BEDRYF SPRING IN EN MAAK WERK VAN NASPEURBAARHEID
’N VRYWILLIGE naspeurbaarheidstelsel vir beeste moet onmiddellik in Suid-Afrika in werking gestel word.
Dié besluit is op ’n onlangse werksessie van die organisasie vir opkomende rooivleisprodusente (Nerpo), die SA voerkraalvereniging (Sava), die Melkprodusente-organisasie (MPO), die SA Vereniging van Lewendehawe-afslaers, die Rooivleisabattoirvereniging (RVAV) en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) geneem.
Daar is besluit dat die huidige private diensverskaffers in die beesbedryf aangemoedig sal word om naspeurbaarheidstelsels op grondvlak te vestig.
Die betrokke ses organisasies sal ’n maatskappy saamstel om finansiering te bekom vir die daarstelling van ’n kantoor wat die stelsel sal bestuur en ’n sentrale databasis sal ontwikkel. Die maatskappy sal op sy beurt kriteria saamstel waaraan private diensverskaffers moet voldoen om ’n beesnaspeurbaarheidstelsel te vestig, ’n databasis te standaardiseer en ’n nommeren/of plaatjiestelsel te ontwikkel.
SAMEWERKING
Daar word voorsien dat die naspeurbaarheidstelsel uiteindelik deur Lits SA (nasionale vee-identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel) en die internasionale komitee vir die rekordhouding van diere (ICAR) geakkrediteer sal word.
Verder is ooreengekom dat die stelsel vryemark-gedrewe sal wees en private diensverskaffers moet voldoen aan die vereistes soos vasgestel deur ’n uitvoeringsgesag.
Daar sal van private diensverskaffers verwag word om mettertyd die gestandaardiseerde, geakkrediteerde plaatjies te bekom. ’n Klein bydrae behoort aan die uitvoeringsgesag oorbetaal te word om die bedryfskoste van die stelsel te delg.
Die afgevaardigdes op die werksessie was dit eens dat skakeling tussen die uitvoeringsgesag en Lits SA uiters belangrik is.
Die naspeurbaarheidstelsel sal aanvanklik op die beesbedryf klem lê, waarna dit ook na die kleinveebedryf uitgebrei sal word.
UITBREKINGS SAAI VERWOESTING
Tydens die werksessie het mnr. Koos van der Ryst, voorsitter van die nasionale RPO, daarop gewys dat die behoefte aan ’n bees-naspeurbaarheidstelsel wat deur Lits SA geakkrediteer is, sedert 2019 baie belangrik is.
Die jongste uitbrekings van bek-en-klouseer het verwoesting in die veebedryf gesaai. Die eerste uitbreking het die land se grense gesluit vir die uitvoer van vleis en tot ’n daling in plaaslike rooivleispryse gelei vanweë die groot plaaslike voorraad. Die pryse van wol, sybokhaar, huide en velle is ook benadeel. Die uitvoer van teelmateriaal is ook beëindig.
Die tweede uitbreking, wat baie ernstiger as die eerste was, het tot ’n verbod op veilings in aangrensende provinsies gelei en ’n week later is veilings in die res van die land verbied. Daar word bereken dat die uitbreking van bek-en-klouseer die landboubedryf ongeveer R10 miljard per jaar kan kos.
Volgens Van der Ryst is ’n bees-naspeurbaarheidstelsel dus nou onontbeerlik. Verskeie private landboumaatskappye verskaf vee-identifikasie en -bestuurstelsels. Tans is die probleem dat die huidige stelsels nie noodwendig die onderskeie belangegroepe met mekaar verbind nie. Die insameling en bestuur van inligting, asook die voldoening aan ’n Lits-stelsel is tans ook problematies.
Daarom is ’n Lits SA-stelsel as ’n spanpoging tussen die bedryf en die regering ontwikkel en in 2018 voltooi. Die oorkoepelende doelwit van Lits SA is om die inwerkingstelling van ’n internasionaal erkende naspeurbaarheidstelsel in Suid-Afrika te verseker. Dit moet ook aan die verskillende veebedrywe se internasionale standaarde voldoen.
Hoewel daar min fout gevind kan word met die Lits SA-beleidsdokument, is niks tot dusver in werking gestel nie.
Die RPO meen die regering behoort die bevoegde gesag in enige Lits-stelsel te wees. Dit is nou duidelik dat dié bedryf die uitvoeringsgesag behoort te wees, het Van der Ryst gesê.
VEREISTES
Mnr. James Faber, ondervoorsitter van die nasionale RPO, het gesê die stelsel moet prakties wees, veral omdat die bedryf deel is van ’n dualistiese bestel waaraan opkomende en kommersiële produsente moet deelneem. Verder moet die naspeurbaarheidstelsel gebruikersvriendelik en eenvoudig wees.
Bekostigbaarheid is ook ’n belangrike faktor, aangesien produsente tans onder finansiële druk verkeer vanweë die droogte, aanbodfaktore, lae ekonomiese groei, beleidonsekerheid en die koste verbonde aan uitvoermarkte. Kontantvloei in die beesbedryf is onder groot druk.
Die stelsel moet die vertroue van produsente geniet en die uitruil van inligting in ’n sentrale basis moet met hul goedkeuring geskied. Enige data op die stelsel behoort die eiendom van die deelnemer te bly.
Verder moet dit as ’n vrywillige stelsel begin en later in ’n verpligte stelsel ontwikkel. Produsente behoort egter dié besluit te neem.
Nog ’n aanbeveling is dat die stelsel met betrokke wetgewing versoenbaar moet wees om ’n bydrae tot onder meer veediefstal en wetstoepassing te lewer, terwyl dit ook voorsiening moet maak vir ’n verandering in eienaarskap en beweging van diere.
Mnr. Aggrey Mahanjana, direkteur van Nerpo, het gesê ’n vee-identifikasie en -naspeurbaarheidstelsel kan nie langer as ’n vrywillige stelsel beskou word nie, maar moet ’n verpligte stelsel wees wat deur alle belanghebbendes in die bedryf verwelkom word. Verder behoort die hoofdoelwit nie meer te wees om toegang tot buitelandse markte te bekom nie, maar om Suid-Afrika se nasionale kudde teen besmetlike dieresiektes te beskerm.