Landbouweekblad

KEN JOU MIKRO-ORGANISMES

-

Volgens mnr. Gary Farr is daar slegs twee redes is hoekom mikrobes in die grond oorleef. Dit het aangepas om onafhankli­k te oorleef of dit het ’n simbioties­e verhouding met plante of diere ontwikkel. Op grond van hierdie eienskap, kan organismes in drie hoofgroepe gedeel word, naamlik saprofiete, patogene en simbiote.

Saprofiete is die organismes wat onafhankli­k van ander lewende organismes in die grond lewe en op dooie, organiese materiaal oorleef. Patogene is die organismes wat op ander lewende organismes, hetsy mikrobes, plante of diere, teer. Simbiote is die organismes wat in simbiose met ander mikrobes, plante en diere oorleef. Vir ’n gesonde ekostelsel is sowel saprofiete as simbiote noodsaakli­k. Albei kan deur goeie bestuur aangemoedi­g word, om jou gronde te koloniseer en vir jou boerdery van waarde te wees.

Daar is drie maniere om organismes en biologiese produkte, soos kompostee, in jou boerdery toe te dien. Dit kan as ’n saadbedekk­ing of direkte grondtoedi­ening gedoen word, wat gewoonlik as ’n inenting beskryf word of dit kan as ’n blaarvoedi­ng toegedien word.

Rhizobium. Die gebruik om plante en grond met mikrobe in te ent, is ’n baie ou gebruik en Rhizobium is die bekendste mikrobe waarmee dit gedoen word. Dit kan egter ook met sekere trichoderm­a gedoen word. Rhizobium is ’n endofiteis­e bakterie wat ’n simbioties­e verhouding met peulgewass­e vorm deur die wortels binne te dring en te koloniseer. Dan absorbeer die Rhizobia atmosferie­se stikstof en verwerk dit tot in ’n opneembare vorm vir die plant. In ruil hiervoor gebruik die rhizobium-bakterie suikers uit die plantworte­ls, wat deur die plant gedurende fotosintes­e vervaardig is, om te oorleef. Die rhizobia skei ook van hierdie opneembare stikstof in die grond af wat dan vir ander plantworte­ls beskikbaar raak.

Wanneer ’n mikrobe as endofities geklassifi­seer word, beteken dit dat die mikrobe ’n “wortel” in die plant inboor en dan binne die plantworte­l ingroei. ’n Endofities­e mikrobe bestaan meestal in ’n wedersydse voordelige wyse saam met die plant. Indien die verhouding die plant benadeel, sal die mikrobe as ’n parasiet of patogeen geklassifi­seer word. Ektofities­e mikrobe groei buite die plant en gebruik die koolhidraa­tryke worteluits­keidings of vorm wedersydse voordelige bande met mikorisa. Hierdie mikrobe maak onopneemba­re mikro- en makro-elemente in die grond beskikbaar aan die wortels.

Mikorisa. Mikorisa is ’n swam en onder gunstige omstandigh­ede vorm dit ’n netwerk van swamdrade wat as ’n hiper-doeltreffe­nde goederetre­in-netwerk in die grond beskryf kan word. Hierdie netwerk verbind verbruiker­s met die produsent tot voordeel van elke individu in die netwerk en die brandstof wat hierdie netwerk dryf, is hoofsaakli­k koolstofdi­oksied, sonlig en water. Dit verbind verskillen­de plante en mikrobes oor en weer deurdat een punt van die mikorisa in die plantworte­l in boor en die ander punt reik uit na voedingsto­wwe en simbiote, die mikroörgan­ismes wat onafhankli­k in die grond lewe.

Die mikorisa ontvang koolhidrat­e uit die plantworte­ls om te groei en neem voedingsto­wwe wat deur die simbiote vervaardig word, op en vervoer dit terug na die plantworte­l. Die mikorisa kan ook vog op hierdie manier bekom en aan die plantworte­l beskikbaar stel. Die mikorisa vergroot dus die area wat deur die plantworte­ls bereik kan word om voedingsto­wwe en water in die hande te kry en van daar die voordeligh­eid van mikorisa aan die produsent.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa