TEEL SÓ KLIMAATFIKSE BEESTE
Klimaatsverandering is een van die faktore wat boere dwing om met geneties meerderwaardige diere te boer wat ook funksioneel doeltreffend is.
Mnr. Percy Bareki, produksiekenner van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het op die jaarlikse vleisbeesinligtingsdag van die Landbounavorsingsraad (LNR) se Armoedsvlakte-bultoetsstasie buite Vryburg benadruk dat jy jou diere moet meet. “Doen jy dit nie, boer jy agteruit.”
Visuele waarneming is belangrik, maar ’n dier wat fenotipies goed lyk, is nie noodwendig ook funksioneel doeltreffend nie. “Teelmateriaal wys die meerderwaardige diere uit. Genetiese eienskappe kan dus deur fenotipiese eienskappe en die uitwerking van die omgewing bedek word.”
Weens klimaatsverandering, meer droogtes en ’n toename in plae moet boere met die regte teelmateriaal boer. “Prestasietoetsing begin by die boer, waarvoor hy slegs ’n skaal, boek en pen benodig sodat hy behoorlike identifikasie kan toepas, diere weeg en inligting byhou.”
Mnr. Papas Melamu, boer van Vryburg, bestuur sy broer, Christopher, se Lamus-Bonsmarastoetery. Hy het hul pad van opkomende boer tot stoetteler beskryf. “Aanvanklik was ons beeste allerhande kleure en groottes. Toe begin ek die basiese beginsels van veeboerdery toepas: Wees lief vir jou diere, sorg elke dag goed vir hulle, ken elkeen aan die hand van ’n identifikasienommer, wees altyd bereid om te leer en hard te werk, en aanvaar daar sal verliese wees.”
Hulle het goeie, kommersiële Bonsmaraverse begin koop. In 2008 het hy met die byhou van inligting begin deur die aantal kere
wat ’n koei kalf aan te teken, dragtigheid te meet en teeltye te gebruik. In 2009 het hy die kalwers ná geboorte begin weeg, in 2010 by die Bokamoso-studiegroep aangesluit, in 2011 die speenkalwers begin weeg en in 2012 die Lamus-Bonsmarastoetery geregistreer.
Hy het gesê lesse wat hy by die studiegroep geleer het, is om boeredae by te woon, deel van ’n landbounetwerk te wees, doelwitte te stel, ander boere te besoek en by mekaar te leer.
Mnr. Thokozani Mdonga, senior navorsingstegnikus, het die voordele van prestasietoetsing verduidelik. Die vloei van teelmateriaal lyk soos ’n piramide – van stoettelers heel bo, kommersiële beesboere, opkomende kleinboere en heel onder ’n magdom kommunale boere.
Die vleisbeesprestasie- en -verbeteringskema van die LNR was histories net op stoettelers gemik, maar nou neem ander boere ook daaraan deel om hul kuddes te verbeter.
As ’n boer sy koeikudde se prestasieprofiel ken, kan hy meerderwaardige bulle identifiseer. Daarvoor is prestasietoetsing
noodsaaklik sodat beraamde teelwaardes bereken kan word. Die gebruik van bulle met goeie beraamde teelwaardes maak genetiese vordering moontlik.
Prestasietoetsing begin by die gebruik van teeltye om te verseker die koeie is tydens die dek- en kalftyd in optimale kondisie. Meet en weeg deurgaans en stuur die inligting na die Geïntegreerde Registrasie- en Genetiese Inligtingstelsel (Intergis). Die boer gebruik die verwerkte inligting vir seleksie. Prestasietoetsing vergemaklik ook kuddebestuur danksy die vaste teeltye en eenvormige nageslaggroepe.
Mnr. Gerrit Koekemoer, ’n tegnikus van die departement, het gesê deur ’n dier se DNS te ontleed, kan sy genetiese eienskappe vertolk word. Die mooiste, vetste bul behaal gewoonlik die hoogste prys op ’n veiling, maar is nie noodwendig geneties die beste bul nie. Dit is dus nodig om eerder na teelwaardes te kyk en dit korrek aan te wend, anders kan ’n boer met nageslag eindig wat hy nie wou hê nie.