WATWOU ‘BESTAANSBOERE’
’N ONLANGSE besoek aan die Mooketsimark in Limpopo het ’n kollega van Manie herinner aan ’n sin in Utz, wyle Bruce Chatwin se boekie oor hoe ene Utz die kommunistiese owerhede in Tsjeggo-Slowakye gepypkan het om sy porseleinversameling te behou en te vergroot: “By die mark het almal gelag, gekibbel, gegee, geneem, en daardeur bo alle twyfel, en ten spyte van wat die heethoofde sê, bewys dat handel een van die natuurlikste en genotvolste plesiere in die lewe is.”
Jy kry nie aspersies, vars gemmer of aarbeie by die Mooketsimark nie. Maar van basiese en gesonde groente en vrugte wat mense met min geld kan bekostig, is daar in oorvloed.
Koolkoppe, bossies spinasie, wortels en beet, uie en aartappels, bokse appels van alle kultivars, klasse en groottes, en, natuurlik, tamaties.
Die boerdery ZZ2 is immers een van die eienaars van die mark en die grootste voorsiener aan die mark.
Jy kry wel kopers (klein en groot) wat die beste en varsste wil hê. Hulle ken hul mark baie goed – of hulle van die Spar op Modjadjiskloof is, vir ’n skoolvoedingskema koop of ’n klein tafeltjie by ’n straathoek het.
Die mark is klein vergeleke met die Johannesburgse of Kaapse varsproduktemarkte, maar daar gons die energie op ’n ander vlak.
Daar is amper ’n atmosfeer van sorg onder die markagente en kopers.
RSA se markagente gaan uit hul pad om hul kopers en boere wat aan die mark lewer, tegemoet te kom.
Adri Maartens, in jare jonk, maar ’n markveteraan, sê haar kollega Dikeledi Maila “vat haar kar en ry die provinsie in, op soek na lappies groente” van kleinboere wat hul groente aan die mark kan lewer.
Die 120 swart boere wat aan die mark lewer, is nie meer almal kleinboere nie.
Steven Mohale is ’n kommersiële boer uit eie reg, terwyl ander geleer het om reg te staan wanneer pryse hoog is vanweë tekorte.
Dikeledi het ook begin om halfverwerkte groen mango’s vir atjar te werf.
Manie se kollega het die vier 50 kg-sakke vol mango’s so gekyk en gewonder wie sal só ’n groot sak koop. Toe sy weer kyk, was daar net drie.
En toe word daar resepte uitgeruil. Manie se kollega verkies atjar met vars witbrood en botter, maar Dikeledi sê ’n kota is nie die naam werd as dit nie mango-atjar bevat nie. Jy kan nog die russiese wors, weense worsies, kaas of slaptjips minder maak of weglaat, maar nie die atjar nie.
Die mark sorg vir mooi stories, soos die man wat twee jaar gelede uit die tronk vrygelaat is en nou meer as ’n halfmiljoen rand se appels by die mark gekoop het.
Hy verkoop die appels – en
nogal nie die kleinste en goedkoopste appeltjies nie – uit ’n winkelwaentjie by drie verkeersligte op Tzaneen.
LANDBOU SE VRUGTE
Daar heers ’n algemene gees van pessimisme in die land vanweë onder meer die trae ekonomie en werkloosheid. In landbougeledere gaan dit nie veel beter nie. Daar is ’n swartgalligheid geskep deur onder meer onsekere grondhervormingsbeleid, wateregte, biosekerheid en droogte.
Te midde van die sentiment het die landbouekonoom Wandile Sihlobo, wat nou ook ons landboustem op die presidensiële ekonomiese adviespaneel is, met ’n paar ligpunte na vore gekom.
Hy skryf in ’n rubriek in die dagblad Business Day mense moet nie die vooruitgang in die landbou sedert 1994 uit die oog verloor nie. Die totale landbouproduksie – wat gewasverbouing, lewende hawe en tuinbou insluit – het in 25 jaar byna verdubbel.
Hy sê die bruto waarde van die sektor het sedert 1994 negevoudig toegeneem en het in 2018 al op R277 miljard gestaan.
Die grootste rede vir die vooruitgang kan toegeskryf word aan tegnologiese vooruitgang en ’n progressiewe handelsbeleid.
Die tegnologie het ingesluit biologiese vooruitgang, soos die aanvaarding van geneties gemodifiseerde gewasse, maar ook meganiese vooruitgang met die benutting van groter en sterker werktuie om produksie te verhoog.
Wat handel betref, het SuidAfrika ’n sleutelspeler in die landbouuitvoermark geword.
In 2018 was SuidAfrika in die 32ste plek onder die wêreld se uitvoerlande en die enigste Afrikaland onder die wêreld se top40 landbouuitvoerlande ten opsigte van waarde.
Europa, Asië en die res van Afrika voer sowat 90% van ons landbouuitvoerprodukte in.
Sowat die helfte van SuidAfrika se landbouproduksie is vir die uitvoermark bestem met tuinbouprodukte, wyn, wol en graan aan die voorpunt.
Die paar syfers laat Manie sommer nou mos baie beter voel! Wandile sê alles is egter nie net rooskleurig nie. Die sektor moet steeds hervorm word om meer mense in te sluit en produksie te verhoog. Al wat nodig is, is ’n stabiele en voorspelbare beleidsomgewing om beleggings te lok.
BEMARKINGSRAAD SE HOOF GESKORS
Zama Xalisa, uitvoerende hoof van die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR), is hangende ’n ondersoek na wangedrag geskors.
Die raad het op 4 Oktober in ’n verklaring bekend gemaak dat hy Xalisa as voorsorgmaatreël geskors het. Die skorsing geld vanaf 2 Oktober en Xalisa ontvang steeds betaling.
Dr. Simphiwe Ngqangweni, senior bestuurder van die NLBR se sentrum vir markte en ekonomiese navorsing, neem tydens Xalisa se skorsing as uitvoerende hoof waar.
Landbouweekblad het in September in Manie oor vrae rondom Xalisa berig. Dit was nadat die dagblad Citizen berig het dat Xalisa na bewering ’n prestasiebonus van R355 000 ontvang het sonder dat sy prestasiebeoordeling plaasgevind het. Hy is toe glo gevra om die geld terug te betaal.
Die koerant het verder berig dat bespiegel is of die betaling van die bonus verband kon hou met mnr. Senzeni Zokwana, vorige minister van landbou, se afdanking van prof. Phineas Chauke, voorsitter van die raad.
Xalisa is einde 2017 as uitvoerende hoof aangestel. Hy het meestersgrade in sakebestuur en volhoubare landbou. Hy was nou betrokke by die stigting van die Ontwikkelingsvereniging vir Graanboere en die Nasionale Rooivleisontwikkelingsprogram.
LAAT
Boer: “Dit is al die derde keer hierdie week dat jy laat is.”
Werker: “Is dit al sowaar Woensdag?”