Meevaller van miljoene euro op pad na swart drankbedryf
DIESELFDE mense moenie oor en oor gehelp word nie, maar dit is belangrik om nuwe swart toetreders tot die wynbedryf te ondersteun en jong mense by te staan sodat hulle in dié rigting kan studeer.
Só meen me. Carmen Stevens, een van Suid-Afrika se eerste swart wynmakers, oor die vooruitsig van €15 miljoen (sowat R245 miljoen) wat die Europese Unie (EU) gaan gee om wyn- en spiritualieëhandelsmerke van swart boere te ondersteun.
Volgens mnr. Rico Basson, uitvoerende hoof van VinPro, spruit dit uit ’n ooreenkoms in 2002 waarvolgens Suid-Afrika sekere geografiese aanduiders, onder meer die gebruik van die woord port, opgeoffer het. Die geld staan sedertdien bekend as “port- en sjerriegeld”.
Mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, het onlangs doMnr. kumentasie by die parlement ingedien waarin die Europese Kommissie namens die EU onderneem om die geld te voorsien vir ’n ondersteuningsprogram om die wyn- en spiritualieëbedryf in Suid-Afrika te transformeer. Die Land Bank en die Landboubemarkingsraad sal die geld bestuur.
Basson sê dis geoormerk vir infrastruktuurontwikkeling, soos die oprigting van kelders, wingerde en damme, asook bemarking, soos bedryfskapitaal en die stig van nuwe handelsmerke.
KRITERIA
“Ek is baie hoopvol dat die eerste geld vroeg volgende jaar uitbetaal kan word, maar ons kyk saam met die nasionale departement van landbou na ’n klomp opsies en kriteria hoe dit aangewend moet word,” sê Basson.
Luidens die dokument wat tans by die parlement lê, is dit moeilik vir voorheen benadeelde mense om vooruitgang te maak in die wynbedryf, berig Fin24.
“Die maatskaplike patologieë, soos swak gesondheid en alkoholmisbruik, swak behuising, werkloosheid en minderwaardige leeftoestande van werkers, ongeletterdheid en ’n tekort aan gespesialiseerde vaardighede, is steeds algemeen.”
Volgens Stevens hoor hulle al ’n paar jaar lank van die geld.
“Die geld is beslis nodig, want ons het swart deelname nodig in die wynbedryf. Transformasie in die wynbedryf gebeur verskriklik stadig.
“Daar is tans iets soos 77 handelsmerke in swart besit, maar dis net handelsmerke, en nie mense wat kelders of wingerde besit nie. Hulle koop wyn aan, sit etikette op die bottels en verkoop dit teen baie klein marges. Volgens my is dit nie transformasie nie,” sê Stevens.
Sy het die hoop uitgespreek dat die geld reg aangewend word sodat dit ’n verskil maak vir almal in die wynwaardeketting, van plaaswerkers tot wynverkopers.