Storms lui dalk somerreënseisoen in
DIE sterkste bolugverwarming wat tot dusver in die Suidelike Halfrond gemeet is, kan bydra tot stormagtige weer met die aanbreek van die somerreënseisoen.
Mnr. Johan van den Berg, landbouweerkundige van Santam Landbou, sê luidens ’n verslag van prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die fakulteit natuurwetenskappe by Akademia, het dié bolugverwarming die laaste week van Augustus sowat 50 km bo Antarktika ontwikkel.
Volgens Rautenbach staan dié ongewone gebeurtenis bekend as skielike stratosferiese verwarming. “Dit het tot gevolg gehad dat lugtemperature bokant die Suidpool binne slegs drie weke toegeneem het van -70 °C tot -25 °C – ’n temperatuurtoename van meer as 40 °C.”
Van den Berg sê die saamvloei van die koue lug vanaf die Suidpool en die warm en tropiese lug wat tydens die somer suidwaarts beweeg, kan lei tot sterk winde en storms in Suid-Afrika.
WEERPATRONE
Dié skielike verwarming van die stratosfeer word veroorsaak deur ’n kombinasie van weerpatrone naby die aardoppervlak, en kan volgens Rautenbach nie noodwendig aan aardverwarming toegeskryf word nie.
Dit is ’n verskynsel wat algemeen bo die Noordpool voorkom, maar baie ongewoon is bo die Suidpool.
“Dit is nog net twee keer – in 2002 en in 2010 – waargeneem. Die 2019-verwarming blyk egter veel sterker te wees as wat gemeet is gedurende dié twee jare.”
Lugsirkulasie bo Antarktika word oor die algemeen gekenmerk deur sterk westewindrotasie, wat bekend staan as die Antarktiese polêre vorteks.
“Hierdie vorteks, wat gedurende wintermaande die sterkste is, voorkom dat koue poollug met die omringende warmer atmosfeer meng. Gedurende skielike stratosferiese verwarming verswak die vorteks aansienlik.”
Gevolglik word die omringende lugstrome versteur. Dit gee aanleiding tot westewindstelsels, wat in Suid-Afrika noordwaartse kouefrontstelsels veroorsaak.
Die noordwaartse uitbreiding hou volgens voorspellings nadelige gevolge vir Nieu-Seeland en Australië in. Weerstelsels in Australië stem baie ooreen met dié van Suid-Afrika vanweë die twee lande se breedtegraadliggings. Die skielike stratoferiese verwarming kan dus ook vir Suid-Afrika gevolge inhou.
Die westewinde se noordwaartse skuif kan volgens Rautenbach veroorsaak dat die winterstelsels langer as normaalweg sal voortduur in die vroeë lente en somer.
“Hoewel dit ’n verlengde reënseisoen vir die suidelike kusgebiede kan beteken, voorspel dit niks goeds vir lentereën in die droë binneland van Suid-Afrika nie. Soortgelyk aan toestande in Australië, kan sterker westewinde oor die Suid-Afrikaanse binneland ook aanleiding gee tot droër wintertoestande in die somerreënstreek.”
LAER TEMPERATURE
Volgens Rautenbach kan sporadiese stormweer veral oor die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal voorkom, met laer temperature en selfs koue dae gedurende Oktober. Die invloed van die skielike stratosferiese verwarming sal veral gedurende Oktober ondervind word, waarna dit na verwagting teen Desember sal begin verswak.