Agoa hersien: Uitvoerders raak onrustig
’n Hele paar landboubedrywe, veral die makadamiabedryf, benut die tariefvoordele wat Amerika aan Suid-Afrika bied om daarheen uit te voer. Die geskiktheid van Suid-Afrika om dié voordele te geniet, word nou in hersiening geneem.
Amerika het onlangs amptelik bevestig hy gaan Suid-Afrika se geskiktheid vir voordele onder die Generalised System of Preferences (GSP) heroorweeg. Indien Suid-Afrika dié voordele verloor, sal die land outomaties ook sy voordele ingevolge die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) verloor. Die landboubedryf benut veral laasgenoemde se voordele.
Mnr. Eckart Naumann, onafhanklike ekonoom en assosiaat van die Stellenbosse handelsregsentrum Tralac, sê 70% van Suid-Afrika se landbou-uitvoer na Amerika het in 2018 Agoa-voordele benut en 5% GSP-voordele.
Die res van die landbou-uitvoer het nie op die spesiale voordele aanspraak gemaak nie, maar Naumann sê daar is produkte wat Amerika in elk geval tariefvry kan binnekom. “Die landbousektor benut Agoa en GSP tot baie groter mate as wat dit in die algehele uitvoer die geval is.
“In 2018 is slegs 18% van die land se totale uitvoer na Amerika volgens Agoa-voordele uitgevoer en 10% volgens GSP-voordele.”
Naumann verduidelik GSP is ’n program van voorkeurtariewe wat Amerika bied aan ontwikkelende en minder ontwikkelde lande reg oor die wêreld wat daarvoor in aanmerking kom. Agoa neem dit ’n stappie verder en bied bykomende voordele aan Afrikalande suid van die Sahara wat daarvoor in aanmerking kom. Dié twee stelsels se kriteria vir lande om as geskik geag te word, stem tot ’n groot mate ooreen.
Volgens Naumann gebeur dit taamlik gereeld dat lande se geskiktheid vir GSP of Agoa hersien word.
In 2015 wou die Amerikaanse pluimveebedryf keer dat Suid-Afrika steeds Agoa-voordele geniet omdat Suid-Afrika hoë teenstortingstariewe op Amerikaanse hoenderstukke aan die been het.
Weens die groot voordele wat verskeie ander Suid-Afrikaanse uitvoerbedrywe, soos die motorbedryf, ingevolge Agoa het, was die Suid-Afrikaanse hoendervleisbedryf genoodsaak om ’n toegewing te maak dat ’n kwota Amerikaanse hoenderstukke aan die been sonder die teenstortingstarief voortaan toegelaat word.
Suid-Afrika se wysigingswetsontwerp oor kopiereg, wat aan pres. Cyril Ramaphosa vir ondertekening voorgelê is, is die jongste rede vir die hersiening van die land se geskiktheid vir GSP-voordele.
SITUASIE IN ANDER LANDE
Die International Intellectual Property Alliance (IIPA) het vroeër vanjaar, ná die
Amerikaanse handelskommissie se gereelde uitnodiging om kommentaar en insette as deel van die GSP-hersieningsproses, ’n klagte hieroor tot die Amerikaanse regering gerig. Dit het aanleiding gegee tot die hersiening van Suid-Afrika se geskiktheid.
Naumann sê die IIPA is een van die bedrywigste organisasies wat die beskikbare middele rakende ander lande en hul voorkeurtoegang tot Amerika gebruik.
Die organisasie het onder meer in 2013 ’n soortgelyke versoek oor Oezbekistan gerig.
“Dié hersiening is eers einde Oktober vanjaar afgehandel, sonder dat die land sy GSP-voorkeure verloor het.
“’n Soortgelyke versoek is oor die Oekraïne gerig. Hoewel dié land se GSP-voordele ’n ruk later opgehef is, is sommige heringestel nadat die land sy wetgewing oor intellektuele eiendomsreg verander het.
“Nóg ’n versoek is oor Indonesië gerig. Dié ondersoek is nog aan die gang.”
