‘Reddingsboei’ in landbou val
’N MAN watd uisende boere in die vorige bedeling van ondergang help red het en wat homself as ’n “professiostaatsa mptehet, nele naar” beskryf is op 27 Oktober vanjaar oorlede.
Mnr. Hans van der Merwe, voormalige uitvoerende direkteur van Agri SA wat jare lank saam met mnr. Hendrik Frederik (Kosie) van Zyl (89), gewerk het, het aan Landbouweekblad gesê oom Kosie was ’n beskeie en onbaatsugtige mens met ’n oneindige liefde vir die landbou en vir boere.
“Hy het altyd met ’n onblusbare geesdrif help soek na blywende oplossings. As ’n mens die gesegde ‘ ’n boer maak ’n plan’ kan gebruik, was oom Kosie voorwaar ’n staatsamptenaar wat ’n werkbare plan kon beraam. Sy verbasende werkywer het groot struikelblokke uit die weg geruim en puik resultate opgelewer.”
LANDBOUKREDIETRAAD
Van Zyl is in 1991 aangestel as voorsitter van een van die magtigste staatsinstellings om boere op hul grond te hou, naamlik die Landboukredietraad.
Vanaf 1990 tot 1992 het hy, met die hulp van verskeie belanghebbendes, ’n finansiële hulppakket deurgevoer vir boere wat weens droogtes deur bankrotskap in die gesig gestaar is.
Hoewel dié hulppakket van sowat R3,8 miljard destyds heelwat wenkbroue laat lig het, het dit tog gekeer dat sowat 3 000 van die boere in die somersaaigebiede hul plase verloor. In 1998 is die raad deur mnr. Derek Hanekom, destyds minister van landbou, ontbind. Van Zyl was oortuig die raad is om die verkeerde rede ontbind en dat dit talle opkomende swart boere ontsê het van die besondere finansiële bystand wat talle blanke boere oor dekades heen geniet het.
ROEMRYKE LOOPBAAN
Van Zyl het in sy matriekjaar, net ná die Tweede Wêreldoorlog by die departement van landbou in Pretoria begin werk.
Hy het langer as vier dekades by die departement gewerk en is in 1958 verplaas nadat die departement in twee verdeel is, naamlik landboutegniese dienste en die landbou-ekonomiese afdeling.
Dit was ook die begin van ’n tydperk van 15 jaar dat hy saam met die parlementêre “sirkus” tussen Pretoria en Kaapstad sou pendel. Dít was die begin van sy amper 30 jaar betrokkenheid met die ministerie van landbou. Daar het hy die volle impak en verandering in die politieke geskiedenis en in die landbou eerstehands beleef.
Hy is in 1965 aangestel as die departement se parlementêre beampte gemoeid met algemene en wetsadministrasie en die skryf van konsepwetgewing. Wetgewing waaruit hy groot bevrediging gekry het, was onder meer die wette op dieresiektes, grondbewaring en op die onderverdeling van landbougrond.
Daarby was hy outomaties die sekretaris van ’n magdom ministeriële komitees wat gestrek het van droogte tot sprinkane.
In 1972 het wyle minister Dirk Uys vir Van Zyl gesê hy het hom aan wyle mnr. Owen Horwood, die destydse minister van finansies, “verkoop”. Van Zyl, in daardie stadium ’n assistent-direkteur, moes ’n aanvanklike ondersoek saam met die tesourie doen na ’n nuwe finansiële stelsel.
Hy is aangestel as die projekleier van ’n gesamentlike span van die departement van landbou en van gesondheid om die ontwikkeling en inwerkingstelling van ’n finansiële stelsel, oftewel die doelwitbegrotingstelsel, op die been te bring.
Dit is op 1 April 1975 by dié departemente ingevoer en later uitgebrei na alle staatsdepartemente, wat dit in 2009 steeds gebruik het.
Van Zyl is in 1980 as adjunk-direkteur: landbou-administrasie en in 1981 as direkteur: landbou-tegniese administrasie in beheer van die departement van landbou en watervoorsiening se begroting aangestel.
UIT SY PEN
In 1990 en 1991 het hy die konsepwetgewing vir die te stigte Landbounavorsingsraad (LNR) geskryf. Hy was ook die voorsitter van ’n taakgroep vir die daarstelling van die LNR, as instelling soortgelyk aan dié in ander lande.
Van Zyl het verskeie departementele en interdepartementele verslae oor ’n breë spektrum van landbouverwante sake geskryf.
Hy het ook verskeie artikels gepubliseer en referate gelewer oor onder meer landboukrediet en -finansiering, ramprisikobestuur en grondhervorming.
Maar dit is die meer as 100 konsepwetgewings en konsepwetwysigings wat ’n mens behoorlik na jou asem laat snak.
Vanaf 2000 het hy talle konsepwette geskryf, soos vir die koöperasiewese, landbou-opvoeding en -opleiding, voedselsekerheid, die finansiering van landbou-ontwikkeling en rampbestuur, landbouversekering, landbou- en plattelandse gemeenskappe én vir die ontwikkeling van entrepreneurs.
Ander konsepstrategieë en beleidsdokumente uit sy pen, is die nasionale droogtestrategie en die rampbestuursplan.
Hy was medeskrywer van verskeie dokumente oor onder meer swart ekonomiese bemagtiging in die landbou, asook oor omvattende landbou-ondersteuning.
‘AFTREDE’
Hy het in 1998 afgetree en vir hom en sy vrou, Heila, en twee kinders, David en Anneleen, ’n huis in Centurion laat bou. Maar dié merkwaardige man het egter nooit in 1998 afgetree nie.
Sedert 2000 was Van Zyl ’n raadgewer by die departement van landbou, hy het ’n kantoor by Agri SA beman – vir wie hy ’n rampen risikoplan geskryf het met geld wat deur Total SA beskikbaar gestel is – en ander instellings, soos die Vereniging vir Handelsbanke.
Hy het dié instellings met raad bedien oor ’n groot verskeidenheid landbou-onderwerpe, wat hy uiteraard soos die palm van sy hand geken het. Van Zyl was voorsitter of lid van meer as 27 komitees, taakgroepe en rade. As deeltyds gesekondeerde amptenaar aan die departement van buitelandse sake het hy ook verskeie Afrikalande besoek en samewerkingsprojekte op landbougebied gevestig.
Hy het in 2009 aan Landbouweekblad gesê hy “hoop nie die Liewe Vader is té haastig om my te kom haal nie, want ek het nog heelwat dinge om hier op aarde af te handel”.
Van Zyl laat Heila, sy kinders en vyf kleinkinders, Dylan, Danielle, L’ri, Andri en JP, agter.
Oom Kosie se afsterwe laat die landbou heelwat armer. Sy voetspoor lê wyd en Landbouweekblad eer sy nagedagtenis namens alle boere van Suid-Afrika. – Red. BRON: Profiel-artikel: “Hef aan lê voor op 78”, LBW, 20 Oktober 2009.