Hoe raak voorgeskrewe bates ons aftreefondse?
Die publiek vrees praatjies dat die regering sy hande op hul hardverdiende aftreegeld kan lê. Dink egter baie mooi voor jy jou aftreefonds kanselleer of jou geld onttrek.
Sedert die regerende party die moontlikheid van voorgeskrewe bates in sy verkiesingsmanifes genoem het, word baie vrae daaroor gevra. Die party se weersprekende uitsprake help ook nie om sekerheid te verskaf nie. Gevolglik wil talle beleggers nou hul uittree-annuïteite kanselleer, en diegene wat lid is van hul werkgewer se aftreefonds, wil bedank ten einde geld aan die fonds te onttrek.
Voorgeskrewe bates nie gelyk aan vat Voorgeskrewe bates beteken die regering kan ’n belegger dwing om in spesifieke bates te belê. Die verwagting is dat beleggers gedwing gaan word om hul geld aan die regering te leen of selfs aan staatsinstellings, soos Eskom en die SAL. Voorgeskrewe bates beteken nié die regering gaan nou ’n deel van jou pensioengeld vir hom vat nie. Omdat jy die geld aan die regering of ’n staatsinstelling leen, verdien jy rente as ’n opbrengs op jou geld. Hoewel die meeste staatsinstellings in groot moeilikheid is, is daar darem die verwagting dat die regering altyd sal instaan.
Die gevolge van voorgeskrewe bates
Die risiko bestaan dat die staatsinstellings aan wie jy jou geld leen, bankrot kan speel en jy jou geld verloor. Die staat lewer gewoonlik die waarborge. Die grootste bekommernis vir beleggers is egter dat die rente wat die geld sal verdien, minder is as wat die belegger op ’n ander plek sou kon verdien. Hoewel dit nie tans die geval is nie, behoort aandele op lang termyn baie beter opbrengste as ’n rentebelegging te lewer.
Die groter probleem is egter wat voorgeskrewe bates aan die ekonomie doen. Om Suid-Afrika se werkloosheidsprobleem op te los, benodig die land ’n hoër ekonomiese groeikoers. Dit word verkry deur hulpbronne, waaronder beleggings, meer optimaal aan te wend. Die oomblik dat jy voorskryf hoe hulpbronne aangewend moet word, voorkom jy daardie optimaliteit en daal die ekonomiese groeikoers.
Hoe minder geld ’n instelling in die hande kan kry, hoe hoër is die rentekoers wat hy moet betaal. Die hoër rentekoers vergoed dus vir die verhoogde risiko wat die maatskappy inhou. Met verpligte geld wat na staatsinstellings gaan, sal rentekoerse egter nie die werklike risiko in die lenings aandui nie. Dit beteken buitelanders wat nie verplig is om geld aan dié staatsinstellings te leen nie, sal hul geld onttrek en nóg meer van Suid-Afrika se eie geld daarin belê moet word.
Daar is ook die risiko dat ’n instelling wat gewaarborg is dat hy geld in die hande sal kan kry ongeag hoe goed hy bestuur word, nie die moeite sal doen om sy bestuur en prosesse te verbeter nie. Só word optimaliteit in die ekonomie verder verswak. Terwyl die regerende party aanvoer dat die verlaging in rente wat voorgeskrewe bates bied, tot meer geld sal lei wat die regering elders kan aanwend, sal die nadelige impak op die ekonomie veel groter as dié voordeel wees.
Moet ek my aftreefondse stopsit of my geld onttrek?
Terwyl dit duidelik is dat die toepassing van voorgeskrewe bates gekeer moet word, beteken dit nie mense moet nou hul aftreegeld oorboord gooi nie. Uit die regering se dokumente is dit duidelik dat hy nie net aftreefondse in die oog het nie. Hy wil voorgeskrewe bates op alle beleggings instel. Jy kan dus ’n reusebelastingrekening kry deur jou geld te onttrek, net om dan in elk geval onderworpe te wees aan voorgeskrewe bepalings op ander beleggings wat jy wil maak.
Voorgeskrewe bates het ’n nadelige uitwerking op die ekonomie in sy geheel. Dus word die opbrengs op ander beleggings ook benadeel. Daarteenoor het jy steeds die belastingaftrekbaarheid van bydraes tot aftreefondse en die feit dat die opbrengs in die fondse nie belasbaar is nie. Om dus nou jou aftreefonds stop te sit of jou geld te onttrek, is die swakste besluit wat jy kan neem.
Adv. Ronald King is hoof van strategiese navorsing by PSG.