WES-KAAP KRY PROEF VIR HERLEWINGSLANDBOU
’n Herlewingslandbouproef met ’n verskeidenheid jaargewasse en vee waarin verkieslik nie kunsmis of plaagdoders gebruik gaan word nie, het vanjaar in die Wes-Kaap begin.
Me. Lisa Smorenburg, navorsingstegnikus by die Wes-Kaapse departement van landbou, bestuur die proef op die Tygerhoek-navorsingsplaas. Die departement doen die afgelope paar jaar dekgewasproewe op verskillende plase in die Wes-Kaap.
Die proefperseel gaan in twee groepe van ses kampe elk verdeel word – een groep vir dekgewasse en die ander vir kontantgewasse, soos koring, hawer en gars. Smorenburg het vanjaar Saia-hawer in alle kampe geplant. Sy het in September die Saia-hawer gerol en somerdekgewasse daarop geplant. Merino’s gaan die dekgewasse teen hoë druk bewei. Sy gaan elektriese drade gebruik om die skape elke tweede of derde dag te skuif.
Sy gaan eersdaags begin om plantstroke vir bestuiwers met eenjarige en meerjarige plante tussen proefbehandelings te plant. Sy beoog om inheemse plante, soos haarbossie, wilderoosmaryn en spekboom, in die bestuiwerstroke te plant. As die bestuiwerstroke te hoog groei, sal sy dit deur die skape laat bewei.
Om die regte plante te kies, het sy hulp van kundiges ingeroep. “Mnr. Rupert Koopman, plantkundige van die Kaapse Natuurbewaring, het ’n lys van plante gegee. Ek kan wilderoosmaryn- en haarbossiesaad by die Worcester-veldreservaat kry en my kollega Pippa Karsten, wat in alternatiewe gewasse spesialiseer, sal heuningbosplantjies bydra.”
Om dit nóg makliker te maak vir insekte om die perseel te besoek, gaan sy probeer om deur die jaar blomme te hê en verskillende groottes gate in ’n stomp boor vir ’n soort “insekhotel”.
In 2020, nadat die somerdekgewasse geplant is, gaan sy die ses kampe elk in drie kampe verdeel. Die kampe sal ná drie jaar omgeruil word, sodat kontantgewasse in die dekgewaskampe geplant word, en dekgewasse in die kontantgewaskampe.
Kontantgewasse sal die eerste paar jaar met ’n bietjie kunsmis geplant word, maar wanneer hulle in die vierde jaar ná dekgewasse geplant word, gaan dit sonder kunsmis wees. “Ons gaan ook nie teen plae spuit nie.”
’n Kamp waarop kontantgewasse aaneenlopend geplant word, sal as kontrole vir die proef dien.
AMERIKAANSE BOERE INSPIREER
Smorenburg het verlede jaar tydens ’n toer na die Amerikaanse Midde-Weste onder die indruk van die beginsels en waarde van herlewingslandbou gekom. Sy het in Maart op Landbouweekblad en die Soil Health Centre se herlewingslandboukonferensie by Joostenberg gesê die Amerikaners gebruik min
of niks kunsmis en plaagdoders nie, veral nie glifosaat en parakwat nie om die gevaar van onkruidweerstand af te weer, en pas hoedrukbeweiding toe. “Baie van hulle gebruik bestuiwerstroke om voordelige insekte te lok en dekgewasse om deurentyd lewendige wortels in die grond te hê.”
Die boere verkoop hul plaasprodukte regstreeks aan verbruikers deur die internet of op boeremarkte. Smorenburg was beïndruk deur die vele inkomstestrome waarop Amerikaanse herlewingsboere kan staatmaak, van hoenders in verskuifbare hokke wat oor die plaas geskuif kan word en saad van vorige oeste en insekte vreet, eiers lê en later geslag kan word, tot heuning, dekgewassaad wat as veevoer geoes en volgende jaar in ’n ander kamp geplant kan word of aan bure verkoop kan word.
vDie boere pas hoëdrukbeweiding streng toe. “Hul skape of beeste bly nie langer as 24 uur op dieselfde stuk grond nie, maak nie saak hoeveel plante daar nog is nie.”
Die proef sal vir 13 jaar volgehou word. Smorenburg sê sy wil daardeur bewys dat herlewingslandboupraktyke wat sy in Amerika gesien het, ook in die Wes-Kaap toegepas kan word, ondanks die moeilike omstandighede in dié geweste.
Sy probeer verskillende kundiges in die Wes-Kaapse departement van landbou by die proef betrek sodat hulle aan die einde van die proef 13 jaar van akkerboukundige, grondkundige, ekonomiese, plantsiekte- en insektedata sal hê om aanbevelings aan boere te maak.