MOENIE VAN INFORMELE MARK VERGEET
As ’n ekstensiewe veeboer wat met skape en vleisbeeste in die Suid-Vrystaat boer, hoor ek gereeld die volgende gonswoorde en frases: hormoonvrye vleis, koolstofspoor, grasboer, vrylopend, nismark, gesonder ekologie, wit of geel vet, organies, waardeketting, dieregesondheid, dierewelstand, veldvleis, gedragskode, tegnologie, Karoolam, volhoubaarheid, grensbeheer, vleisklassifikasie . . .
AI hierdie woorde het die vooruitsig om meer waarde tot jou produk toe te voeg, maar met gemengde sukses.
En nou die nuwe rigting van naspeurbaarheid, wat blykbaar ’n vleissnit kan terugspoor tot by ’n betrokke plaas! Dit is blykbaar omdat die huisvrou in Sandton dit so verkies en so besorg is oor baie dinge in die landbouomgewing.
Die groot meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking gee egter nie ’n duit om oor die oorsprong of spesifieke snitte nie, en hul gaarmaakmetodes verskil heelwat van dié van die vrou in Sandton. Gaan kyk maar in townships oor naweke waar ’n klomp vee geslag word en lewende hoenders (oud-lêhenne) in hokke staan en wag. Ook die duisende afvalle en beeskoppe uit formele slagplase vind hul weg soontoe.
Kan iemand by die Rooivleisprodusente-organisasie of die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming vir ons sê hoe groot die informele mark is waar geen van bogenoemde gonswoorde van toepassing is nie?
Wanneer die vryehandelsbeleid in Suider-Afrika ingestel word, sal nog meer slagdiere op die mark kom wat regstreeks met die plaaslike aanbod sal meeding.
’n Mooi voorbeeld plaaslik is die Moslem-inwoners wat met hul Ramadan-viering lewende skape en bokke met sekere kenmerke wil hê om self te slag. Dit gebeur alles buite die normale bemarkingslyne. Ook die sypaadjiehandelaars het ontstaan waar groot hoeveelhede vleis gaargemaak en verkoop word, al is dit sekerlik onwettig.
Dit lyk vir my of die hoëwaardemark vir vleis, asook die uitvoer daarvan, baie aandag geniet. Die swak wisselkoers maak dit ook baie aanloklik. Indien ’n siekte egter iewers uitbreek en uitvoer stopgesit word, is boere terug na die plaaslike mark.
Die uitvoer van skape en beeste per skip in groot getalle sal ook nie van die grond afkom nie.
Suid-Afrika sal nog baie jare vorentoe met inwoners sit wat arm is en en bykans hul totale inkomste aan voedsel moet bestee. Vir hulle sal bekostigbaarheid en maklike beskikbaarheid altyd die hoofvereistes wees.
Die meeste kopers van groente en vrugte op varsproduktemarkte kom uit townships, waar hulle daardie groente en vrugte weer gaan verkoop omdat die inwoners dit so verkies.
Gesien in die lig dat boere plaaslik sekerlik net genoeg rooi- en witvleis produseer vir die bevolking, glo ek enige styging in die aanbod sal plaaslik opgeneem kan word met bekostigbaarheid as hoofdoel en sonder bemarkingsfoefies wat net vir ’n klein deel van die vleismark belangrik kan wees. JOHANN NEETHLING Smithfield