Wengeld net so in ander se opleiding gestort
Sy het ’n plaas en neutonderneming tot een van die grootstes ter wêreld opgebou. Me. Jill Whyte het besluit sy skenk haar prysgeld vir ’n groot eerbewys vir die opleiding van ander om onontginde landboupotensiaal te ontsluit.
Toe me. Jill Whyte van die Green Farms Nut Company by Witrivier onlangs aangewys is as Mpumalanga se Vroue-uitvoerder van die Jaar, het sy daar en dan besluit om die prysgeld van R150 000 vir landbouopleiding te skenk. Dat sy gewen en dadelik besluit het wat om met haar prysgeld te doen, het niemand verbaas nie. Dís hoe die Laeveld se mense vir Whyte ken: ’n Raakvatvrou wat op haar voete dink.
Sy is immers die matriarg wat Green Farms saam met haar man, Alan, opgebou het tot een van die grootste verwerkers en uitvoerders van makadamianeute in Suid-Afrika. Saam met hul Australiese vennote in Green & Gold Macadamias is hulle ook die wêreld se grootste verskaffer van makadamianeute.
Hoe het jy by die landbou en spesifiek die uitvoerbedryf betrokke geraak?
My familie het etlike geslagte lank met beeste geboer, eers in Skotland en later op Bandolierskop, naby die Soutpansberg in Limpopo.
Ek het aan Rhodes-universiteit gestudeer en toe in die advertensiebedryf gewerk, eers in Johannesburg en daarna vir ’n klompie jare in Londen voordat ek met Alan getroud is. Hy het op ’n avokado- en makadamiaplaas geboer en ons was later in ’n posisie om die plaas te koop. Ons het hard saamgewerk om ons besigheid op te bou.
Produseer en voer julle dus meer uit as makadamianeute?
Ons is betrokke by die uitvoer van pekanneute, makadamias en avokado’s.
Green Farms is so ’n groot belanghebbende in die makadamiabedryf. Kan jy vir ons ’n paar interessante syfers gee?
Ons teenwoordigheid in al die gebiede in Suid-Afrika waar makadamias verbou word, en ons internasionale bemarkingsvennootskap met Green & Gold Macadamias plaas ons aan die voorpunt van die makadamiabedryf. Saam is ons die grootste verskaffer van uitgedopte makadamianeute ter wêreld. Plaaslik verwerk Green Farms Nut Company sowat 26% van die Suid-Afrikaanse makadamiabedryf se neute. Die meeste hiervan word uitgedop. Net 15% word in die dop aan die Chinese mark verskaf.
Waar is jul grootste en belangrikste uitvoermarkte in die wêreld?
Makadamianeute word wêreldwyd op elke vasteland en in elke streek bemark. Ons voer ons avokado’s na Brittanje en Europese Unie uit. Pekanword tans hoofsaaklik die Verre-Ooste verkoop, ons beoog om die beverder internasiouit te brei.
Hoe het dit gekom dat jy vir die Vroue-uitvoerder van die Jaar-kompetisie ingeskryf het?
Me. Lindi Ngcobo van die departement van landbou het my herhaaldelik gevra om in te skryf. Dit was die eerste keer dat ek toe vir die kompetisie ingeskryf het.
Mpumalanga is ’n baie mededingende provinsie met ’n groot verskeidenheid produkte wat landbou-uitvoer betref. Weet jy wat jou mededingers doen?
Die deursettingsvermoë en harde werk van so baie vroue wat fantastiese dinge met weinig hulpbronne regkry, het ’n mens nogal klein laat voel.
Het jy vooraf besluit om, indien jy sou wen, die prysgeld te skenk, of was dit ’n impulsiewe besluit?
Dit is ’n gegewe dat die prysgeld in die toekoms van die landbou belê moes word en ek het gevoel opleiding is die sleutel tot die toekoms van die sektor. Ek glo die landbousektor is sentraal tot die oplossing van die armoedeprobleem in Suid-Afrika. Daar is nie ’n tekort aan grond nie, maar wel aan finansiering en vaardighede. Die langtermyngroei en volhoubaarheid van die sektor gaan
afhang van die mate waartoe vaardighede uitgebrei kan word. Daar is baie grond in Suid-Afrika wat onderbenut word weens ’n gebrek aan kennis en geld. Wie is die begunstigdes van jou skenking?
’n Gedeelte daarvan gaan aan Agricolleges International se beursfonds, Educate to Grow. Nog ’n gedeelte sal aan ’n ander landbou-opleidingsinstelling in Mpumalanga geskenk word, en ’n deel sal beskikbaar wees vir die onderrig van kinders van die personeel van Green Farms Nut Company. Ek hoop ons kan soveel verdienstelike mense as moontlik met die skenking bereik. Dink jy vroue speel ’n groot genoeg rol in die Suid-Afrikaanse landbou en hoe sien jy die toekoms van vroue in die bedryf?
Soos met baie bedrywe speel vroue al baie jare lank ’n rol agter die skerms in die landbou. Dit het egter tyd geword dat vroue selfvertroue kry en die ruimte gegun word om hul volle potensiaal te bereik.
Oor die jare het daar baie struikelblokke oor my pad gekom, maar ek was ook gelukkig om wonderlike mense te ontmoet wat my ondersteun en aangemoedig het. Hulle het my gehelp om die selfvertroue te bou wat my in staat gestel het om kalm en gefokus te bly, en om elke keer te doen wat ek geglo het die regte en beste besluit vir die bedryf was. Wat sou jy as die eienskappe uitsonder wat die meeste tot jou sukses bydra?
Eerlikheid. Daarby glo ek jy moet by gesonde sakebeginsels hou. Hoe sien jy die toekoms van die makadamiabedryf? Hoe beoog julle om toegang tot nuwe markte te kry in die lig van internasionale makadamiaproduksie wat na verwagting oor die volgende vyf jaar gaan verdubbel?
Ons het beslis die mees vernuwende en proaktiewe bemarkingspan in die bedryf. Ons doen baanbrekerswerk met etlike opwindende nuwe produkte. Daar is groot onontginde potensiaal vir die bestanddelemark, asook die plantgebaseerde proteïenmark. Ons is egter bekommerd dat die Suid-Afrikaanse bedryf té veel klem lê op die Chinese mark vir neute in die dop. Watter raad het jy vir jong en opkomende boere wat tot die varsprodukte-uitvoerbedryf wil toetree?
Boer nét met dit wat geskik is vir jou omgewing wat die grondtipe en klimaat betref.
Kweek die beste gehalteprodukte wat jy kan en mik na die hoogste moontlike opbrengs. As jy dit kan regkry, sal jy winsgewend bly, selfs wanneer marginale boerderye geld verloor.