‘BEESTE VAN DIE SEE’ SE LES OOR DROOGTE
Die Japannese verdedig al jare lank die feit dat hulle walvisse jag met onder meer die redenasie dat minder walvisse uiteraard minder vis vreet. Daar sal dus meer vis vir menslike gebruik wees, vertel die invloedryke skrywer en omgewingsaktivis George Monbiot. As ’n mens só daaraan dink, redeneer die Japannese, sal minder walvisse eintlik goed wees vir die mensdom!
Namate die getalle van walvisse egter drasties gedaal het, het die teenoorgestelde gebeur — die hoeveelheid vis het ook verminder. Wetenskaplikes wat hierdie eienaardige verskynsel nagevors het, het besef die lot van die jagter is intiem met dié van sy prooi verstrengel.
Dit blyk toe dat die aansienlike hoeveelheid yster- en stikstofryke mis wat walvisse in die see stort, ’n deurslaggewende rol speel in die bemesting van die produktiewe boonste laag seewater. Die son dring hier binne, laat die plantplankton fotosinteer en gebruik die walvismis. Die plantplankton word ook langer in hierdie boonste laag water gehou wanneer die enorme walvisse vanaf die dieptes na die oppervlak swem. Namate die plantplankton vermeerder, vermeerder die diereplankton wat daarop voed. Dit dien weer as kos vir die volgende laag vispredatore, wat weer groter visse voed totdat daar kos is vir haaie, dolfyne en walvisse. Só word die mikroskopiese bousteen van die oseane deur sy reuse in stand gehou. Walvisse vreet toe nie net vis nie, hulle hou ook die visse aan die lewe!
Indien Monbiot weet hoe samehangend die ekostelsels werklik is en die wisselwerking tussen die oseane se grootste en van sy heel kleinste bewoners verstaan, gaan dit die verstand te bowe dat hy net so ’n vurige teenstander van beesboerdery kan wees. Só het prof. James Blignaut, ’n ekologiese ekonoom, op die jaarlikse saamtrek van veldvleisboere op Boschendal in die Wes-Kaap gesê.
Ja, diere stel metaangas vry, maar hul bydrae tot koolstofbinding in die grond is nie net ’n veel groter teenvoeter teen klimaatsverandering as wat die meeste mense besef nie, maar speel ’n noodsaaklike rol om die grond vrugbaar te hou en sy waterhouvermoë drasties te verhoog.
Volgens Blignaut se berekeninge sal ’n skamele verhoging van 0,1% in die koolstofinhoud van grond op net 30% van Suid-Afrika se natuurlike weidings en saailande 70 miljoen ton koolstof in die grond bind. Dit het ’n verbysterende totale waarde van bykans R8 miljard. Die totale vrystelling van metaangas van ál Suid-Afrika se beeste is gelykstaande aan net 12% van daardie gebinde koolstof.
Die wêreld het dus méér beeste nodig, nie minder nie. Met die regte bestuurstelsels sal die diere die grondvrugbaarheid herstel, welvaart vir mense skep en klimaatsverandering hokslaan. Dít is hoe samehangende ekostelsels werk.
Net omdat die mens ’n man op die maan kon sit, die atoom in twee kon deel en vandag in stede woon met ’n beperkte verbintenis tot die natuurlike prosesse wat die beskawing onderhou, beteken dit nie mense kan hierdie oeroue natuurlike verbintenisse, soos dié tussen walvisse en plankton of beeste en gras, vryspring nie.
Ja, dit kan voel of ’n droogtegeteisterde skaapboer in die NoordKaap se lot ligjare verwyderd is van dié van ’n stadsbewoner in Gauteng, maar dit is nie. In ’n stadium gaan die droogte se ellende Suid-Afrika se stede bereik, hetsy deur hoër voedselpryse of die toeloop van desperate mense wat die munisipale infrastruktuur in duie gaan laat stort. Of ons nou walvisse, beeste of mense is, dieselfde reëls geld.