Landbouweekblad

VEEDIEWE VERMINK STOETBUL VAN R1 MILJOEN

- — ANNEMARIE VAN BURICK

DIE eienaar van die Boranstoet­bul wat onlangs van kant gemaak moes word nadat veediewe die dier vermink het, sê dit is die twaalfde bees die afgelope jaar wat hy op só ’n wrede manier verloor het.

Mnr. Ockert Werner van die Boranstoet­ery Model by Brits in Noordwes het die bul, Mr Million, in 2011 op die jaarlikse nasionale Boranveili­ng op Parys teen die SA rekordprys van R1 miljoen van mnr. Steven Johnson se stoetery, Frontier Borans by Fort Beaufort in die Oos-Kaap, gekoop. “Mr Million is as ’n embrio van Kenia, waar die Boran oorspronkl­ik vandaan kom, ingevoer en in ’n draerkoei ingeplant,” sê Werner.

Veediewe het op 27 September in die vroeë oggendure toegeslaan en koeie in die trop geslag. Hulle het Mr Million se hakskeense­nings afgekap en gevlug toe die nagwag op hulle afkom.

“Dit is die vierde dier in September. Ons hele omgewing loop kort-kort deur onder hierdie booswigte se wrede hande. Ons het wagte op al ons plase, maar selfs dit skrik hulle nie af nie. In ons omgewing word duisende rande maandeliks bestee om die omgewing te probeer beveilig.”

GEWOOND

Nog geen verdagtes is aangekeer nie. Werner sê die polisie raak waarskynli­k gewoond aan die soort misdaad en sien nie die erns van die saak nie. Hy gebruik tans private sekuriteit met die hoop op inhegtenis­nemings. “Al wat ek dink wat gaan help, is as ons hele land vir al hierdie booswigte bid en vra dat God hul harte sal aanraak en verander.”

Mr Million was 13 jaar oud. Werner sê hy was bekend en gewild onder telers, waarskynli­k oor die duur prys wat betaal is en die skaars teelmateri­aal waaruit hy geteel is. Werner self het sowat 800 nasate van Mr Million geteel deur embriospoe­lings.

“Ek meen die bul het sy kant gebring in die Boranbedry­f. Ek het darem nog heelwat van sy bevrore semen. Wat vir my sleg is, is dat ek oorweeg het om vir hom ’n aftreekamp­ie langs my huis te bou waar hy sou kon loop totdat hy van ouderdom doodgaan. Dit is aanvaarbaa­r om van enige dier afskeid te neem as dit deur natuurlike oorsake is. Maar dit is hartseer om ’n bul waarmee jy agt jaar lank ’n hegte verhouding gehad het, op só ’n wrede manier te verloor.”

Werner boer al sedert 2007 met die ras. Daardie jaar het hy sy eerste Boranbul vir gebruik in sy kommersiël­e kudde gekoop. Daar was só ’n verbeterin­g in sy kudde dat hy besluit het om ’n Boranstoet­ery te vestig. Hy het in 2010 sowat 100 stoet-Borane gekoop. Vandag het hy ’n stoetery van sowat duisend Borane.

‘Dit is hartseer om ’n bul waarmee jy agt jaar lank ’n hegte verhouding gehad het, op só ’n wrede manier te verloor.’

 ?? FOTO: VERSKAF ?? Die bul Mr Million.
FOTO: VERSKAF Die bul Mr Million.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa