‘Gee gemeenskappe die mag om misdaad te bestry’
DIE DA glo gemeenskapsgeoriënteerde polisiëring wat distrikte se unieke kenmerke in ag neem, sal beter vrugte afwerp as die huidige benadering.
Dit blyk uit die landelike veiligheidsplan wat die party onlangs bekend gemaak het, en volg nadat die bekendstelling van die hersiene landelike veiligheidstrategie van die SA Polisiediens (SAPD) reeds verskeie kere uitgestel is.
Volgens AfriForum, wat statistieke van plaasmoorde en -aanvalle bywerk, was daar van 1 Januarie tot 30 September vanjaar 35 plaasmoorde en 337 plaasaanvalle.
Mnr. Andrew Whitfield, die DA se skaduminister van polisie, sê gekoördineerde gemeenskapsgeoriënteerde polisiëring deur vrywilligers in die landelike gebiede word met die plan beoog. Die model is aanpasbaar en sal die klem terugplaas op die unieke kwessies van verskillende landelike gemeenskappe, pleks van ’n enkele nasionale of provinsiale strategie wat op gemeenskappe afgedwing word.
Die model is grondwetlik en kan sonder wysigings aan bestaande wetgewing toegepas word. Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê dit bied geleenthede vir diegene wat graag reserviste wil wees, maar nie die tyd vir opleiding het en dit nie vir ’n vasgestelde aantal ure per maand kan doen nie.
KLEINER DISTRIKTE
Polisiekantore behoort volgens die plan toegewysde landelike afdelings te hê. Polisiekantore in hoofsaaklik landelike gebiede moet hul gebied in kleiner, hanteerbare polisiëringsdistrikte opdeel, en elk van dié afdelings moet minstens een polisielid hê wat as afdelingsbevelvoerder dien.
Gemeenskapspolisiëring is ’n bewese afskrikmiddel teen misdaad, veral as inwoners verantwoordelikheid aanvaar en op die uitkyk is vir mekaar se veiligheid. Whitfield sê gemeenskapsbetrokkenheid is noodsaaklik in die polisie se stryd teen landelike misdaad.
Luidens die DA se plan sal distrikte die mag hê om hul eie landelike veiligheidsplanne op te stel wat in ooreenstemming met nasionale en provinsiale strategieë is. Só sal stasiebevelvoerders en ander plaaslike belanghebbendes insette kan lewer om planne voortdurend aan te pas.
VRYWILLIGERS
Die plan maak voorsiening vir die stigting van landelike gemeenskapspolisiëringseenhede (LGP-eenhede) vir elke polisiekantoor wat minstens een landelike afdeling bedien. Die LGP-eenhede sal uit vrywilligers uit die plaaslike gemeenskap bestaan.
Vrywilligers kan by hul plaaslike LGP-eenheid aansluit en hul dienste sal slegs binne die grense van die betrokke polisiekantoor gebruik word. Só wil die DA verseker dat niemand wat oor die nodige sekerheidsklaring beskik, die reg ontneem word om deel te wees van landelike beveiliging nie.
Ondersteuningsnetwerke is ’n belangrike deel van die plan. Dit sluit in landelike burgerband-eenhede en radiokamers; landelike polisiëring deur middel van hommeltuie; en finansiële ondersteuning
BLITSREAKSIE
Ingevolge die plan sal daar nou met bestaande strukture van die polisiediens geskakel word, sê Whitfield. Landelike beveiligingseenhede (LB-eenhede) sal op streeksvlak in die polisie gestig word, wat deur heeltydse polisielede en spesialis-ondersteuningslede van die LGP-eenhede beman sal word. Die LB-eenhede sal ’n blitsreaksiefunksie vervul, landelike veiligheidsoperasies beplan en uitvoer, en verantwoordelik wees vir die opstel en toepassing van streeksgebaseerde landelike veiligheidsplanne.
Die DA het sy plan reeds aan die SAPD voorgelê. Pogings is aangewend om die plan met genl. Khehla Sitole, die nasionale polisiekommissaris, te bespreek, maar die DA het teen druktyd nog geen terugvoering gekry nie.
Aangesien die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie nog nie eens die nasionale hersiene landelike veiligheidstrategie onder oë gehad het nie, is daar aanduidings dat die Wes-Kaapse regering aspekte van die DA se plan gaan begin toepas.
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, sê misdaad en plaasaanvalle in Suid-Afrika is ’n krisis. Die landelike veiligheidsplan is die DA se bydrae om die land veiliger te maak. Landbouproduksie in die WesKaap het verlede jaar R43 miljard beloop, wat 10% van die provinsie se bruto binnelandse produk verteenwoordig het. Die Wes-Kaap dra nagenoeg 45% tot Suid-Afrika se landbou-uitvoer by.
* Lees meer oor die Wes-Kaapse plan by bit.ly/2nizuHZ.