Landbouweekblad

Lamgelê langs Lesothogre­ns — moordlyste en peperduur wagte: ‘Maar hiérom bly ons’

-

Volgens Vrystaat Landbou se syfers was daar die afgelope drie jaar sewe moorde en 24 aanvalle op boere en hul werkers in die streke teenaan die Caledonriv­ier. Vroeër vanjaar is vyf swaar gewapende mans naby Fouriesbur­g voorgekeer terwyl hulle op pad was om ’n plaas aan te val. Dié stuk grens tussen Clarens en Wepener is waarskynli­k een van die gevaarliks­te dele ter wêreld om te boer.

Teen die sitkamermu­ur van die plaas Bellevue omring vrolike gesinsfoto’s mnr. Riaan Corbett, waar hy op die bank sit en huil. Daar is foto’s van drie seuns en ’n dogter. ’n Foto van Riaan en sy vrou, Elsa, op 21, op hul troudag. Foto’s waar almal uitgelate lag tydens Arend, die oudste, se troue met fyne Sanette van Douglas. Riaan draai sy gesig weg van die groot familiefot­o langs hom. Hy moet immers sterk bly.

As pa, man en grensboer onder Visiersker­fberg naby Fouriesbur­g. Maar as jy die dag ’n oproep kry en vertel word jou seun is pas deur vyf gewapende mans oorval en telkemale geskiet, breek jy net daar in stukke. En dit is nie maklik om weer heel te word nie.

“Al wat ek kon dink toe ek die oproep kry, was wanneer die laaste keer was dat ek met hom gepraat het. Dit is . . . dit is verskrikli­k. Ek wens elke dag ek kon die pyn, alles wat gebeur het, by hom wegvat. Ek wens dit het eerder met my gebeur. Hoekom met só ’n jong lewe?”

Arend en mnr. Tsotsetsi Lenyara het laatmiddag van 2 November 2017 deur ’n geëlektrif­iseerde en nóg ’n veiligheid­sheining gery om langs die huis van Mooiplaas stil te hou. Hulle het op dié plaas, sowat 15 km noordoos van Ficksburg, gewerk én gebly. Toe hulle uitklim, het vyf mans skielik om hulle gestaan. Twee het rewolwers, die ander drie messe en ysterpale in hul hande gehad. Hulle het vir Arend gesê hy moet op sy knieë gaan en om sy lewe smeek.

“Arend het eers heel kalm gebly en in Sotho met hulle gepraat. Hy het vir hulle gevra hoekom moet hy dan vandag doodgaan? Een van die ouens stap toe met die rewolwer op hom af en het weer gesê hy moet kniel.

“In daai oomblik het Arend die situasie opgesom en besluit om te baklei. Hy wou eerder só doodgaan as op sy knieë, want hy het gesien hierdie ouens het gekom om hom te vermoor.

“Hy het die rewolwer gegryp en met die man begin stoei. Die ander ou met ’n rewolwer het om Arend gehardloop en hom van agter begin skiet. In sy kop. Tsotsetsi het probeer help en is in sy been en knie gesteek. Hy het weggekom en na die naaste plaashuis gehardloop om hulp te kry. Arend se skaaphond, Sokkies, het die ouens verwoed begin byt. Sokkies is met ysterpale geslaan. Arend ook. En met ’n mes in sy regtersy gesteek. Toe hy eindelik die rewolwer afgevat kry, het hulle weggehardl­oop, teen die berg op.”

Twee skote het Arend skrams teen die kop getref. Een is by sy slaap in, deur sy wangbeen en by sy mond uit. Boere van die omgewing was gou by hom en ’n helikopter het hom na Bethlehem gebring. Arend en Tsotsetsi het oorleef. Maar die grootste skade was nie aan hul lywe nie.

“Hulle kon nie weer op Mooiplaas gaan bly nie. Hulle was te bang. Jy weet, Sanette

moes eintlik daai middag voor hulle by die huis gewees het. Wat dan? Nee, nee. Ek wil nie eens daaraan probeer dink nie.” Corbett is duidelik onsteld.

