Veeskool maak só deure oop vir boere
Leergierige veeboere in Suider-Afrika ruk jaarliks op na die Aldamveeskool naby Ventersburg in die Vrystaat. Dié skool word vanjaar die elfde keer deur Landbouweekblad, die LRF en Breedplan aangebied. Dié artikel gee meer inligting oor wat dié veeskool bied.
Van dieremonitering en klimaatsverandering tot hommeltuie en satelliete gaan onder die vergrootglas geplaas word op die Aldam-veeskool, wat van 16-18 Oktober by die Allemanskraal-vakansieoord gehou word.
Vanjaar se tema is “Nuwe tegnologie vir presisieveeboerdery”. Verskeie internasionale en plaaslike sprekers gaan boere vertel hoe nuwe tegnologie hul boerderypraktyke doeltreffender en winsgewender kan maak.
“Namens die Lewendehaweplaatjies. registrerende Federasie (LRF) se raad heet ek almal welkom wat vanjaar se skool gaan bywoon,” sê mnr. Wayne Porter, voorsitter van die LRF.
“Ons sit in ’n knyptang in ons veeboerderye waar insetkoste aanhoudend styg en ons in werklikheid minder vir ons speenkalf kry as verlede jaar. Die werklikheid is dat ons doeltreffender moet boer en tegnologie moet inspan om daarmee te help.
“Dit begin op boerderyvlak met slim maniere om beeste te identifiseer met behulp van elektroniese en selfs sonkragoorDit kan ook help om veediefstal te bekamp en kan saam met jou skaal en kuddebestuursprogram werk om die hoëproduserende diere te identifiseer,” sê Porter.
Die skool lê ook klem op ander nuwe tegnologie, soos die seleksie van diere deur middel van genomika, verbeterde voerdoeltreffendheid, hoe om die belangrike dieresiektes te bestuur en te bekamp, en die verstaan en bestuur van klimaatsverandering.
“Ons kyk ook na die hele waardeketting met ’n besoek aan Sparta en ’n lesing deur mnr. Pim Bijtel, hoof van slaghuise by Pick n Pay, oor die ontwikkelinge in die kleinhandelsektor.
“Ongeveer 60% van die kursusgangers is bona fide- kommersiële veeboere, 20% is stoettelers en die res is óf opkomende boere óf belanghebbendes in die bedryf,” sê Porter.
BEGINJARE
Aanvanklik het die LRF, saam met Landbouweekblad en Breedplan, van 2001 tot 2008 eers net ’n prysuitdelingsgeleentheid in Bloemfontein vir die toptelers in Suid-Afrika aangebied.
Die kompetisiereëls is sodanig geskryf dat die wenner van die nasionale kompetisie nie weer kon inskryf nie. Die bestuur het vinnig besef dat hulle te min wenners gaan hê omdat slegs ’n klein poel telers in aanmerking sou kom en met buitelandse telers kon meeding.
Die Aldam-veeskool is na aanleiding hiervan gestig sodat die Suider-Afrikaanse stoet- en kommersiële telers deur kundiges van reg oor die wêreld opgelei kan word om op internasionale vlak mededingend te wees.
Die eerste vyf wenners van Landbouweekblad en Breedplan se Stoetteler van die Jaar-eerbewys was mnre. Brian Angus (Woodview-Angusstoetery), Llewellyn Angus (Wisp-Will-Simmentaler-en-Simbrastoetery), Philip Barnard (Mequatling-Angusstoetery), John Devonport (Devlan-Limousinstoetery) en Mecki Schneider (Okabra-Brahmanstoetery).
VOORSTE SPREKERS
Opleiding in alle aspekte van die waardeketting en die produksiesiklus is oor die jare verskaf.
In 2014 was die tema “Groei en doeltreffendheid”. Mnr. Ryan Peterson van Leachman Cattle Company in Amerika, wat ongeveer 1 500 bulle per jaar verkoop,
was een van die hoofsprekers. Sy voorlegging het gehandel oor die seleksie van bulle om te koop en hoe om ’n doeltreffende koeikudde te bestuur.
Nog ’n spreker was me. Alison Sunstrum van Kanada. Sy was deel van die span wat die GrowSafe-stelsel ontwikkel het. Danksy haar lesings is twee GrowSafe-stelsels in Suider-Afrika in werking gestel om voerinname en -omsetting akkurater te monitor. GenTecSol het die eerste een in Namibië opgerig en die tweede een is by die Landbounavorsingsraad se Irene-kampus opgerig.
Dr. Paul Arthur van Australië het die verskuiwing vanaf voeromsetting na netto voerinname as ’n eienskap bespreek.
In 2015 was die tema “Fokus op vleis en vrugbaarheid”. Prof. Bob Weaber van Amerika het oor koeigrootte en reproduksie gepraat en heelwat mites uit die weg geruim. Prof. Dietmar Holm van die Universiteit van Pretoria het al ’n paar keer as spreker by die skool opgetree en in 2015 het hy die belangrikheid van ’n kalftyd bespreek.
In 2016 was die tema “Verbruikersverwagtinge: Nuwe visie vir die jaar 2020 en vorentoe”.
“Al die bekende vleiskundiges in Suid-Afrika het as sprekers opgetree, onder andere dr. Phillip Strydom en proff. Hettie Schönfeldt en Arno Hugo. Hulle is bygestaan deur prof. Dale Woerner van Amerika, mnr. Kim Matthews van Brittanje en me. Sarah Strachan van Australië,” sê Porter.
“Daar sal nog lank oor hierdie skool gepraat word omdat die idee om ’n vleisgraderingstelsel in Suid-Afrika in werking te stel, daar sy ontstaan gehad het.”
Die tema in 2017 was “Neem deel aan die rooivleiswaardeketting deur verbeterde presisiebestuurspraktyke”.
Die wêreld se voorste genetikus, prof. Ben Hayes van Australië, het lesings oor die verskuiwing na genomika gelewer.
Een van die gewildste sprekers nóg was mnr. Don Schiefelbein, ’n Angus-boer van Amerika. Schiefelbein dien ook as voorsitter van die Amerikaanse Cattleman’s Association. Sy lesing oor hoe om ’n meesterplan te omskep tot ’n werkende visie het ’n blywende indruk gelaat.
In 2018 was die tema “Reproduksie, die fondasie vir winsgewendheid”.
Die skool het die drie beste sprekers ter wêreld in hierdie veld as sprekers genooi: dr. Reuben Mapletoft van Kanada, prof. Cliff Lamb van die Texas A&M-universiteit in Amerika en prof. Michael McGowan van Australië. Die feit dat ’n twee maande oue vers vir eierselle geaspireer kan word, was een van die besprekingspunte wat sy merk gelaat het. Dié tegnologie word nou suksesvol in Suid-Afrika toegepas.