Amerika het ook onlangs aangekondig dat Kameroen se Agoa-voordele op 1 Januarie 2020 opgeskort word weens menseregtevergrype in dié land.
Volgens Naumann strook die IIPA-versoeke en hersienings van lande se geskiktheid met die huidige Amerikaanse regering se algemene inslag om ’n fermer houding in te neem waar Amerika nie-wederkerige handelsvoordele aan ander lande bied.
MEDEDINGENDHEID
Naumann sê ’n verlies aan GSP- en Agoavoordele sal produkte wat met dié voordele na Amerika uitgevoer word, raak ten opsigte van marktoegang en mededingendheid.
Dit sal sekere sektore en ondernemings beduidend raak, maar sal nie noodwendig
tot ’n staking van alle handel lei nie.
“Produkte met klein invoertariewe sal dalk die tariewe kan absorbeer.”
Die uitwerking van ’n verlies van die voordele sal dus afhang van hoe groot die betrokke voordeel se marge is, maar ook hoe mededingend die betrokke Suid-Afrikaanse bedryf is en hoe uniek hy die Amerikaanse mark kan bedien. “Hoewel die gemiddelde Amerikaanse invoertarief betreklik laag is, is daar onder die duisende tarieflyne baie wat besonder hoog is en waar voorkeurtoegang regtig saak maak.”
STERK GROEI BY MAKADAMIAS
Gesamentlike landbou-uitvoer met Agoaen GSP-voordele het van $270 miljoen in 2017 tot $295 miljoen in 2018 gestyg, en van $199 miljoen in die eerste nege maande van 2018 tot $217 miljoen in die eerste nege maande van vanjaar, wat ’n styging van 9% is. (Sien die KASSIE hieronder vir die top-Agoa-uitvoerprodukte.)
“Die uitvoer van makadamianeute na Amerika het die afgelope paar jaar sterk gegroei. In 2018 was 87% van die uitgevoerde neute makadamias.
“In 2014 was die waarde van makadamianeute wat met Agoa uitgevoer is, $32 miljoen. In 2018 het dit $67 miljoen beloop. Van Januarie tot September vanjaar was dit reeds $74 miljoen, en daar word dus ’n groot styging vir 2019 verwag.”
Wat sitrus betref, was daar van Januarie tot September vanjaar ’n 40%-styging in die uitvoer van pomelo’s met Agoa-voordele, vergeleke met die eerste nege maande van verlede jaar. Dié uitvoer het van 2015 tot 2016 ook baie gestyg, terwyl dit van 2016 tot 2018 bestendig gebly het.
Die uitvoer van mandaryne was in Januarie tot September byna 70% hoër as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Die waarde van die vars lemoene wat met Agoa-voordele uitgevoer is, was in 2018 op $43 miljoen 15% hoër as in 2017. In Januarie tot September vanjaar, wat as die einde van die seisoen beskou kan word, is 43% minder egter uitgevoer, vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
MARKAANDEEL IN WEEGSKAAL
Mnr. Pieter van der Westhuizen, voorsitter van die makadamiahanteerdersforum, sê as Suid-Afrika sy Agoa-voordele verloor, sal dit beslis ’n uitwerking op die makadamiabedryf se mededingendheid op die Amerikaanse mark hê.
“Makadamiaproduksie groei baie vinnig in talle lande reg oor die wêreld en as daar alternatiewe beskikbaar is, sal Suid-Afrika beslis van sy markaandeel verloor.”
Mnr. Alex Whyte, ondervoorsitter, sê: “’n Verlies van die voordele sal waarskynlik tot ’n verlaging in die plaashekprys van makadamias aan boere lei.”
Volgens Whyte het die Suid-Afrikaanse bedryf tans ’n derde van die markaandeel van ingevoerde makadamias in Amerika.Van die 12 000 ton makadamianeute wat Amerika jaarliks invoer, kom sowat 4 000 ton van Suid-Afrika, 3 500 ton van Kenia en 1 500 ton van Australië.
