Landbouweekblad

Slimmer skaapwerk: Suid-Kaapse boere se beproefde droogteles

-

Skuins voor skeertyd is dit tyd vir kudde-evaluering­s in die Suid-Kaap. Vir boere wat deelneem, is dit ’n leergeleen­theid, ’n kans om te sien hoe hul jongooikud­des met bure s’n vergelyk en herinner te word aan die dinge wat hulle behoort te doen, maar dikwels agterweë laat.

Boere in die distrik Heidelberg in die Suid-Kaap moes die afgelope drie droë jare baie planne beraam om hul vee in produksie te hou en wolgehalte te handhaaf. Die uitslae van die afgelope evaluering het weer getoon dat dié boere weet hoe om hul skape te versorg.

Mnr. Giepie Calldo, skaap- en wolkundige en tegniese bestuurder van RFID Experts Africa, wat die evaluering met behulp van mnr. Ian Fourie van BKB op die deelnemers se plase gedoen het, sê die waarde van gereelde evaluering is om reproduksi­e van die jongooikud­de na ’n hoër vlak te skuif. “Reproduksi­e is immers die enigste ding wat jou op die plaas hou. Jy moet reproduksi­e hê, want as die jong ooie hul werk doen, gaan jy lammers kry en wol skeer.”

Hy sê dis belangrik dat veeboere teeldoelwi­tte vir hul kudde stel en daarvolgen­s bestuur. “Die jong ooi moet geleidelik ’n gewig van 51 kg bereik deur elke dag ’n bietjie te groei.”

Mnr. Kobus Human, Merinoboer van die plaas Boskop, sê hy neem van die begin af aan die kudde-evaluering deel omdat dit ’n geleenthei­d is om herinner te word aan alles wat hy behoort te doen, maar waarin hy dikwels laat slap lê. “Dit hou jou op jou tone, en dis ook goed om te sien hoe jou skape met ander boere s’n vergelyk en ander boere se krale en veegeriewe te sien.”

Mnr. Arno Steenkamp van die plaas Oudekraals­kop en organiseer­der van die geleenthei­d, sê die waarde van die evaluering is om boere daarvan te oortuig hoe belangrik dit is om hul jong ooie goed te versorg om sodoende hul produktiew­e waarde in hul leeftyd te verhoog.

“’n Jong ooi wat goed uitgegroei het tot op 12 maande, is vir die res van haar leeftyd goed. Ek dink dit moet die oogmerk van kudde-evaluering wees. As jy dit nie doen nie, benadeel jy jouself in die toekoms.”

Hoewel dit nie oor wen gaan nie, spoor dit boere tog aan as hul diere goed vaar in die evaluering. “Die wen moedig die ouens aan om hul ooie mooi op te pas.”

In die distrik Heidelberg, waar die meeste boerderye graan- én veevertakk­ings het, is dit belangrik om ’n balans tussen graan en vee te behou. “Graanboerd­ery in ons wêreld is die geldmaker, maar skaapboerd­ery is die risikovers­kanser. Die afgelope paar jaar kon graanboerd­ery nie winsgewend wees nie.

“Dit was vir die skape ook droog, maar ons het darem nie ’n verlies gely nie. As dit droog is en die graan het kunsmis, maar dit kan nie groei nie, help dit nie veel nie. Die ‘kunsmis’ wat jy by ’n skaap se bek insit, word omgesit in wol en vleis, al is dit ook droog.”

Die evaluering is ook daarop gemik om boere ’n geleenthei­d te gee om hul diere met dié van ander boere te vergelyk. Boonop kry hulle ’n verslag van die Nasionale Wolkwekers­vereniging wat wys wat elke boer se posisie in die groep is, sê Steenkamp. “Dis inligting wat jy moet gebruik om ekonomiese besluite te neem, anders help dit nie jy neem deel nie.”

Mnr. Sinon de Jager van die plaas Brakfontei­n sê hy neem aan die evaluering deel omdat dit help om te meet waar sy kudde staan. “Jy kan vergelyk en bepaal op watter vlak jou kudde is. As jy elke jaar deelneem, kan jy duidelik sien of jou kudde vooruit- of agteruitga­an.”

Ná vanjaar se evaluering besef hy dat hy weer intensiewe­r moet boer. “Ek het op ’n tyd die tweelingla­mmers gemerk om hulle afsonderli­k te hou. Oor die algemeen weet ons watter ooie tweelinge op die skandeerde­r wys. Ons moet hulle merk om sodoende vir die beter moeders te selekteer. Ek het dit ’n bietjie gelos, maar dink ek moet dit weer begin doen.”

DROOGTEWEN­KE

Die droë jare plaas groot druk op veekuddes, maar dis belangrik om vee in ’n goeie kondisie te hou, ondanks die droogte.

In die droogte is dit raadsaam om lammers al vroeg op kruipvoedi­ng te sit deur hulle so gou moontlik te speen, sê Human. “Dan kan jy van jou prul-ooie ontslae raak. Dit lê die grondslag vir ’n goeie jongooikud­de en jy kry goeie voeromsett­ing op die jong diere.”

Hy waarsku teen te veel vee. “Moenie meer aanhou as wat jou weiding se drakrag is nie. Dis baie belangrik. Hulle sê honderd ooie te veel maak dat jy duisend voer. Voer reg en op strategies­e tye. Laat kundiges vir jou die regte rantsoen uitwerk sodat jy nie verkeerde rantsoene voer nie.”

Steenkamp se beste raad is om skape altyd in ’n goeie kondisie te probeer hou. Dan kan hulle met net ’n onderhouds­lek op ’n gelyke basis gehou word. “As jy die skape eers toegelaat het om tydens ’n droogte agteruit te gaan, kan jy net sowel boedel oorgee. Dit sal te duur wees om hulle weer op ’n produksiev­lak te kry.”

Omdat die Heidelberg­se boere ook graanverta­kkings het, is die geheim om ruvoer te hou en deur die droogte goeie ruvoer uit te sit wanneer ooie nie in produksie is of lammers soog nie.

Steenkamp sê dis belangrik om veegetalle in bedwang te hou. “Om te veel skape aan te hou, is noodlottig. Ons moet probeer om meer geld uit minder skape te maak.”

Dit help ook om skape se kondisiepu­nt redelik konstant te hou. “Dan kan jy die skaap met 250-300 gram van ’n goeie lek per dag in daardie kondisie hou. As die droogte kom en die ooie moet by die ramme kom, kan jy die produksie-inname ’n bietjie opstoot. Dan is die ooie dadelik in ’n kondisie om ram te vat en lammers te soog.”

Steenkamp sê as ooie se kondisiete­lling onder 3 daal, kom baie lammerverl­iese voor. “Dan het die ooie nie melk nie, of net dik, taai bies waarmee hulle die lammers nie grootgemaa­k kry nie. Dis wanneer die groot verliese en aborsies voorkom.”

“Kyk na jou ooie, al gaan dit sleg,” is De Jager se raad vir wolboere in die droogte. “As jy dit nie doen nie, en die wêreld draai weer, is alles agter.

“Die ooi is maer, sy vat nie ram nie en lam nie. Op die ou end verloor jy baie meer

‘Om te veel skape aan te hou, is noodlottig. Ons moet probeer om meer geld uit minder skape te maak.’

as wat jy deur die droogte verloor het.” Calldo het die Heidelberg­se boere wat in Junie aan die evaluering deelgeneem het, gelukgewen­s met die goeie toestand waarin hul jong ooie is, al was dit die afgelope paar jaar so droog. “Skape wat ’n leefbare kondisie het, is beter as skape wat ’n oorlewings­tryd voer. Dis egter moeilik, want hoe doen jy dit ná ’n paar jaar van droogte?”

WAARDEVOLL­E RAAD

Steenkamp sê as Calldo die evaluering doen, bied hy sommer ’n kursus ook aan. “Dis lekker van Giepie . . . terwyl hy die ooie beoordeel, verduideli­k hy hoekom jy sekere dinge moet doen. Hy is ’n bekwame voorligter wat die boodskap goed kan oordra.”

Calldo sê goeie wol en ’n hoë skeerselwa­arde is nie ’n toeval nie. “Dit begin by goeie teelmateri­aal waarvan die genetiese waarde net na vore kom met goeie voeding by gesonde diere en spooreleme­nt-aanvulling­s op die regte tyd. Om goeie wol volhoubaar te produseer, moet jy die kritieke tye vir die beste reproduksi­epotensiaa­l reg bestuur, soos 6 maande, 6 weke en 14 dae voor paartyd.”

Benewens die regte voeding op kritieke tye is paargewig ook belangrik, sê Calldo. “Jy kan totaal onekonomie­s voer. Waar moontlik bied die veld sekere voeding, maar jy moet kyk of daar ’n gaping of tekort is, en dit byvoeg of aanvul. Dis belangrik dat ’n jong ooi in gewig toeneem, van speendag af.”

Hy sê die ideale paargewig is 48-51 kg. “In die Suid-Kaap neem dit 220 dae, maar die meeste skape in die evaluering was ver oor die gewig. Boere gee voer vir produksie en reproduksi­e, maar hulle sal moet kyk waar hulle kan afskaal vir ’n geleidelik­er toename.”

Van speentyd af moet die lammers elke dag in gewig toeneem. As dit nie gebeur nie, vind eierselvor­ming nie plaas nie, en is daar uiteindeli­k minder lammers. Calldo beaam dat ’n ondergewig-ooi nie reproduksi­e oor haar hele leeftyd gaan gee nie omdat sy te min lammers gaan kry.

Volgens hom is dit nie goed om die diere té vinnig té vroeg vet te maak nie. “Vet is vermorsing. Dink net hoeveel kos dit die boer. Ons moet weeg en meet om te kyk hoe die ooie groei.”

Baie boere is egter nie daarvoor te vinde nie. “Jy sal ’n boer kry wat sê sy oë is sy skaal. Hy is by sy werk, hy kan sien hoe en waar ’n dier gewig aansit. As dit so is, is dit goed, maar ons hedendaags­e boere het presiese gegewens nodig. As ek gewig meet, weet ek of my diere op die teikengewi­g of ondergewig is. Dan kan ek daarvoor kompenseer.”

BOER INTENSIEWE­R

Calldo is ’n voorstande­r van intensiewe lamstelsel­s, veral omdat boere soveel moeite doen om voor lamtyd reg te bestuur. “As jou goeie bestuur ’n klomp lammers by die ooie tot gevolg het, gaan daar baie lammers opdaag. As ons nie soveel moontlik lammers laat lewe nie, gaan ons somme nie klop nie. Om hulle almal te laat lewe, moet jy ’n stelsel hê wat dit moontlik maak om alle lammers te kry.”

Hy sê só ’n stelsel is nie verniet nie. Dit sal boere beloon. “As alle lammers lewe, gaan jy skatryk wees. Daar is egter min boere wat die ekstra tree wil gee om ’n omgewing te skep om al die lammers aan die lewe te hou.”

* Boere wie se ooie die beste in die evaluering in die verskillen­de kategorieë gevaar het, is mnre. Sinon en Lollie de Jager (beste wolgehalte), Pannie Fourie (wolvoortre­flikheid), Pieter Uys (bouvorm), en Uys Willemse (hoogste omset en hoogste gemiddelde daaglikse toename). Mnr. Uys Willemse was die algehele wenner, gevolg deur mnre. Danie en Pieter-Willem Gildenhuys en Kobus Human.

NAVRAE: Mnre. Giepie Calldo, 082 772 4541;

Kobus Human, 084 556 5607; Arno Steenkamp, 082 856 0429; Sinon de Jager, 082 411 5959.

 ??  ?? Boere van Heidelberg sê deelname aan die jong ooikudde-evaluering skerp hul kennis op en bied waardevoll­e raad in die droogte. Die boere, werkers en BKB-beamptes is, van links, mnre. Danie Gildenhuys, Kobus Human, Ian Fourie, Colin Kortje, Jannie Fourie (NWKV), Giepie Calldo en Pieter-Willem Gildenhuys.
Boere van Heidelberg sê deelname aan die jong ooikudde-evaluering skerp hul kennis op en bied waardevoll­e raad in die droogte. Die boere, werkers en BKB-beamptes is, van links, mnre. Danie Gildenhuys, Kobus Human, Ian Fourie, Colin Kortje, Jannie Fourie (NWKV), Giepie Calldo en Pieter-Willem Gildenhuys.
 ??  ?? Ooilammers moet van speentyd af elke dag in gewig toeneem, anders vind eierselvor­ming nie plaas nie.
Ooilammers moet van speentyd af elke dag in gewig toeneem, anders vind eierselvor­ming nie plaas nie.
 ??  ?? Mnre. Giepie Calldo (links) en Andries Lakay.
Mnre. Giepie Calldo (links) en Andries Lakay.
 ??  ?? Boere wie se ooie die beste in die evaluering gevaar het in die verskillen­de kategorieë, is van links, voor: mnre. Lollie en Sinon de Jager (beste wolgehalte), Kobus Human (algeheel derde), Kobus Louw (BKB se skaap-en-wolbeampte op Swellendam) en Pieter Uys (bouvorm); agter: mnre. Uys en Human Willemse (algehele wenners, hoogste omset en hoogste gemiddelde daaglikse toename), en Danie en Pieter-Willem Gildenhuys (algeheel tweede). Mnr. Pannie Fourie (wolvoortre­flikheid) was afwesig.
Boere wie se ooie die beste in die evaluering gevaar het in die verskillen­de kategorieë, is van links, voor: mnre. Lollie en Sinon de Jager (beste wolgehalte), Kobus Human (algeheel derde), Kobus Louw (BKB se skaap-en-wolbeampte op Swellendam) en Pieter Uys (bouvorm); agter: mnre. Uys en Human Willemse (algehele wenners, hoogste omset en hoogste gemiddelde daaglikse toename), en Danie en Pieter-Willem Gildenhuys (algeheel tweede). Mnr. Pannie Fourie (wolvoortre­flikheid) was afwesig.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa