MABUZA BELOOF ONMIDDELLIKE HULP, MAAR SPANNING EIS TOL
SAAM met die besoek van adj. pres. David Mabuza en me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, aan die droogtegeteisterde Noord-Kaap, het kennisname gekom van die gesukkel en rompslomp met betrekking tot die formalisering van die droogte rampverklaring en toekenning van ramphulp aan die Noord-Kaap.
Só sê mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, wat die afvaardiging van die georganiseerde landbou gelei het wat Mabuza tydens sy besoek aan Aggeneys in die Noord-Kaap te woord gestaan het.
Hy sê Mabuza was geskok oor die omvang van die ramptoestande waaraan die boere onderwerp is. “Mabuza het gesê geld moet binne ’n week hertoegewys word vir die koop van voer.
“Hy het ook kennis geneem dat gebrekkige watervoorsiening weens die droogte die sink van boorgate sal verg. Dit behels plekke waar boorgate dieper gemaak word of nuwe boorgate gesink moet word om drinkwater aan mens en dier te voorsien,” sê Jansen.
NOODGELD
Mabuza het na afloop van sy besoek bekend gemaak dat R30 miljoen onmiddellik bewillig sal word vir die verkryging en verspreiding van voer.
Altesaam R425 miljoen se droogtehulp is aangevra. Mnr. Willie Aucamp, DA-LP in Kuruman, het aan Netwerk24 gesê tot R600 miljoen kan nodig wees vir boere om kop bo water te hou.
Jansen sê een van die onmiddellike stappe wat volgens Mabuza voorkeur moet kry, is onderhandelings met Land Bank om landbouskuld te herstruktureer om verbandhouers te help.
“Hy het bevestig dat die nasionale regering nie sy plig ten opsigte van die Noord-Kaapse boere in die heersende ramptoestande sal versaak nie. Voorts sal die staat ook moet oorweeg om boere in nood tydelik na huurgrond van die staat te verskuif, terwyl hul grond in die rampgebiede herstel,” sê hy.
Mabuza het dit benadruk dat alle Noord-Kaapse boere in nood, ongeag van velkleur, gehelp moet word, omdat die hele landboubedryf onder die rampdroogte deurloop en dat dié bedryf gestabiliseer moet word.
Mabuza se voorstelle behels ook die instelling van vyf streeksondersteuningsentrums om die samewerking tussen die private sektor, boere en departementele amptenare te bevorder.
KOEPONSTELSEL
Jansen verwelkom dit dat dr. Saul Zamani, die Noord-Kaapse premier, ingestem het dat die koeponstelsel geld waarvolgens die beoogde ramphulp deur die landboubesighede versprei word en nie deur private agente nie.
“Ek het die dag baie opbouend ervaar met die wete dat ons verdere hulp sal kry en ek glo dat die regering kennis geneem het van die erns van die ramptoestande,” sê Jansen.
Me. Sybil Visagie, boervrou en leier van die Save the Sheep-projek, sê die vrees, angs en onsekerheid waaronder die provinsie se boere lewe, het ernstige gesondheidsprobleme, onder meer hartaanvalle, tot gevolg.
“Hierdie is nie die tipe spanning wat ’n mens net agter jou kan sit nie. Daar is skape wat gevoer moet word, werkers wat betaal moet word, kinders wat op skool gehou moet word, ouers wat in ouetehuise is en onderhou moet word. Dit is onmenslik om soveel verpligtinge met geen inkomste te moet nakom.”
Van die boere probeer oorleef ná hulle vier jaar lank nie ’n inkomste verdien het nie, maar steeds al dieselfde finansiële verpligtinge het.
“Daar word tans R14 wins gemaak per skaap wat verkoop word. Dit beteken dat ’n boer wat 1 000 skape verkoop, slegs R14 000 wins daarmee verdien. Dit is eenvoudig nie genoeg vir alles wat betaal en gekoop moet word nie.”