Van der Westhuizen sê daar is talle nuwe makadamia-aanplantings in Suid-Afrika wat nou in produksie kom. Ondanks die droogte kan die land in die vraag na makadamias in Amerika voorsien.
Suid-Afrika is volgens Whyte ’n baie belangrike verskaffer. Indien die land sy Agoa-voordele verloor, kan dit gebeur dat Amerika dié invoer probeer vervang met invoer uit ander lande met tariefvoordele, soos Kenia, Malawi en Guatemala.
Van der Westhuizen sê die stygende Amerikaanse invoer van makadamias is te danke aan dié land se groeiende bakbedryf. “Makadamianeute het ’n gesogte bestanddeel geword.” Die mark vir peuselhappies het ook sterk gegroei. Volgens Whyte spits moderne verbruikers hulle toe op gesonde eetgewoontes en peuselhappies.
Neute: $76 miljoen (R1,1 miljard)
Sitrus: $66 miljoen (R966 miljoen) Wyn: $43 miljoen (R629 miljoen) Druiwe (meestal rosyntjies):
$20 miljoen (R293 miljoen) Vrugtesappe: $16 miljoen (R234 miljoen) Etielalkohol: $14 miljoen (R205 miljoen) Suiker: $13 miljoen (R190 miljoen) Besoek die webwerf AGOA.info vir nog inligting oor Agoa.
“Makadamias is ook onlangs weer op belangrike kleinhandelaars se raklyste geplaas, wat die vraag daarna laat toeneem het.”
Volgens Van der Westhuizen voer die Suid-Afrikaanse bedryf die meeste van sy makadamias na Europa en Amerika uit, met wie hy goeie handelsvoorwaardes het.
Whyte sê indien Suid-Afrika sy Agoa-voordele verloor, sal die bedryf sy verkope waarskynlik na ander groot markte soos Europa en China probeer verskuif. Dié streke kan egter net tot ’n punt bykomende hoeveelhede absorbeer.
VOORDELE VIR SITRUS
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Sitruskwekersvereniging, sê Agoa bied uit twee oogpunte voordele.
“Dit bied ’n platform vir dialoog met Amerika en dit maak tariefvrye toegang moontlik.
“’n Verlies aan tariefvrye voordele sal ’n uitwerking op mededingendheid hê, maar dit sal nie beteken dat Suid-Afrika onmededingend is nie. Die gehalte van Suid-Afrikaanse sitrus sal dit altyd aanloklik maak vir Amerikaanse kopers.”
Volgens Chadwick sou ’n swak rand opbrengste kon verbeter, maar dit laat ook koste styg wat in Amerikaanse dollar bepaal word. Dit sluit verskepingskoste in, wat ’n groot kostefaktor is. “Om op wisselkoersskommelinge staat te maak, is nie ’n goeie groeistrategie nie.”
BELANGRIK VIR WESEN NOORD-KAAP
Suid-Afrikaanse sitrus word slegs van die Wes- en Noord-Kaap af na Amerika uitgevoer. Die Amerikaanse mark is dus vir dié twee provinsies baie belangrik.
Vir die bedryf as geheel verteenwoordig uitvoer na Amerika en Kanada gesamentlik egter slegs sowat 5%.
Chadwick sê die klimaatstoestande in die Wes- en Noord-Kaap sou ’n rol gespeel het in die daling in uitvoer die afgelope tyd. “Die styging in die uitvoer van nartjies is danksy die groter erkenning van die beter gehalte van Suid-Afrikaanse laat-nartjies.”
Suid-Afrika se grootste mededingers op die Amerikaanse mark vir sitrus is Chili, gevolg deur Peru en Uruquay.
Mnr. John Edmonds, inligtingsbestuurder van die Sitruskwekersvereniging, sê Suid-Afrika oorheers die Amerikaanse mark vir pomelo’s en lemoene, en Chili en Peru die mark vir sagtesitrus.
Chili oorheers suurlemoenuitvoer na Amerika, maar kry toenemende mededinging van Argentinië. Dit is omdat Argentinië twee jaar gelede ná ’n lang verbod weer marktoegang verkry het.