UURGLAS LOOP LEEG VIR RAMPGELD IN OOS-KAAP
INDIEN die Oos-Kaapse provinsiale regering veel langer sloer met sy aansoek om ’n rampverklaring, sal die provinsie se boere eers oor 18 maande weer in aanmerking kom vir noodhulp van die nasionale tesourie.
Agri Oos-Kaap en die DA waarsku reeds geruime tyd dat ’n ekonomiese ineenstorting in die provinsie se landelike gebiede dreig weens die voortslepende droogte.
Dit was teen druktyd nie duidelik watter stappe die provinsiale regering beoog nie. Mnr. Oscar Mabuyane, premier van die provinsie, het op 1 Oktober tydens
die voorlegging van sy jaarlikse verslag aan die wetgewer gesê groepe onder leiding van die departemente samewerkende regering en tradisionele sake en landelike ontwikkeling en grondhervorming sal ’n “omvattende verslag” oor die droogte aan die provinsie se uitvoerende komitee maak sodat dié komitee “besliste intervensies” kan maak in sy vergadering wat “binnekort” saamgeroep sal word.
Die provinsie kan volgens die Wet op Rampbestuur (Wet 57
van 2002) slegs aansoek doen om droogtehulp of vinnige reaksie van die nasionale tesourie indien die provinsie tot ’n rampgebied verklaar word.
“Die provinsie moet net sy werk doen en die bal aan die rol sit om die provinsie tot ’n rampgebied verklaar te kry. Dit is ’n stap in die regte rigting en dan kan ons om geldhulp begin vra, maar ons kan niks doen voor die provinsie tot droogtegebied verklaar word nie,” sê mnr. Retief Odendaal, die DA se skaduminister vir landelike ontvir
wikkeling en grondhervorming in die Oos-Kaap.
ONBEANTWOORD
Odendaal het op 1 Oktober in ’n brief pres. Cyril Ramaphosa gevra om in te gryp in die provinsie ná hy geen reaksie gekry het op ’n brief aan Mabuyane nie. Hy het dié brief geskryf omdat die Oos-Kaapse departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming nie die impak “van die ergste droogte in ’n eeu”, ernstig opneem nie.
Hy wys daarop dat die departement in die boekjaar 2019-’20 bedrae van R83 miljoen vir reis en verblyf, R10,7 miljoen vir spyseniering, R9,8 miljoen vir konsultante en R9,5 miljoen vir bemarking begroot het.
Hy sê distriksmunisipaliteite moet verantwoordelikheid neem vir die montering van droogtetoestande en dat die provinsiale regering verantwoordelikheid moet neem vir droogtebestuur.
Odendaal sê tensy die provinsie binne die volgende paar weke
tot droogterampgebied verklaar word, is dit “neusie verby” om vir noodhulp in die huidige boekjaar in aanmerking te kom. Indien die aansoek in die volgende boekjaar ingedien word, sal die geld eers oor ’n jaar en ’n half uitbetaal kan word.
GEEN HULP
Die Oos-Kaap het aan die begin van die jaar droogtegeld van die nasionale tesourie ontvang, maar die meeste is aan munisipaliteite oorbetaal om infrastruktuur, soos pompe en reservoirs, te herstel en te verbeter, of om boorgate te boor, sê Odendaal.
Die res van die geld is aan opkomende boere gegee, maar vrese bestaan dat die geld vermors is, aangesien hulle geen rekenskap kan bekom van hoe dit bestee is nie.
Kommersiële boere het slegs R800 000 van die provinsiale regering ontvang ná ingryping van Agri Oos-Kaap. Volgens Odendaal is dié bedrag slegs ’n druppel aan die emmer.