Leë damme bring groot onsekerheid
LIMPOPO se boere tel die druppels water te midde van nypende watertekorte. Dié tekorte het veroorsaak dat beurtwater op Tzaneen ingestel is.
Die departement van waterwese en sanitasie het die Tzaneenmunisipaliteit aangesê om beurtwater in te stel ná die Tzaneendam se vlak einde September tot net 8,8% gedaal het.
Die dorp se krane sal volgens die Letaba Herald op Maandae, Dinsdae, Donderdae en Vrydae van 09:00 tot 16:00 toe wees.
Die waterskedulering is egter nie van toepassing op die landbou nie. Mnr. Jacque Kruger, uitvoerende hoof van die Letaba-watergebruikersvereniging, wys daarop dat die gebruikersvereniging nie beheer het oor munisipale water huishoudelike en industriële gebruik nie.
Kruger bestuur die waterbalans in die Letabarivierstelsel van die Ebenezerdam af tot waar die Letabarivier in die Krugerwildtuin invloei. Hy laat in hierdie stadium elke dag water uit die Ebeneserdam om die Tzaneendam aan te vul sodat daar nog ’n bietjie water vir landboudoeleindes beskikbaar is. “Ons is egter baie bekommerd oor hoe min water daar nog is,” sê Kruger.
BOERDERYE
Mnr. Bram Snijder, voorsitter van die Tzaneen-avokadostudiegroep, sê boere het nog “klein bietjies water in opgaardamme, hopelik genoeg om ons deur die vrugsettydperk te kry vir volgende jaar se oes, maar daarna is daar nie meer water nie”.
Snijder sê die Letsitele-omgewing is egter nou sonder water en boere pomp maar versigtig aan die boorgate wat nog nie opgedroog het nie.
Letsitele is een van Limpopo se belangrikste sitrusproduksiegebiede en baie boere in die omgewing het reeds groot persentasies van hul boorde ophou natlei. Hulle hou nou net kernblokke aan die lewe, sê Snijder.
Met die provinsie se rooivleisbedryf gaan dit ewe moeilik. Mnr. Wayne Knight, ’n beesboer van Mokopane boer op dieselfde plaas wat sy oupagrootjie ná die Anglo Boereoorlog gekoop het. “Hierdie is een van ons droogste jare ooit,” sê Knight.
Mnr. Lukas Eksteen, voorsitter van die Limpopo RPO, sê dis moeilik om die impak van die droogte op veeboere te kwantifiseer. Dit is eers by die veilingslokaal wat ’n mens besef hoe dit in die veld gaan. Hy sê veilingshuise kry baie swaar, want selfs al verkoop hulle vee, is daar nie gewig aan die diere nie en die pryse is swak.
NOG BEURTWATER
Tzaneen is nie die enigste dorp in Limpopo wat beurtwater toepas nie. Inwoners van Mokopane, sowat 150 km wes van Tzaneen, moet al meer as drie maande met minder water oor die weg kom. Dié dorp se water kom uit die Doorndraaidam wat tans net 10,9% water het.
Ander damme in Limpopo waarvan die vlakke kommerwekkend laag is, is die Glen Alpinedam in die Mogalakwenarivier wat op 4,2% staan, die Middel-Letabadam wat op 4% staan en die Modjadjidam wat op 8,2% staan. Aan die vooraand van die reënseisoen wissel die res van die provinsie se damvlakke met onder meer die Toursdam in die Ngwabitsirivier op 30,7% en die Magoebaskloofdam in die Politsirivier op 98,3%.
In Mpumalanga staan die Ohrigstaddam se vlak op 7,7% en die Rhenosterkopdam net 0,9%. Ander damme in dié provinsie se damvlakke wissel ook, met die Morgenstonddam in die Ngwempisirivier op 38,8% en die Vygeboomdam in die Komatirivier op 94,2%.
DROË VELD EN BRANDE
Die veld in Limpopo is baie droog. Boere by Mokopane wat sê die reënval in die eerste nege maande vanjaar was die minste in die afgelope sestig jaar. By Marken het die Kunaprivier opgehou vloei en plaasdamme droog vinnig op.
By Levubu en Tzaneen het brande in die laaste weke van September verwoesting gesaai. Die Zoutpansberger op Louis Trichardt berig dat omtrent 400 ha landbougrond by Levubu deur brande in puin gelê is. Wegholbrande het ook verwoesting gesaai by die Ben Lavin-natuurreservaat en Magua.