Spriete van hoop oor ekonomiese beleid
Die afgelope dekade of wat het die plaaslike ekonomie deurlopend verswak. Gelukkig lyk dit asof die ANC besef ’n dringende ommekeer is nodig om te voorkom dat die ekonomie in duie stort.
Die landbou-ekonomie en die verloop van sake op die landboumarkte is onlosmaaklik deel van die breë ekonomie. Daar is voldoende studies in die verlede gedoen, plaaslik en internasionaal, wat daarop wys dat die verloop van sake in die makro-ekonomie ’n regstreekse impak op boerdery en landboumarkte het. Dit is onderhewig aan ’n markgerigte en kapitalistiese beleidsraamwerk.
Sterk ekonomiese groei spoor die vraag en pryse van voedsel, vesel en selfs drank aan. Dink ook aan rentekoerse en die monetêre beleid en ander voorskrifte deur die regering wat die beskikbaarheid van krediet bepaal.
Die impak is baie groter in ’n landboubeleidsomgewing waar die landbou grootliks in ’n vryemarkomgewing moet meeding sonder noemenswaardige regeringsbystand.
In dié verband vergelyk die Suid-Afrikaanse landbou goed met die landbou in Australië en Nieu-Seeland, waar landboubemarkingsrade ook in die 1980-’90’s afgeskaf en staatsondersteuning feitlik stopgesit is. Dié lande en Suid-Afrika val in die groep met van die laagste staatsondersteuning aan die landbou ter wêreld, wat beteken Suid-Afrika is ten volle aan ekonomiese en markkragte blootgestel. Die verskil is Australië en Nieu- See-land volg ’n markgerigte en kapitalistiese beleid wat groei stimuleer.
DIE EKONOMIE EN VERBRUIKER
Die afgelope maand het daar na my mening aan ’n paar beleidsfronte hoop ontstaan dat die ANC besef die ekonomie is besig om planke toe te gaan. Indien hy nie drasties omkeer nie, gaan ’n uitklophou binnekort geplant word (deur homself).
Dit verg nie veel insig om te weet dat die ekonomie die afgelope dekade of wat in ’n voortdurend verslegtende posisie is nie. Die bekendstelling van die Reserwebank se ekonomiese bulletin vir die tweede kwartaal het die langdurige insinking onder die ANC se korrupte bestuur weer bevestig.
Volgens Bloomberg, die internasionale finansiële nuusagentskap, is die Suid-Afrikaanse ekonomie nou in sy langste afswaaifase sedert 1945 met sakevertroue wat voortdurend verswak en rekordvlakke van werkloosheid. Verlede maand was die 70ste maand in ’n steeds verswakkende ekonomiese siklus, volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Dit maak dit noodsaaklik dat ’n ekonomiese omkeerplan aanvaar word wat nie ruimte vir debat laat nie.
Ekonomiese ontleders wys daarop dat die toenemend sosialistiese beleid van die ANC, die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party en die vakbonde Suid-Afrika sedert 1994 tot die punt gevoer het waar dit duidelik is dat die beleidsbenadering nie werk nie en ’n drastiese omkeer nodig is.
Die TABEL toon ’n paar aanwysers ter illustrasie. Die landbousektor bly in ’n diep resessie/depressie en baie streke beleef ’n groot ekonomiese insinking, armoede en ’n rampdroogte. Plattelandse dorpe stort in duie en is vergete, armoedige agterbuurte.
Die totale ekonomie het nie juis die afgelope aantal kwartale gegroei nie. In die eerste kwartaal vanjaar is ál drie aanwysers in die tabel negatief. Die tweede kwartaal toon ’n effense verbetering, maar dit is gemeet vanaf ’n negatiewe basis.
Besteding deur huishoudings groei bitter min en in die eerste kwartaal vanjaar was dit weer negatief, wat regstreeks deurvloei na laer voedselbesteding. Feitlik al die groot voedselvervaardigers en kleinhandelgroepe het in die jongste tyd skerp dalings in wins aangekondig. Die kwynende koopkrag raak die vraag (en pryse) van voedselprodukte regstreeks. Daar is ook heelwat aanduidings van die groot voedselmaatskappye dat verbruikers afskaal na goedkoper handelsmerke en voedselsoorte.
Boere wonder waarom rooivleispryse tans laer is as dié van ’n jaar gelede. Die vernaamste rede is die krimpende ekonomie en laer reëel besteebare inkomste.
Die GRAFIEK toon dat die reële besteding deur huishoudings die afgelope dekade al hoe laer neig. Dit dui op ’n stagnerende mark. Terloops, die internasionale insinking in wolpryse (die duurste vesel) het te make met die dalende ekonomiese groei in China en die verhoogde invoertariewe op kledingstukke vanaf China na Amerika as deel van pres. Donald Trump se handelsoorlog teen China.
GROEIKOERS
Die Reserwebank het bekend gemaak sy ekonomiese vooruitskattings vir die jaar dui op ’n groeikoers van slegs sowat 0,6% (teenoor 0,8% verlede jaar) en dat die ekonomie met die huidige beleid skaars 2% tot in 2021 gaan groei.
Dit is te stadig om die land se staatskuld te diens en werk te skep.
Selfs die ANC-leiers begin erken dat die ekonomie in ’n gemors is. Die minister van finansies het ’n waarskuwing aan die beleidmakers gerig dat die ekonomie in ’n verknorsing is, belastings nie verder verhoog kan word nie en staatskuld onhanteerbaar raak. Hy het weer daarop klem gelê dat die verkoop en gedeeltelike privatisering van staatondernemings, soos die SAL en Eskom, noodsaaklik
is en vinnig gedoen moet word.
Dit is die eerste teken van ’n ommekeer as jy self erken jy het drooggemaak en moet verander.
STAATSBEGROTING EN REGRUKPLAN
Teen die genoemde ekonomiese werklikhede moet min. Tito Mboweni en die tesourie se ekonomiese regrukplan as goeie nuus beskou word. Die besef het deurgedring dat die uurglas leeggeloop het, dat die belastingbetaler se sak leeg is en die staat sy besteding moet inkort en minder skuld moet aangaan.
Volgens die media het die ANC-leierstruktuur en die kabinet blykbaar die dokument in beginsel aanvaar. Die mediumtermynbegroting op 30 Oktober vanjaar sal die logiese geleentheid wees om ’n aksieplan bekend te stel, veral omdat Moody’s se hersiening van Suid-Afrika se kredietgradering op 1 November plaasvind.
As die voorgestelde regrukplan van die tesourie toegepas word, sal dit bydra tot die herstel in die landbou deurdat die plan klem plaas op die landbou en toerisme as aanspoorders van ekonomiese groei. Enkele van die belangrike voorstelle is die moeite werd om te herhaal.
Eerstens moet infrastruktuurnywerhede en -beleid so gou moontlik doeltreffender gemaak word. Dit sluit die verskillende vorme van vervoer en hawens in, asook telekommunikasie en elektrisiteit. ’n Deel daarvan is dat Eskom se kragsentrales geprivatiseer word.
Tweedens is daar heelwat voorstelle om die mededingendheid in die ekonomie te verbeter. Daar word onder meer gepraat oor maniere om die struikelblokke tot marktoegang vir nuwe toetreders weens die invloed van die groot konglomeraatmaatskappye aan te pak.
Die georganiseerde landbou sal daar hard moet druk uitoefen, want uit ervaring weet boere hoe hulle gekniehalter word om op verskillende terreine van verwerking en bemarking tot die mark toe te tree.
Derdens moet meer van staatskant en -beleid gedoen word om dit makliker te maak vir klein en mediumondernemings om sake te doen. Dit behels onder meer voorskrifte van die staat en die moontlike kwytskelding van sekere minimumloonvereistes. Die landbou behoort sterk standpunt in te neem dat alle boere – groot en klein, swart en wit – oor dieselfde kam geskeer moet word.
Die voorstelle het heelwat te sê oor die transformasie van die landbou. Hoewel ’n mens saamstem oor die noodsaaklikheid om swart boere suksesvol te vestig is die voorstelle tot dusver vanaf staatskant oninspirerend.
TEN SLOTTE
Die volgende paar weke gaan deurslaggewend wees vir die ANC om sy sosialisties-kommunistiese beleid om te keer en dat stappe gedoen moet word om die ekonomie weer op ’n groeipad te plaas.
Dit sal alle Suid-Afrikaners se toekoms in die volgende jare bepaal en ’n aanduiding gee van watter besluite ’n mens in jou onderneming moet neem.