Droogtehulp kort nuwe benadering
DROOGTEHULP moet verander word om ook hulp aan vrugteen volstruisboere in te sluit, het mnr. Laubscher Coetzee, voorsitter van die Volmoed-boerevereniging, op die vereniging se maandvergadering op Oudtshoorn in die Wes-Kaap gesê.
In dié stadium is die persepsie van droogtehulp die uitdeel van voer aan veeboere.
“Suid-Afrika het nie net veeboere nie, maar nét veeboere kry droogtehulp. Boere in die vrugtegebiede kry swaar. Hul bome vrek en omdat hulle nie genoeg water het nie, duur dit langer voordat jong bome in produksie kom.”
Droogtehulp van die staat is boonop nie in verhouding tot die omvang van die probleem nie.
“Ons sal vinnig en met innoverende idees moet besin oor droogtehulp. Sekere werklikhede sal verreken moet word, soos dat ons al hoe meer op mekaar aangewese sal wees. Ons moet ook erken dat sekere gebiede nie meer geskik sal wees vir boerderypraktyke soos dit tans daar toegepas word nie.”
Vrugteboere onderhou baie gesinne. Coetzee meen hulle behoort hulp te kry om hul werkers se lone te betaal en sodoende op hul plase te bly.
LEER BY AUSTRALIË
Hy glo Suid-Afrika kan baie by droogtehulp in Australië leer. In dié land kry boere hulp om lone te betaal en die regering gee geldelike ondersteuning aan plattelandse kinders. Boere kan rentevrye lenings kry of, ná ’n deeglike ondersoek na die langtermynvolhoubaarheid van hul boerdery, gehelp word om op te hou boer.
Coetzee beywer hom vir droogtehulp aan volstruisboere, wat in dié stadium nie vir hulp in aanmerking kom nie omdat volstruise as wild geklassifiseer word.
Dit is die vierde jaar van uiterste droogte op Oudtshoorn en omstreke. Coetzee het gesê hul lusernlande lyk net soos die pad langs die lande. Dit alles het ’n invloed op hul kontantvloei. “Ons weet nie waarheen die droogte ons gaan lei nie, wat ons moet doen en wanneer en waar dit gaan eindig nie.”
Coetzee het ’n beroep op skenkers gedoen om net deur erkende platforms, soos Agri SA se droogterampfonds, te werk sodat dit geoudit kan word.
“Ons kan nie verder toelaat dat individue hulself verryk deur op ons boere te trap wat reeds lê nie. Ons kan net donateurs se vertroue wen en behou as ons deursigtig optree.”