Staat wil nou grond op veilings koop
DIE regering het hom voorgeneem om grond eerder op veilings aan te koop weens die vertraging in aankope vir grondhervorming wat die kantoor van die waardeerder-generaal meebring.
Die grondeisekommissie het vroeër gesê die tempo waarteen grondeise afgehandel word, het verlangsaam weens kapasiteitsprobleme in die kantoor van die waardeerder-generaal.
Dit beteken dat dié kantoor meer eise vir geldelike vergoeding as grond afhandel.
Die waardeerder-generaal bevestig kapasiteitstekorte in sy 2018-’19-jaarverslag, en dat daar
tot dusver grootliks op private waardeerders staatgemaak is. Die kantoor het slegs 25% van sy begroting van net meer as R141 miljoen bestee.
Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê in die verslag die tekorte het ’n nadelige uitwerking op die pas van restitusie en grondhervorming gehad.
Verder wys sy op “onenigheid onder sommiges in die beroep en grondeienaars oor die interpretasie van die mandaat en die
rol van die kantoor van die waardeerder-generaal”, en gee die versekering dat daar met die bedryf daaroor geskakel sal word.
VERTRAGINGS
Me. Rendani Sadiki, waarnemende direkteur-generaal vir grondhervorming en landelike ontwikkeling, het op ’n portefeuljekomiteevergadering gesê die grootste rede waarom die departement grond stadiger herverdeel as in 2011, is omdat die begroting vir grondaankope besnoei is so
dat die ondersteuningsprogram vir die ontwikkeling van grond toegepas kon word.
Sedert die ontstaan van die kantoor van die waardeerder-generaal in 2015 om grond te waardeer wat die staat aankoop, is die meeste van die waardasies afgekeur.
Dit het tot minder grondaankope gelei. “Boere het hul grond aan die mark onttrek wanneer die waardasies afgehandel is.”
Sadiki het aangedui die departement wil ’n ander roete volg om grondhervorming te bespoedig.
“Ons werk daaraan om grond deur veilings te bekom. Ons het ’n beleid gefinaliseer, maar daar is steeds kwessies. Dit raak byvoorbeeld wat met die waardeerder-generaal moet gebeur, want ’n mens moet dieselfde dag antwoord op ’n veiling; jy het nie die luukse van baie tyd nie.”
Die Wet op Eiendomswaardering (Wet 17 van 2014) skryf voor dat die waardeerder grond wat vir grondhervormingsdoeleindes gekoop word, moet waardeer.
Me. Nomfundo Gobodo, die
hoofgrondeisekommissaris, dui in die 2018-’19-jaarverslag van die grondeisekommissie aan dat die kommissie 100% van sy begroting van R2,69 miljard bestee het. Altesaam 501 eise is afgehandel, 995 eise is gefinaliseer en 140 projekte is goedgekeur om in fases afgehandel te word.
Die afgehandelde eise betrek altesaam 177 623 hektaar teen ’n koste van meer as R881 miljoen. Altesaam 37 902 mense het by die restitusieprogram baat gevind en meer as R1,7 miljard is uitbetaal
aan begunstigdes wat finansiële vergoeding geëis het.
Rakende grondherverdeling sê Didiza in die jaarverslag van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming die identifisering van begunstigdes en die toestaan van grond het onder die soeklig gekom. “Ons hersien die proses en sal verseker dat hierdie stelsels nie maklik omkoopbaar is nie.” Kommer oor die staat se belegging in agriparke sal ook aandag kry.