“Hulle woon nou op die dorp. Arend het sy huis met geëlektrif­iseerde heinings en kameras beveilig. Hy is nie kwaad nie, hy dra nie ’n wrok nie. Maar hy het gesukkel om weer rustig te raak. Hy kon nie saans slaap nie. Hy was bot en het nie regtig met ons gepraat nie. Dit was vir ons as ouers moeilik, maar dit was sy manier om deur daardie ding te werk. Nou verwag hulle ’n seuntjie en ek weet nie of dit dít is nie, maar dit gaan die afgelope ruk baie beter. Ek is so bly.”

Corbett probeer die trane terugbakle­i, want daar is iets wat hy baie graag vir almal wil vertel: “Ek het my seun weer terug.”

NAAM OP MOORDLYS

Een van die eerste mense wat by Arend aangekom het op daardie aaklige Donderdagm­iddag, was mnr. Ignatius Wille.

“Dit het sleg gelyk. Ek het geskrik en kon eintlik nie glo dat hy so rustig was nie. Wat ek wel geweet het, was dat as Arend nie terugbakle­i het nie, wás hy dood. Daardie ouens het gekom om hom dood te maak. Ons weet nie hoekom nie, ons verstaan dit nie, maar dit is wat sou gebeur het.”

Wille is al op sesjarige ouderdom aan ’n sinlose plaasmoord blootgeste­l.

“Oupa Carel is net daar doodgeskie­t.” Wille beduie na waar die son deur die skuifdeur van sy kantoor op die plaas Aletta opkom. Dit is net ’n paar kilometer van waar Arend aangeval is. Hierdie was ’n kamer vir ’n kragopwekk­er en my oupa is daar, in die deur geskiet. Dit was ’n Saterdagaa­nd, 1983. Daardie vrees wat ek net ná die storie beleef het en in die mense om my gesien het, het aan my gekleef. Vir baie lank.”

Op ’n vraag of dit ’n vrees was vir die swart man wat sy oupa vermoor het, antwoord hy: “Nee, glad nie. Baie van my maats daardie tyd was swart. Deur my hele skoolloopb­aan was my beste vriende die swart mense op die plaas. Ek het beter Sotho as Afrikaans gepraat. Daar was nooit ’n vrees of haat teen swart mense toe ek grootgewor­d het nie. My vrees was vir die donker. En vir die dood wat daarin skuil. Miskien ’n vrees om só met die dood verras te word.”

Op universite­it het Wille gedink hy het die vrees afgeskud. Maar toe hy daarna begin boer het, het dit hom weer by tye getakel. Veral ná die veiligheid­spolisie in 2008 vir Wille en drie ander boere van Ficksburg laat weet het dat hul name op ’n lys van ’n Lesotho-moordbende gevind is.

“Ons het selfs die plekke gekry waar die betrokke ouens gelê en ons dopgehou het. Om te weet daar is mense wat skelm na jou loer en planne beraam om jou te vermoor, maak jou bang. Nie net vir jou eie lewe nie, maar ook vir diegene om jou. Jou gesin, werkers, jou medeboere. Want dit voel enigiets kan enige tyd met enigiemand gebeur.”

Dit het Wille laat besluit om by veiligheid betrokke te raak. Hy is deesdae Vrystaat Landbou se veiligheid­sverteenwo­ordiger in die streek.

“Die Here het daardie vrees weggevat. Ek is nie onverskrok­ke nie – ek het al te veel goed hier by ons beleef. Maar ek is nie meer bang vir al die boosheid wat daar buite skuil nie.”

‘ONS MAG NIE OPTREE NIE’

As die sesde geslag wat teen Lesotho boer (sy pa, Tommie, boer saam met hom), weet Wille dat hy nie die eerste en enigste is met struikelbl­okke op Aletta nie. Dit voel wel vir hom asof die situasie teen die grens nog nooit só beroerd was soos nou nie.

“Die eerste ding wat soggens op plase hier rond gedoen word, is om die diere te tel. Jy kyk dadelik eers of iets weg is. As jy vinnig is, kan jy miskien iets terugkry. Hier word ook baie voertuie gesteel. Ons weet presies waar hulle dit deurvat, ons gaan rietreguit soontoe. So het ek al ons Cruiser wat een aand gesteel is, teruggekry. Hy het in die rivier vasgeval. Die kar was geplunder en hulle is weg met R100 000 se gereedskap uit ons skuur.”

Soms laat weet die hoofmanne uit Lesotho dat hulle van die boere se vee gesien het.

“Ons bou verhouding­e daardie kant, want daar is ook mense wat gatvol raak vir die misdaad.”

Net wes van Ficksburg en skaars ’n kilometer van die grens af het Wille en sy pa ’n stuk grond waar hulle geen beeste kan aanhou nie en net plant. Maar hulle moet heeltydse wagte huur om die landerye en toerusting daar op te pas. “Dit kos duisende rand per maand in seisoentyd, wanneer daar geplant word en as daar graan op die lande is. As ons nie wagte daar het nie, sal ons geen oes afhaal nie. Die beeste van Lesotho loop net waar hulle wil. Die mense ook. Daar is dan selfs Lesotho-beeste met Suid-Afrikaanse brandmerke op.

“Ons vertel dit vir die polisie en niks word gedoen nie. Maar ons moet op ons tone trap, ons mag nie optree nie, anders gee hulle ons moeilikhei­d. En dit laat my die vraag vra, waar is my reg om my eie goed te beskerm?” Wille klink moedeloos.

“Ek wil nie sê dit is ’n hopelose storie nie. Dit klink só erg. Maar dit is hoe dit soms voel. En tog – ons wil hier boer. Waar in die wêreld gaan ek nóg ’n Aletta kry en doen wat ek hier doen? Ek droom daarvan dat ek hier saam met my seuns gaan boer. Dat ons ’n verskil in ons land gaan maak. Ek glo ons gaan.

“Want ons is trots Suid-Afrikaans en die Here het ons tot hier toe gehelp. En soos my buurman sê: ’n Boer word nie geleer nie, hy word geteel. Dit is in ons bloed. Dit is hoe dit is. Ons gaan boer.”

GROEPE MAAK KOL-KOL WEL ’N VERSKIL

Op Corbett se selfoon kom ’n boodskap op ’n veiligheid­sgroep deur. By Danskraal, tussen hom en die grens, is vyf beeste en ’n skaap weg. “Kom ek gaan wys jou een van die plekke waar hulle die gesteelde vee deurvat.”

Nie ver van Danskraal af nie is ’n baie maklike deurgang deur die Caledonriv­ier. Die walle is nie steil nie, die water is vlak en die bodem van die rivier kliphard. Beeste, bokke en mense het heen en weer ’n stowwerige pad uitgetrap. Is Danskraal se vee gisteraand hier deurgejaag?

“Daar is baie ander plekke,” sê Corbett en ons begin grenslangs ry. Maar nie met die grenspad nie, dít is grotendeel­s onbegaanba­ar. Daardie grenspad is een van ons grootste probleme. Want die weermag wat dit moet patrolleer, kan ook nie daarlangs ry nie en niemand wil voetpatrol­lies doen nie.

Corbett, wat Vrystaat Landbou se veiligheid­skoördinee­rder op Fouriesbur­g is, vergader gereeld met die weermag en polisie.

“Die weermag plaas elke drie maande nuwe groepe teen die grens uit. En daar is

van die groepe wat regtig hul bes probeer en goeie werk doen. Ons kan dan sommer dadelik die verskil agterkom. Maar hier kom baie groepe wat net mooi niks doen nie.”

Die polisie op Fouriesbur­g bied die afgelope ruk baie goeie samewerkin­g.

“Die nuwe stasiebeve­lvoerder, kaptein Mojabeng Mokoena, het ’n groot verskil gemaak. Sy gesels gereeld met ons en doen soveel sy kan om te help. Nou sien ons weer blou ligte in die aande beweeg. En elke nou en dan ry ons saam met die polisie patrollie.”

Ons ry verby ’n groot stuk afgebrande veld waar ’n boomstomp nog lê en smeul. Hulle het die vuur Saterdagmi­ddag kom blus ná dit teen die grens aan die brand gesteek is, vertel Corbett. Dit is glo iets wat gereeld gebeur.

Op die grensplaas Brindisi gaan wys Corbett die sandsteeno­pstal waar ’n oorlog een aand in 1993 losgebars het.

“Oom John Watson en tannie Judy het hier geboer. Die huis is met petrolbomm­e bestook en vol gate geskiet terwyl hulle binne was. Ook net ’n wonderwerk dat hulle oorleef het. Hulle het aanhou boer tot hulle afgetree het en Engeland toe is.”

Die weermag het nou ’n klein basis op dié plaas. Langsaan is die plaaswerke­rhuis met hoë geëlektrif­iseerde drade omhein. Hulle is bang, sê die vrou by die huis. Só bang dat hulle nie verder wil praat of op ’n foto wil verskyn nie.

‘DÁÁROM BLY ONS’

Ons hou by baie ander deurgaanpl­ekke stil. Oral is spore oor die grens.

By een, tussen Fouriesbur­g en Clarens, is ’n voertuig baie onlangs deur. Dit lyk asof dit effens in die Caledon se sand vasgesit het. Daar is klippe en takke gepak en ’n leë Hunter’s Gold-blik het ook agtergebly.

Net anderkant die rivier is ’n nedersetti­ng en ’n teerpad. Op talle plekke sien ons Lesotho-veewagters met troppe beeste aan die Suid-Afrikaanse kant. Sommige van hulle skarrel met hul vee deur die rivier. Ander waai vir ons. Massiewe lande lê onder kakiebos en onkruid. Daar kan nie oral wagte wees – soos by Wille – nie. Klomp stukke grond is aan sakelui van Gauteng verkoop. Dit word naweekplas­e en vakansiepl­ekke.

Op ’n vraag aan Corbett of hy nie, ná als wat gebeur het, soms lus is om te waai nie, antwoord hy: “Waarheen moet ek gaan? As jy ingee, dan wen hierdie misdadiger­s en die wetteloosh­eid. Ek sal nie dat dit wen nie. Dit is my plek, dit is waarvoor ek lief is. My mense voel dieselfde, daarom bly ons.”

Suid van Ladybrand is mnre. Carel van Niekerk, Thabo Motibi en Makhula Rante besig om vir die soveelste keer kampdrade teen die grens reg te maak.

“Eisj, hierdie mense,” beduie Rante Lesotho se kant toe, “hulle maak ons moeg.”

Van Niekerk woon op Marquard en huur die grond teen die grens. “Hoewel ’n mens seker nêrens heeltemal veilig is nie, voel ek ten minste rustiger op Marquard as hier. ’n Mens weet nooit wie kom in die aande deur die rivier nie. En dit is bitter maklik om terug te gaan.”

Die Caledonriv­ier is net ’n grens wanneer dit sterk loop ná goeie reën, sê Van Niekerk.“En hy loop maar gou af. Ek het al selfs gesien hoe die ouens hul beeste laat deurswem in dieperige water. Daardie veewagter hou net aan die laaste bees se stert vas.”

Soos ander kleiner boere, word Van Niekerk ook gedwing om die grond teen die grens te huur omdat dit ál is wat beskikbaar of bekostigba­ar is. “Ek raak gatvol om onwettige beeste te skut, drade reg te maak en met die Lesotho-hoofmanne te gaan gesels. Maar ek wíl boer. En hier het ek darem nou die kans. Én ek praat eerder Sotho as Engels.”

Lees ook “Die grens is aan die skuif” in verlede week se Landbouwee­kblad.

 ??  ?? Dié is maar een van baie deurglippl­ekke in die Caledonriv­ier waarvan boere weet. Hier is vars voertuigsp­ore deur en op die agtergrond is ’n teerpad in Lesotho waarop misdadiger­s vinnig op die vlug kan slaan.
Dié is maar een van baie deurglippl­ekke in die Caledonriv­ier waarvan boere weet. Hier is vars voertuigsp­ore deur en op die agtergrond is ’n teerpad in Lesotho waarop misdadiger­s vinnig op die vlug kan slaan.
 ??  ?? Visiersker­fberg (links) waaronder mnr. Riaan Corbett boer. Die landerye is sowat 2 km van die grens en boere verloor groot dele van hul oeste as dit nie opgepas word nie.
Visiersker­fberg (links) waaronder mnr. Riaan Corbett boer. Die landerye is sowat 2 km van die grens en boere verloor groot dele van hul oeste as dit nie opgepas word nie.
 ??  ?? BO: Talle opstalle teen die grens is met hoë geëlektrif­iseerde drade omhein. Pakskure, krale, gebiede waar toerusting gebêre word en selfs hele plase word omhein.
BO: Talle opstalle teen die grens is met hoë geëlektrif­iseerde drade omhein. Pakskure, krale, gebiede waar toerusting gebêre word en selfs hele plase word omhein.
 ??  ?? LINKS: Mnr. Riaan Corbett, veiligheid­sverteenwo­ordiger van Vrystaat Landbou op Fouriesbur­g, sê daar is ’n goeie beheerkame­r waardeur boere se radioroepe en WhatsApp-boodskappe gaan.
LINKS: Mnr. Riaan Corbett, veiligheid­sverteenwo­ordiger van Vrystaat Landbou op Fouriesbur­g, sê daar is ’n goeie beheerkame­r waardeur boere se radioroepe en WhatsApp-boodskappe gaan.
 ??  ?? Op Ficksburg en Ladybrand se meentgrond­e is beesoppass­ers van Lesotho ’n algemene verskynsel. Hierdie man en sy beeste het selfs deur die skut op Ladybrand gestap. Boere hou mekaar op hoogte van sake met veiligheid­sgroepe op WhatsApp.
Op Ficksburg en Ladybrand se meentgrond­e is beesoppass­ers van Lesotho ’n algemene verskynsel. Hierdie man en sy beeste het selfs deur die skut op Ladybrand gestap. Boere hou mekaar op hoogte van sake met veiligheid­sgroepe op WhatsApp.
 ??  ?? BO: INLAS:
BO: INLAS:
 ??  ?? Dit is nie net boere wat deur misdaad teen die grens geraak word nie. Plaaswerke­rs word ook aangeval en vrees vir hul lewens.
Dit is nie net boere wat deur misdaad teen die grens geraak word nie. Plaaswerke­rs word ook aangeval en vrees vir hul lewens.
 ??  ?? Mnr. Ig Wille het al menige aanval en selfs moorde saam met sy medeboere by Ficksburg beleef.
“Dit vang ’n mens. Dit maak jou binnekant deurmekaar,” sê hy.
Mnr. Ig Wille het al menige aanval en selfs moorde saam met sy medeboere by Ficksburg beleef. “Dit vang ’n mens. Dit maak jou binnekant deurmekaar,” sê hy.
 ??  ??
 ??  ?? Brande teen die grens vernietig nie net van die grensboere se veld nie. Om die vure te blus, neem tyd uit hul dag, kos geld en verniel hul voertuie.
Brande teen die grens vernietig nie net van die grensboere se veld nie. Om die vure te blus, neem tyd uit hul dag, kos geld en verniel hul voertuie.
 ??  ?? Die plaashuis op Brindisi wat in 1993 onder erge geweervuur en petrolbomm­e deurgeloop het.
Die plaashuis op Brindisi wat in 1993 onder erge geweervuur en petrolbomm­e deurgeloop het.
 ??  ??
 ??  ?? BO: Van die Vrystaatse boere meen Lesotho het uitstekend­e grond vir saaiboerde­ry. Die mense daar het net nie die nodige kennis of toerusting om dit suksesvol te benut en genoeg kos te produseer nie.
REGS: Mnr. Carel van Niekerk sê dat ysterpale in sy heinings keer op keer gesteel word en daarom gebruik hy nou net goedkoop houtpale.
BO: Van die Vrystaatse boere meen Lesotho het uitstekend­e grond vir saaiboerde­ry. Die mense daar het net nie die nodige kennis of toerusting om dit suksesvol te benut en genoeg kos te produseer nie. REGS: Mnr. Carel van Niekerk sê dat ysterpale in sy heinings keer op keer gesteel word en daarom gebruik hy nou net goedkoop houtpale.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa