Agritechnica: Room van die tegnologie-oes
In ’n eksklusiewe voorskou bekyk dr. Jan C. Greyling die wenners van vanjaar se Agritechnica in Duitsland, die grootste landbouskou ter wêreld.
Met Agritechnica om die draai kon vervaardigers weer om die innovasietoekennings meeding. Die wenners is pas aangekondig. Vanjaar het maatskappye nie minder nie as 291 nuwe produkte in 11 kategorieë ingeskryf. Slegs John Deere kon met ’n gesogte goue medalje wegstap.
Om daarvoor in aanmerking te kom moes hy bewys dat die produk ’n nuwe konsep en proses daarstel, of ’n bestaande proses beduidend verbeter. Van ’n silwermedaljewenner word verwag om ’n bestaande proses te verbeter, en 39 produkte kon dit losslaan.
GOUE LOUERE
Oneindig varieerbare hidroulies-meganiese ratkaste in trekkers word reeds langer as 20 jaar suksesvol gebruik. Die benutting van kragopwekkers op trekkers en elektriese aandrywing van werktuie is egter nog in die eksperimentele fase.
Met John Deere se eAutoPower e8WD-ratkas word hierdie tegnologieë gekombineer deurdat dit die hidrouliese motor in die ratkas met twee elektriese motors vervang om sodoende die eerste elektries-meganiese trekkerratkas daar te stel. Nie net word die motors vir ’n doeltreffender aandrywing van die trekker gebruik nie, maar kan hulle ook 100 kW elektriese krag vir aandrywing van werktuie, en dies meer, lewer.
John Deere het met Joskin saamgespan om die gebruik van hierdie tegnologie te demonstreer deurdat sy misstrooier se asse deur elektriese motors aangedryf word met elektrisiteit vanaf die trekker. Nie net verbeter dit brandstofverbruik deur laer wielglip nie, maar die werktuig volg ook die trekker beter teen hellings.
KYK MA, GEEN STUURWIEL NIE
Fendt het in 2017 opslae gemaak met die bekendstelling van sy nuwe reeks IDEAL-stropers wat totaal van nuuts af ontwerp is. Met sy nuwe IDEALdrive-stelsel, ’n silwermedaljewenner, doen hy heeltemal weg met ’n stuurwiel en -kolom om onversperde sig oor die hele tafel te verseker.
Met hierdie stelsel word die linkerkantse armleuning met ’n stuurstok toegerus om die stroper te stuur. Die stuurstok verseker veilige beheer oor die stroper selfs teen 40 km/h omdat die gevoeligheid daarvan na gelang van die spoed aangepas word.
GROTER PLANTPRESISIE
Optimale plantdiepte is van die uiterste belang wanneer dit by sukses in rygewasse kom. Tans verstel operateurs plantdiepte met die hand na gelang van verskillende grondtipes en vogtoestande. Precision Planting neem egter die raaiwerk weg met sy SmartDepth-stelsel deurdat die operateur nie net die minimum en maksimum plantdiepte vanuit die kajuit kan spesifiseer nie, maar ook die minimum voginhoud van die grond in hierdie band kan spesifiseer.
Namate die planter oor die land beweeg, meet die planter die voginhoud van die grond op verskillende dieptes en pas die plantdiepte elektries aan om te verseker dat die sade binne die optimale diepte en vogtoestande geplaas word.
LOS SLIMMER SPORE
Die plant van rygewasse in treinspore en spoorverkeer is niks nuuts vir Suid-Afrikaanse boere nie, maar vir Europeërs is dit beslis ’n nuwigheid. Väderstad se WideLining-stelsel voer dinge egter ’n stap verder deurdat die planter op voorafbepaalde intervalle outomaties die rye agter die trekker hidroulies wegskuif om twee spore van 105 cm te laat.
Op ’n 75 cm-planter het dit die gevolg dat die bane aan weerskante van die trekker en die twee bane onder die trekker teen 60 cm gespasieer is. Met die treinspoorkonfigurasie kan trekkers steeds groter bande gebruik, maar word die “treinspore” net waar nodig gelaat en nie ten koste van die gemiddelde stand per hektaar nie.
FYN GESNY
Europese boere moet vindingryke oplossings vir stronkboorders vind omdat hulle nie geneties gemodifiseerde BT-mieliesaad mag gebruik nie. Een oplossing is om die stoppels heeltemal te vernietig en dit is presies wat Geringhoff Horizon Star III se lemmielietafel doen.
Hierdie tafels is soos gewoonlik met twee stelle rollers toegerus om die stokke deur te trek, maar het ook ’n bossiekapper wat die stoppels kerf. Om te verseker dat die tafel die grondoppervlak so na as moontlik volg, skarnier die tafel in die middel sodat die twee seksies met sensors teen die grondoppervlak gehou kan word.
Dr. Jan C. Greyling is ’n boer, navorser, landbou-ekonoom en dosent aan die Universiteit Stellenbosch. Sy tesis het gehandel oor die produksie en produktiwiteit van mielieverbouing in Suid-Afrika en die invloed wat veranderende landboubeleid in die twintigste eeu daarop gehad het, met spesifieke verwysing na die ruimtelike implikasies.