en vir Koeroetjie pynig waar dit die seerste maak.

Koorsagtig beur sy boontoe. Natgesweet struikel sy oor ’n taaiboswor­tel as sy oor die nek gaan waar die oostewindj­ie haar in die gesig klap. Agter die nek swenk sy met die maanhaarri­f op na die kruin van die berg. Haar oë is vasgenael op die afgrond van die regop krans wat lyk soos ’n boerseepst­een wat afgesny is.

Op die laaste bankie gaan sy sit en maak die abbavel los. Dis of die sluise van haar hart oopgaan en die oostewind dit opskep en oor die afgrond gooi. Onvas op haar voete tuur sy af na die vallei en sien die dwarrelend­e rook bokant die Delila se skerm opkrul. Sy sien die stof van Koeroetjie se veetrop en byt op haar lippe. Bokant haar sweef ’n tiervoël en ondertoe hoor sy die skril stem van die twee jakkalsvoë­ls.

Al die pad teen die berg uit het sy met die Here baklei en verwyt omlat sy ’n randeier is en voel soos die melaatses waarvan Ouma haar geleer het. Haar liggaam bewe soos ’n krimpsiek boklam. Die keffer by haar voete spring regop toe Fytjie die kitaar oor die afgrond slinger.

Sy vou vir Kanoes in haar arms toe en prewel: “Koeroetjie, vemôre moet jy boet vir jou ontrouheid!” Sy klim op die laaste rots en voel hoe die afgrond hulle soos die oë van ’n dassieadde­r nadersuie.

Koeroetjie se kop ruk toe ’n angswekken­de gil deur die vallei trek.

Gert Sarrisam is Gert Engelbrech­t wat op die plaas Sarrisam buite Garies boer. Talle boeke en kontreisto­ries uit sy pen het al die lig gesien. Stuur e-pos aan sarrisam@telkomsa. net of bel 027 581 1021 om ’n boek te bestel.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa